Verenigde Koninkryk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Hierdie artikel handel oor die land in Europa. Vir die eiland, sien gerus Groot-Brittanje, en vir ander gelyknamige state, sien gerus Verenigde Koninkryk (dubbelsinnig).
United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland
Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland
Vlag van die Verenigde Koninkryk Wapen van die Verenigde Koninkryk
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Dieu et mon droit
(Frans vir: "God en my reg")
Volkslied: God Save the Queen
Ligging van die Verenigde Koninkryk
Hoofstad Londen
Grootste stad Londen
Amptelike tale Engels1
Regering Unitêre parlementêre
konstitusionele monargie
Elizabeth II
David Cameron
Onafhanklikheid

1 Mei 1707
(Acts of Union 1707)
1 Januarie 1801
(Act of Union 1800)
12 April 1922
(Anglo-Ierse Verdrag)
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
243 610 km2  (80ste)
94 060 myl2
1,34
Bevolking
 - Junie 2014-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
64 596 800[1] (22ste)
63 181 775[2]
265,2 / km2 (51ste)
686,8 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$2 378 miljard[3] (8ste)
$37 299[3] (21ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$2 490 miljard[3] (6de)
$39 049[3] (24ste)

MOI (2013) Green Arrow Up Darker.svg 0,875[4] (26ste)  –  baie hoog
Gini (2011) 33[5] –  medium
Geldeenheid Pond sterling (£)
Tydsone
 - Somertyd
GMT (UTC±0)
BST (UTC+1)
Internet-TLD .uk
Skakelkode +44
1. 'n Aantal ander tale wat amptelik as geldige outochthone streekstale onder die Europese Verdrag vir Streeks- of Minderheidstale. In elk hiervan is die VK se amptelike naam:
  • Iers: Ríocht Aontaithe na Breataine Móire agus Thuaisceart Éireann
  • Kornies: Rywvaneth Unys Breten Veur ha Kledhbarth Iwerdhon
  • Skots: Unitit Kinrick o Great Breetain an Northren Irland
    • Ulster-Skots: Claught Kängrick o Docht Brätain an Norlin Airlann of Unitet Kängdom o Great Brittain an Norlin Airlann
  • Skots-Gaelies: Rìoghachd Aonaichte na Breatainne Mòire is Èireann a Tuath
  • Wallies: Teyrnas Unedig Prydain Fawr a Gogledd Iwerddon
Die Koninklike Leuse in Skotland is Nemo Me Impune Lacessit (Latyn: "No-one harms me with impunity").
Nie-Amptelik.
Amptelik erkende streekstale:
in Wallis: Wallies; en in Skotland: Skots-Gaelies sedert 2004 Wet.
Gevorm as Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland. Naam het verander na Die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland in 1927.
Amptelike skatting vesrkaf deur die VK Office for National Statistics.
ISO 3166-1 is GB, maar .gb word nie gebruik nie

Die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland (Engels: United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland) is die grootste eilandnasie in Europa wat uit die vier lande Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland bestaan, dikwels ook kort Verenigde Koninkryk (United Kingdom, kort UK, VK) of Brittanje genoem. Dit is noordwes van die Europese vasteland op die hoofeiland Groot-Brittanje geleë en beslaan daarnaas ook sowat 'n sesde van sy westelike buureiland Ierland (Noord-Ierland). Die staatsgebied word omring deur die Noordsee, die Engelse Kanaal en die Atlantiese Oseaan. As gevolg van sy koloniale verlede is daar nog steeds talle kleiner oorsese besittings.

Die historiese oorspronge van die Verenigde Koninkryk strek terug tot in die tydperk van die Angel-Saksiese koning Athelstan wat in die vroeë 10de eeu n.C. oorheersende invloed oor aangrensende Keltiese koninkryke begin uitoefen het. In die volgende eeue het ook verder af geleë koninkryke deur militêre verowering onder Engelse gesag gekom.

Wallis, 'n losse verbond van Keltiese koninkryke in die suidweste van Groot-Brittanje, is deur die sogenaamde Uniewette (Acts of Union) van 1536 en 1542 formeel met Engeland verenig. Skotland, wat al sedert 1603 deur 'n Engelse monarg geregeer is, is in 1707 formeel met Engeland en Wallis verenig om die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje te vorm. Vanaf hierdie tydperk is na die verskillende volke binne die Verenigde Koninkryk as Britte verwys.

