Afrikaans se môre is bruin
2013-03-23 23:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Afrikaans word nou oorwegend deur bruin mense gepraat en húlle is die toekoms van Afrikaans.
Dit is die bevinding van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).
Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV, het in reaksie op die jongste statistieke gesê bruin mense se bydrae tot die taal is ’n onontginde goudmyn.
Sowat 76% van bruin huishoudings beskou Afrikaans as hul huistaal.
Hierteenoor is dit 61% van wit Suid-Afrikaners se huistaal, gevolg deur 4,6% Indiër- en 1,5% swart mense.
Dit blyk die getal Afrikaanssprekers gaan ook aansienlik toeneem.
Luidens vooruitskattings sal daar teen 2025 tot 5,1 miljoen bruin mense wees (daar is tans 4,6 miljoen), terwyl die getal wit mense sal krimp van die huidige 4,5 miljoen tot 4 miljoen.
Maar volgens Titus is die mense en maatskappye wat geld maak uit Afrikaans nié bruin nie. Hy het gesê bruin mense moet geleenthede benut en instellings moet ook kennis neem van die statistieke.
“Bruin Afrikaanssprekendes het ’n beduidende bydrae in die toekoms van Afrikaans. Op die oomblik lyk dit net asof ons die getalle opstoot, tog is ons leefwêreld, ons daaglikse menswees of ons herkomste heeltemal onbekend aan baie van ons mede-Afrikaanse landgenote.”
Frans Cronjé, uitvoerende adjunkhoof van die SAIRV, sê die instituut se statistieke bevestig dat bruin mense die toekoms van Afrikaans is.
“Wit Afrikaanses verengels al hoe meer en stuur hul kinders na Engelse skole.
“As sommige groepe ook net van die Afrikanernasionalisme kan wegbeweeg, kan ’n groter doel in die bevordering van Afrikaans bereik word.”
Dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, sê ter wille van die groter prentjie moet ook genoem word dat baie bruin mense ook húl kinders na Engelse skole stuur, “dikwels tot nadeel van die kind”.
Volgens Le Cordeur spruit bruin mense se apatiese houding jeens Afrikaans daaruit dat hul waardes en kultuur in die verlede misken is. Hy sê die toekoms van Afrikaans is “in ons eie hande, maar dan sal ons as bruin mense moet opstaan vir ons taal en ons regte”.
Prof. Leon de Stadler van die Taalsentrum by die Universiteit van Stellenbosch sê Afrikaans se toekoms is in alle Afrikaanssprekendes se hande, maar “die feit dat die groei in bevolkingsyfers aan die kant van bruin Afrikaanssprekendes lê, het die onus laat verskuif”.