Londen oorrompel deur SA se modes

Mandy Rossouw
Londen. – Met ’n halwe ton bagasie het vyf Suid-Afrikaanse ontwerpers vandeesweek op die Britse hoofstad toegesak om hul stempel by die Londense modeweek af te druk.
Die ontwerpers Asanda Madyibi van Sun Goddess, Gideon, Amanda Laird Cher­ry, Karen Termorshuizen van Lunar en Bongiwe Walaza het ’n uitsonderlike uitnodiging van die Britse moderaad ontvang om hul klere hier uit te stal.
“Die Britse ontwerpers het niks daarvan gehou nie,” sê mnr. Adam Levin, wat die Suid-Afrikaners se toetrede tot die modeweek gekoördineer het. “Hulle het ons ontwerpers wat as ’n groep saam uitstal as ’n vreeslike bedreiging gesien, maar die moderaad het vir ons baklei en volgehou ons moet kom.”
Nou kan niemand genoeg van hulle kry nie.
Bestellings van regoor die wêreld stroom in en Londenaars vergaap hulle aan die kleurvolle uitrustings in ongewone materiale in die uitstalling Unthreaded.
Levin het die somerversamelings van tien van Suid-Afrika se voorste ontwerpers aan die raad voorgelê. Vyf is gekies. “Hulle het ’n groep gekies wat waarlik rassekwessies transendeer. Net die beste is gekies, so die groep is verteenwoordigend van Suid-Afrika, gegrond suiwer op meriete.”
Tydens ’n fotosessie in die rykmanswoonbuurt Kensington het verbygangers oor hul voete geval om die Namibies-gebore model Nancy Shemelela die klere te sien vertoon.
Levin het vertel van die geskarrel om genoeg geld te kry om die groep in Londen te kry. Die hotelgroep Sun International het verblyf aangebied, maar toe kom die volgende hekkie: Hoe om alles in Londen te kry?
Die Qatar-lugdiens is oortuig om 500 kg ekstra bagasie kosteloos te vervoer.
Nóg ’n uitdaging vir Suid-Afrikaanse ontwerpers is om genoeg goeie materiaal te kry om die klere te vervaardig, vertel Levin.
Daar­om gebruik hulle plaaslik vervaardigde materiaal soos shweshwe, ’n dik, growwe materiaal waarmee baadjies gemaak word, en eyabantu wat nou ook die internasionale modebedryf se oë laat rek. “Mense het altyd gedink oorsese klere is beter, maar nou besef hulle goeie en duur­same klere kan ook in Suid-Afrika gemaak word en sien die gehalte wat ons het om te bied,” het Termorshuizen van Lunar gesê.