Ierland het vanaf die 17de eeu geleidelik onder Engelse gesag gekom en is in 1800 volgens die Uniewet (Act of Union) formeel met Groot-Brittanje verenig. Die grootste deel van Ierland, 'n merendeels Rooms-Katolieke land, het in 1922 sy onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verwerf, maar ses van die historiese provinsie Ulster se nege graafskappe met 'n oorwegend Protestantse bevolking het as Noord-Ierland deel van die Verenigde Koninkryk gebly.

Betrekkinge tussen die vier landsdele van die Verenigde Koninkryk is verskeie kere deur politieke, ekonomiese en kulturele spanninge vertroebel. So het die regerende party in Skotland, die Skotse Nasionale Party, laat in 2014 'n vergeefse poging onderneem om Skotse onafhanklikheid deur middel van 'n referendum te bewerkstellig. Die Britse regering het politieke ontevredenheid met die tendensieel sentralistiese regeringstelsel in die laat 20ste eeu deur die skepping van streeksparlemente met sekere bevoeghede in Noord-Ierland, Skotland en Wallis probeer teenwerk.

Britse entrepreneurs, tegnici en wetenskaplikes het beslissende bydraes tot die wêreldekonomie en tegnologiese vooruitgang gemaak. So was die Verenigde Koninkryk die eerste land ter wêreld wat die nywerheidsomwenteling ondergaan het. In die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog het die land sy internasionale invloed veral op kulturele gebied laat geld, waaronder literatuur, toneelkuns, film en televisie en popmusiek. Die lang lys van suksesvolle uitvoere sluit die Engelse taal in wat vandag orals op aarde as die leidende medium en lingua franca van ekonomie, wetenskap, kuns en kultuur gebesig word.

Van die Verenigde Koninkryk se huidige totale bevolking van 64,6 miljoen is die oorgrote meerderheid (sowat 54,3 miljoen of 84 persent) in Engeland saamgetrek. Die bevolking van Wallis word op 3,1 miljoen beraam (vyf persent van die VK se totale bevolking), dié van Skotland op 5,3 miljoen (agt persent) en dié van Noord-Ierland op 1,8 miljoen (drie persent). Die gemiddelde bevolkingsdigtheid vir die hele Koninkryk is 265 inwoners per km2.

Die Verenigde Koninkryk is 'n stigterslid van die Britse Statebond, die NAVO en die Verenigde Nasies en sedert 1 Januarie 1973 'n lidland van die Europese Unie.

Naam[wysig | wysig bron]

Die volledige amptelike naam is "Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland". Die term "Groot-Brittanje" word dikwels gebruik om na die Verenigde Koninkryk te verwys, alhoewel Groot-Brittanje streng gesproke net uit Engeland, Skotland en Wallis bestaan en dus na die grootste van die Britse Eilande verwys.

Die voorsetsel "Groot" is aan die Franse taal ontleen, wat 'n onderskeiding maak tussen die Franse gewes Bretagne en Grande Bretagne ("Groot-Brittanje"). Die Latynse naam Britannia het sy historiese oorsprong in die Keltiese woord Brith, wat letterlik "bont" of "gevlek" beteken.

Die land se naam in die skryfwyses van die amptelik erkende tale is:

  • Engels: United Kingdom of Great Britain and Northern Ireland
  • Iers: Ríocht Aontaithe na Breataine Móire agus Thuaisceart Éireann
  • Kornies: Rywvaneth Unys Breten Veur ha Kledhbarth Iwerdhon
  • Skots: Unitit Kinrick o Great Breetain an Northren Irland
    • Ulster-Skots: Claught Kängrick o Docht Brätain an Norlin Airlann of Unitet Kängdom o Great Brittain an Norlin Airlann
  • Skots-Gaelies: Rìoghachd Aonaichte na Breatainne Mòire is Èireann a Tuath
  • Wallies: Teyrnas Unedig Prydain Fawr a Gogledd Iwerddon

Geografie[wysig | wysig bron]

Kaart van die Verenigde Koninkryk

Die Verenigde Koninkryk bestaan uit die hoofeiland Groot-Brittanje, sowat 'n sesde van die eiland Ierland en 'n aantal eilandgroepe met meer as 1 000 kleiner eilande. Die belangrikste eilandgroepe is Shetland en Orkney in die Noordsee noord van Skotland, die Buite- en Binne-Hebride in die Atlantiese Oseaan wes van Skotland, Anglesey in die Ierse See wes van Wallis, die Scilly-eilande in die Keltiese See suid-wes van Engeland en die Eiland Wight (Isle of Wight) in die Engelse Kanaal voor die Engelse suidkus.

