Gustav II Adolf

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek

Gustav II of Sweden.jpg

Gustav II Adolf

Koning van Swede


Handtekening
Gustav II Adolf autograph.png


Monogram

Royal Monogram of King Gustaf II of Sweden.svg

Dinastie

Arms of the House of Vasa.svg

Huis Wasa


Regeer

30 Oktober 1611 - 6 November 1632


Voorganger

Karel IX



Opvolger

Kristina


Eggenote

Maria Eleonora van Brandenburg

Gustav II Adolf (* 9 Desember 1594 in Stockholm, † 6 November 1632 naby Lützen, Duitsland), het tussen 1611 en 1632 as koning van Swede geregeer. Hy word as die stigter van die Sweedse Ryk beskou wat tydens die sogenaamde Stormaktstiden of Goue Tydperk danksy Gustav II Adolf se politieke vernuf en militêre bekwaamheid tot 'n Europese grootmoondheid ontwikkel het.

Gustav II Adolf het van Swede tydens die Dertigjarige Oorlog die voorste militêre mag in Europa gemaak en sodoende beslissende invloed by die balansering van die politieke en godsdienstige ewewig op die vasteland uitgeoefen. Hy word steeds as een van die grootste militêre bevelvoerders ooit beskou. Hy het sy belangrikste oorwinning in die Slag by Breitenfeld in 1631 behaal.

Danksy sy blink oorlogsmasjinerie met gesofistikeerde wapentuig, die uitstekende militêre opleiding van sy soldate en doeltreffende veldartillerie, wat deur 'n hoogs bekwame regering in sy tuisland en die stiptelike betaling van fakture gerugsteun is, was Gustav II Adolf een van Europa se beduidendste heersers. Met sy ontydige afsterwe in die Slag by Lützen het sy regentskap tot 'n skielike einde gekom. Axel Oxenstierna (1583-1654), sy bekwame rykskanselier, het hom as politieke leier van Swede opgevolg. Hertog Bernhard von Sachsen-Weimar en Gustaf Karlsson Horn, graaf van Björneborg, het as opperbevelhebbers van die Sweedse magte gefungeer.