Britse Ryk
Die voormalige Britse Ryk (Engels: British Empire) was die grootste koloniale ryk in die geskiedenis met 'n groot aantal kroonkolonies, kolonies, dominiums en protektorate op elke vasteland. Aan die begin van die 20ste eeu het Groot-Brittanje meer as twee vyfdes van die wêreld se landoppervlakte oorheers, waaronder die twee destydse kolonies en twee Boererepublieke van Suid-Afrika, met 'n bevolking van sowat 458 miljoen of 'n kwart van die destydse wêreldbevolking. Die feit dat Engels nog steeds die belangrikste internasionale verkeerstaal is, het onder meer te make met die groot rol wat Brittanje in die moderne geskiedenis gespeel het.
Die term "British Empire" is deur John Dee ingevoer, die astroloog, alchemis en wiskundige van koningin Elisabeth I.
Kenmerke[wysig]
Ondanks sy groot oppervlakte en bevolking het die Britse Ryk met Groot-Brittanje as sy moederland net oor 'n relatief klein geografiese en bevolkingsbasis beskik wat ver van sy oorsese besittings geleë was.[1] Nogtans het hierdie klein eilandnasie in die weste van Europa in die laat 18de eeu tot die wêreld se leidende handels- en nywerheidsland asook die grootste seemoondheid ontwikkel.
Die Britse heerskappy het, net soos in die geval van ander koloniale moondhede, op militêre onderwerping en onderdrukking asook samewerking met plaaslike heersers gebaseer, maar was in vergelyking met ander Europese bewindhebbers in 'n mate liberaal. Die Britte het hulle tot die beginsels van vryheid en demokrasie verbind, iets wat hul onderdane in die tweede helfte van die 20ste eeu dan ook opgeëis het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Groot-Brittanje nie meer oor die finansiële middele en die wil beskik om 'n wêreldryk te regeer nie sodat die meeste oorsese besittings hul onafhanklikheid in 'n meer of min vreedsame proses verwerf het.
Verwysings[wysig]
- ↑ Piers Brendon: The Decline and Fall of the British Empire. Londen: Jonathan Cape/Random House Books. eBoek-/Kindle-uitgawe, pos. 326
Koloniale ryke | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
|