Die Verenigde Koninkryk se enigste landgrens met 'n lengte van 360 kilometer loop in die noorde van die eiland Ierland. Alhoewel hulle Britse Kroongebiede is, maak die eiland Man in die Ierse See en die Kanaaleilande in die Engelse Kanaal voor die noordkus van Frankryk nie deel uit van die Verenigde Koninkryk nie.

Klimaat[wysig | wysig bron]

Die Atlantiese Oseaan oefen 'n wesentlike invloed op die weerstoestande op die Britse Eilande uit sodat die Verenigde Koninkryk 'n vogtige en warm-gematigde klimaat het. Koueperiodes in die wintermaande of hittegolwe in die somer kom selde voor. Die sterk maritieme invloede op die Britse klimaat kan hoofsaaklik aan drie faktore toegeskryf word:

  • die land se ligging tussen die 50ste en 59ste noordelike breedtegrade (behalwe vir die Shetland-eilande wat tot by die 61ste breedtegraad strek) sodat die Verenigde Koninkryk dwarsdeur die jaar aan oorwegend westelike winde blootgestel word wat weerstoestande met gematigde siklone oorheers;
  • die landskapsvorme van die westelike kusstreke met diep baaie waardeur ook binnelandse gebiede aan maritieme invloede blootgestel word;
  • en die matigende invloed van die Golfstroom waaraan veral die westelike kusgebiede hul sagte winters te danke het. So daal die kwik in Penzance, Cornwall selfs in Februarie, die koudste wintermaand, nie laer as 7 °C nie.

Die kusgebiede van Oos-Engeland is eweneens aan die Noordsee se maritieme invloede onderworpe, al is dit weens die heersende westelike winde tot 'n mindere mate en word hierdie invloede in die binneland hoegenaamd nie meer waargeneem nie.

Politiek[wysig | wysig bron]

Konstitusionele bedeling[wysig | wysig bron]

Koningin Elizabeth II is die staatshoof van die Verenigde Koninkryk

Die Verenigde Koninkryk (VK) is 'n parlementêre demokrasie met 'n konstitusionele erflike monargie en 'n kabinetsregering wat aan die parlement verantwoordelik is. Dikwels word na die land as die "bakermat van moderne demokrasie" verwys, maar desondanks beskik die VK nie oor 'n skriftelike gekodifiseerde grondwet nie. In plaas daarvan berus die Britse grondwetlike regstelsel op vier elemente:

  • parlamentswette wat grondwetlike status geniet en hulle oorsprong in die Magna Carta van voor 1215 het en waardeur in 'n lang historiese proses belangrike demokratiese instellings soos onafhanklike regters, die parlement (met sy bevoegdhede ten opsigte van belasting en begroting), die vryheid van spraak en mening, die kabinet en die eerste minister as regeringsleier bevestig is;
  • regterlike uitsprake ten opsigte van grondwetlike kwessies wat steeds hersien word;
  • die gemenereg (Common Law) saam met die gekodifiseerde reg (Statute Law) en
  • nie-skriftelike konvensies en reëls wat die verhoudings en betrekkinge tussen staatsinstellings bepaal.
David Cameron (Konserwatiewe Party) is die huidige Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk

As gevolg van die Verenigde Koninkryk se lidmaatskap in die Europese Unie en die proses van Europese integrasie, wat daarmee gepaardgaan, en die toenemende regtelike verpligtings wat uit internasionale ooreenkomste voortspruit, het daar nogtans 'n soort konstitusionele reg ontwikkel waardeur die sowereiniteit van die Britse parlement in sekere opsigte beperk word.[6]

Die Britse Kroon het geen politieke mag nie. Sy politieke invloed is eerder op die simboliese vlak geleë waar die koning of koningin as staatshoof en eenheidsimbool stabiliteit en kontinuïteit aan die land bied, en - vanweë die grondwetlike status in die Gemenebes van Nasies - ook op diplomatieke vlak. Tot en met die huidige koningin Elizabeth II, wat in 1952 gekroon is, was daar sedert koningin Victoria se troonbestyging in 1837 net ses monarge (insluitende Edward VIII wat nooit amptelik gekroon is nie).

