SA gehaat na Lesotho inval

'n Tweede groep gewonde Suid-Afrikaanse soldate is gister met 'n helikopter uit Maseru na Bloemfontein gebring. Talle soldate van Suid-Afrika én Lesotho is reeds doodgeskiet.

Spesiale Verteenwoordigers

MASERU. Pleks van vrede het anargie, haat vir Suid-Afrika, dood en verwoesting gevolg op gister se ingryping deur 'n Suid- Afrikaanse ``vredesmag'' van 600 man onder die vaandel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap hier.

Teen gisteraand het minstens vyf Suid-Afrikaanse soldate, onder wie 'n Kapenaar, gesneuwel en is elf gewond in Operasie Boleas, wat volgens die Regering uitgevoer is omdat 'n staatsgreep in Lesotho gedreig het.

Die inval is veroordeel deur opposisiepartye in Suid-Afrika en in Lesotho. Die grondwetlikheid van die optrede is ook bevraagteken.

Onder die soldate wat gesterf het, was kapt. (dr.) Johan Nel (27) van Krugersdorp en sers. Jeremy Sax (25) van Kaapstad. Albei was lede van 7 Mediese Bataljongroep van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens.

Die Suid-Afrikaanse soldate het Lesotho gisteroggend vroeg binnegeval en onder meer die paleis van koning Letsie III beset. Die twee militêre basisse buite Maseru is ook beveilig. Suid-Afrikaanse soldate het die Katse Dam projek in Lesotho beset om burgerlikes, onder wie Suid- Afrikaners wat daar werk, te beskerm.

In reaksie op die ingryping is eiendom van Suid-Afrikaanse maatskappye in Maseru en staatsgeboue aan die brand gesteek, voertuie gekaap en huise en sakeondernemings onder die oë van Suid-Afrikaanse soldate geplunder. Dreigemente is gemaak dat die geweld in Lesotho deur die sowat 80000 Sotho burgers wat in die Vrystaatse goudmyne werk, as wraak vir gister se aanval voorgesit moet word in Suid-Afrika.

``Van vandag af haat ons alle Suid- Afrikaners, selfs pres. Nelson Man dela,'' was die woorde van 'n man wat die gevoel oor die ingryping hier in die strate en by die koning se paleis opgesom het.

Die opposisieleiers van Lesotho het woedend gereageer, veral oor die besetting van die paleis. Hulle blameer nie die SAOG nie, maar pak die skuld vierkant op die skouers van Mandela. Mnr. Sydney Mufamadi, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, het gisteraand gesê 'n staatsgreep het die militêre ingryping genoodsaak. Drosters was in beheer van die leër en hulle het geweier om opdragte van die regerende Lesotho Kongres vir Demokrasie te aanvaar. Dit het daartoe gelei dat die premier, mnr. Pakalitha Mosisili, vir die ingryping van SAOG soldate van Suid-Afrika en Botswana gevra het, het hy gesê.

Ná die inval is op Alouette helikopters van die Suid-Afrikaanse Lugmag geskiet. Uit die helikopters is teruggeskiet op muiters by die militêre basis Makonyane buite Maseru. 'n Oryx helikopter wat deur geweervuur beskadig is, moes na Ladybrand terugkeer. `Wou muiters ontwapen'

Volgens die SANW was die optrede van die taakmag daarop gemik om muiters in die Lesotho weermag te ontwapen en beslag te lê op ammunisie wat in die basisse geberg word. Die muiters was klaarblyklik gereed om die tussenkoms van die taakmag teen te staan en het sterk weerstand gebied. Hulle is deur die taakmag oorweldig.

Sowat 200 soldate van die Botswana weermag het hulle gister by die taakmag van die SANW aangesluit. Lesotho word sedert begin Augustus deur onstabiliteit en wanorde verlam nadat opposisiepartye beweer het daar was ongerymdhede in die verkiesing van 23 Mei.

Ingryping moet vrede herstel, sê Buthelezi; nog 'n foto bl.2.

Met inval in Lesotho steek SA dalk kop in 'n byenes bl.15.

Neil de Klerk

sterfgevalle soldate