Die eerste minister het beslissende politieke invloed in sy kabinet en in sy party. Hierdie amp word sedert 11 Mei 2010 deur David Cameron, die leier van die Konserwatiewe Party, beklee nadat 'n koalisieregering van die Konserwatiewe en Liberaal-Demokratiese Party gevorm is. William Hague is as minister van buitelandse sake aangestel. Die kabinet het sowat twintig lede, maar as staatsministers en parlementêre staatssekretarisse ingereken word, bestaan die Britse regering uit altesaam sowat 100 politici wat almal lede van die parlement moet wees. Net sowat 'n vyfde van hulle is as Secretaries of State of Ministers lede van die kabinet. Die ander regeringslede beklee regeringsampte soos dié van staatsminister (Minister of State) of staatssekretaris (Junior Minister). Die grootste opposisieparty in die Britse Laerhuis vorm tradisioneel 'n sogenaamde skadukabinet.

Administrasie[wysig | wysig bron]

Vier deelstate[wysig | wysig bron]

Kaart wat die vier lande van die Verenigde Koninkryk vertoon

Die Verenigde Koninkryk word aministratief in vier landsdele verdeel:

  • Engeland met ses Metropolitan Counties (metropolitaanse graafskappe) en 39 graafskappe wat elk verder verdeel word in distrikte;
  • Wallis met agt graafskappe wat elk verder verdeel word in distrikte (in Engeland en Wallis is daar altesaam 369 distrikte);
  • Skotland met nege streke, 27 distrikte en drie eiland-owerhede (Island Authority Areas): Orkney, Shetland en Western Isles; en
  • Noord-Ierland met 26 distrikte.

Die Verenigde Koninkryk word tradisioneel as 'n sentralistiese eenheidsstaat geregeer en geadministreer. Volgens die nuwe beleid van devolusie of desentralisering is in verskillende mate administratiewe bevoegdhede aan die streekregerings en streekparlemente van Skotland, Wallis en Noord-Ierland oorgedra. Engeland beskik tans nie oor sy eie uitvoerende en wetgewende instellings nie.

Oorsese gebiede[wysig | wysig bron]

Ligging van die Britse oorsese gebiede

Die Verenigde Koninkryk se oorsese gebiede (British Overseas Territories) sluit Anguilla, Bermuda, die Brits-Antarktiese Gebied, die Britse Indiese Oseaangebied, die Britse Maagde-eilande, die Kaaimanseilande, die Falkland-eilande, Gibraltar, Montserrat, die Pitcairneilande, Sint Helena en afhanklike gebiede (Ascension, Tristan da Cunha), Suid-Georgië en die Suidelike Sandwicheilande, twee militêre basisse op die eiland Siprus (naby Akrotiri en Dhekelië) en die Turks- en Caicos-eilande in.

Hierdie gebiede maak almal deel uit van die Britse Gemenebes van Nasies (Commonwealth), maar nie van die Verenigde Koninkryk nie. Hulle is ondergeskik aan die Britse Kroon en beskik oor hul eie wetgewende, uitvoerende en regtelike gesag asook hul eie begroting en belastingstelsel.

Die Kanaaleilande, waaronder Jersey en Guernsey, en die eiland Man is sogenaamde Kroonbesittings (Crown Dependencies) en sodoende nie deel van die Verenigde Koninkryk nie.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Status[wysig | wysig bron]

Tekstielmasjiene in die Museum vir Wetenskap en Nywerhede in Manchester, Engeland. Die tekstielbedryf was een van die dryfkragte agter die 18de eeuse nywerheidsomwenteling

Die Britse ekonomie sluit die ekonomieë van die vier deelstate van die Verenigde Koninkryk (Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland) asook dié van die Kanaaleilande en die eiland Man in, alhoewel die twee laasgenoemdes oor aflandige bankbedrywe beskik.

Saam met ander lidstate van die Europese Unie (EU) maak die Verenigde Koninkryk deel uit van 'n gemeenskaplike mark waarin die vrye beweging van mense, goedere, dienste en kapitaal in wetgewing en internasionale ooreenkomste verskans word. Nogtans handhaaf die land, soos ander EU-lede, sy nasionale ekonomiese stelsel en bowendien - in teenstelling met die meeste ander EU-lidlande - ook sy eie nasionale geldeenheid, die Britse pond sterling.

In die 19de en vroeë 20ste eeu, toe die Britse Ryk sy hoogtepunt bereik het, was die Verenigde Koninkryk dekades die wêreld se grootste en invloedrykste ekonomie. As bakermat van die nywerheidsomwenteling - een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom - het die land in die 18de eeu tot die wêreld se eerste geïndustrialiseerde samelewing ontwikkel. 'n Reeks van tegnologiese uitvindings en deurbrake het aan die Verenigde Koninkryk dekades lank 'n ekonomiese voorsprong bo ander nasies besorg.

Vanaf die laat 19de eeu het die Verenigde State en die Duitse Ryk die Britse ekonomie se tegnologiese voorsprong geleidelik begin inhaal. Die ekonomiese en finansiële laste van twee wêreldoorloë het net soos die ontbinding van die Britse Ryk 'n swaar tol geëis. Ondanks voortgesette groei ná die Tweede Wêreldoorlog kon die land sy vroeëre status as leidende ekonomie ter wêreld nie meer herwin nie.

Volgens amptelike statistieke het die Verenigde Koninkryk in 2014 nogtans Frankryk verbygesteek om die vyfde grootste ekonomie ter wêreld te word - met 'n geskatte bruto nasionale produk (BNP) van £1,816 biljoen ($2,828 biljoen).[7] Nuwe ekonomiese ontledings het volgens die Centre for Economics and Business Research (CEBR) getoon dat die Britse ekonomie deur die finansiële krisis en Groot Resessie van 2008 minder geraak is as oorspronklik beraam is. 'n Tweede belangrike faktor was die insluiting van prostitusie en dwelmhandel volgens nuwe pan-Europese rekenkundige standaarde. Dié twee bedrywe het in 2013 respektiewelik £5,7 en £6,62 biljoen tot die Britse BNP bygedra. Frankryk het geweier om dié nuwe standaarde in sy berekeninge toe te pas omdat die Franse regering prostitusie en dwelmmisbruik nie as "vrywillige ekonomiese aktiwiteite" beskou nie.

Industrialisering en verstedeliking in Engeland[wysig | wysig bron]

Groot-Brittanje het oor beduidende steenkoolreserwes beskik, waarby die grootste steenkoolvelde aan weerskante van die Pennines-bergreeks (in Yorkshire, Lancashire, Northumberland en Durham), in die Midlands (in Derbyshire en Nottinghamshire) en in Suid-Wallis geleë was. Saam met Brittanje se tweede nywerheidskomponent, die land se groot ysterertsreserwes, het hierdie steenkoolvelde die basis vir die 18de eeuse nywerheidsomwenteling, industriële groei in die 19de eeu en die ingrypende landskapsveranderinge, wat daaraan verbonde was, gevorm.

Voorheen yl bevolkte streke het danksy die nywerheidsomwenteling tot demografiese sentrums ontwikkel, soos byvoorbeeld in Teesside waar Middlesbrough, 'n klein nedersetting met sowat 7 000 inwoners in 1851, met die ontginning van die Cleveland-ysterertsreserwes tot 'n belangrike nywerheidsentrum gegroei het. Klein dorpe met meule in Lancashire en Yorkshire het eweneens tot stedelike nedersettings gegroei, terwyl nedersettings in die West Midlands, wat tradisioneel op pottebakkery gesteun het, tot 'n industriële agglomerasie met Stoke-on-Trent as sy sentrum ontwikkel het.[8]

Alhoewel die steenkoolmynboustreke in die noorde die grootste bevolkingsgroei ervaar het, het naas Londen ook Engeland se ander seehawens, waaronder Liverpool en Bristol, danksy florerende uitvoermarkte vinnig begin uitbrei. Hierdie ontwikkelinge het gepaardgegaan met verbeterde kommunikasie en vervoergeriewe, waaronder die bou van 'n uitgestrekte netwerk van kanale en talle nuwe paaie. Omstreeks 1800 was drie kanale oor die Pennines-bergreeks in bedryf.

Die proses van verstedeliking het vanaf 1840 versnel sodat teen die einde van die eeu reeds sowat tagtig persent van Engeland se bevolking in stedelike nedersettings saamgetrek was. Die lewenskwaliteit van die bewoners is deur hul klas bepaal - werkers is meestal in krotbuurte gehuisves, terwyl die welvaart van sakemans en ander gekwalifiseerde professioneles deur hul Victoriaanse villas en woonstelle weerspieël is.

Hierdie groeifase het nog tot in die tyd van die Eerste Wêreldoorlog voortgeduur. In die 1930's was daar egter duidelike tekens van ekonomiese afswaai in die ou tradisionele mynbou- en nywerheidstreke waarvan baie, soos byvoorbeeld die steenkoolvelde van Northumberland, Durham, Wes-Cumberland en Suid-Wallis, deur hoë vlakke van werkloosheid geteister is. Hierdie gebiede het 'n ongekende ekonomiese agteruitgang beleef nadat hul steenkoolmyne óf uitgeput was óf hul steenkool nie meer winsgewend bemark kon word nie. Suid-Wallis, wat dekades lank sogenaamde stoomkool vir skepe verskaf het, is deur die oorskakeling na olie-enjins getref.

Die ekonomiese swaartepunt van die land het sedert die Eerste Wêreldoorlog na nuwe groeistreke soos Londen en die West Midlands verskuif. Hier het stede soos Coventry vinnige groei ervaar. Ekonomiese beplanning het voorsiening vir gesonde, maar gekontroleerde groei in gebiede soos dié van Cambridge en Oxford gemaak.

Die stadshorison van Birmingham in die West Midlands, die Verenigde Koninkryk se tweede grootste stad

Ontwikkeling vanaf die 1920's[wysig | wysig bron]

In die twintigerjare van die 20ste eeu het met die verval van die Britse Ryk 'n tydperk van ekonomiese agteruitgang begin, wat deur die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog, strukturele probleme en die volgehoue weiering om nouer ekonomiese bande met die ander Europese lande te soek, nog versterk is. Die in vergelyking met ander Wes-Europese ekonomieë oorgroot invloed van die Britse vakbonde en hoë inflasiekoerse was net twee van die land se vraagstukke teen die einde van die sewentigerjare. Die nuwe konserwatiewe regering onder die Eerste Minister Margaret Thatcher het in 1979 begin om sy neoliberale beleid van monetarisme, waarin die bestryding van inflasie, die beperking van die staat se invloed op die ekonomie en die privatisering van genasionaliseerde nywerhede sentraal gestaan het, as 'n soort skokterapie op die land se ekonomie toe te pas.

Vandag behoort die Verenigde Koninkryk weer tot die belangrikste en mees dinamiese ekonomieë ter wêreld. In die jaar 2003 is dit met buitelandse beleggings ter waarde van 672 miljard VSA-dollar die mees aantreklike land vir beleggers in Europa, nog voor Duitsland (545 miljard VSA-dollar) en Frankryk (433 miljard VSA-dollar).

Die ekonomiese groei word veral gesteun deur die vinnige ontwikkeling van die dienstesektor, met sowat een miljoen werknemers net in die finansiële dienstesektor. Die landbou, wat vroeër 'n relatief groot rol gespeel het, genereer nou minder as een persent van die bruto nasionale produk en bied net twee persent van alle werkgeleenthede in die land.

Die belangrikste uitvoergoedere is masjiene, rekenaars, ru-olie en gas.

Ten spyte van die ekonomiese groei is daar baie inwoners wat hul brood met tydelike of informele werk moet wen, aangesien die sosiale welvaartstelsel van die Verenigde Koninkryk in teenstelling met ander Europese lande min ondersteuning aan werkloses en behoeftiges bied.

Kreatiewe bedrywe[wysig | wysig bron]

Die getal werkgeleenthede in die Britse kreatiewe bedrywe - film, televisie, musiek en sagteware - het tussen 2011 en 2012 met 8,6 persent skerp groei getoon, vergeleke met die hele Britse ekonomie waar die groei slegs 0,7 persent beloop het.[9] Die kreatiewe sektor, met 'n waardeskepping van jaarliks ₤71,4 miljard, het sodoende volgens die Britse Departement vir Media, Kultuur en Sport die snelste groeiende bedryf in die Verenigde Koninkryk geword. Kreatiewe bedrywe het in 2012 6,6 persent van alle werkgeleenthede in die land voorsien.

Britse televisieproduksies soos ITV se kostuumdrama Downton Abbey, waarvan die televisieregte na meer as 100 lande verkoop is[10], was baie suksesvol op oorsese markte, terwyl die Britse musiekbedryf danksy musiekgroepe en kunstenaars soos One Direction, Adele en Ed Sheeran op die Amerikaanse en ander markte sterk gestaan het. Naas die rolprent-, musiek- en televisiebedryf, videospelletjies, rekenaarvermaak en ontwerp dra ook museums, kunsgalerye, argitektuur en professionele fotografie tot die kreatiewe sektor se sukses by. Die Britse Museum het in 2012 'n rekordgetal besoekers gelok.

UITVOERE VOLGENS KREATIEWE SEKTOR 2012
Inligtingstegnologiedienste ₤7,2 miljard
Film en televisie ₤4,2 miljard
Musiekbedryf ₤275 miljoen


GETAL WERKGELEENTHEDE 2012
IT, sagteware en rekenaardienste 558 000
Film, televisie, video, radio en fotografie 238 000
Musiek, uitvoerende en visuele kunste 224 000
Uitgewerye 223 000
Advertensiebedryf en bemarking 143 000
Produk-, grafiese en modeontwerp 116 000
Argitektuur 89 000
Museums, galerye en biblioteke 85 000
Kunshandwerk 7 000
KREATIEWE SEKTOR TOTAAL 1 684 000

Bron: DCMS

Vervoer[wysig | wysig bron]

'n Lugfoto van Londen se Heathrow-lughawe

Nadat dekades lank min aandag aan die land se vervoerinfrastruktuur geskenk is, het die regering besluit om tussen 2014 en 2019 sowat 9 miljard £ aan die opknapping van die Britse spoorwegstelsel te bestee. Premier Cameron het na hierdie projek as die grootste modernisering van Britse spoorweë sedert die Victoriaanse tydperk verwys.[11] Daarnaas sal die eerste fase van die nuwe hoëspoed-treinstelsel High Speed 2 teen die jaar 2026 voltooi wees. Die koste van dié projek word op altesaam 33 miljard ₤ beraam. Crossrail, 'n nuwe wes-oostelike spoorlyn in die suide van Engeland, wat deur Sentraal-Londen sal loop, sal in 2018 in bedryf gestel word.

Londen-Heathrow, een van vier internasionale lughawens in die Britse hoofstad, het lankal sy maksimum-kapasiteit bereik, maar tans is nog geen besluit oor die oplossing van dié vraagstuk geneem nie. Moontlike opsies is die bou van 'n derde aanloopbaan, die bou van 'n nuwe lughawe (byvoorbeeld naby die Teemsmonding, soos deur die Londense burgemeester Boris Johnson voorgestel) of 'n sterker integrasie van Londen se vier bestaande lughawens.

Demografie[wysig | wysig bron]

Hoofartikel Demografie van die Verenigde Koninkryk.

Die Britse Eilande het 'n lang tradisie van immigrasie. Mense uit ander wêrelddele het hulle hier gevestig om armoede en politieke, etniese of godsdienstige vervolging te ontvlug. In historiese tye het migrante van die Europese vasteland met die inheemse bevolking vermeng, so in die tyd van die Romeinse Ryk en gedurende die invalle van Angele, Saksers, Jute, Dene en Noormanne. Nadat Ierland onder Britse gesag gekom het, was Groot-Brittanje 'n gewilde bestemming vir Iere.

Pogroms in Oos-Europa en die opkoms van Nasionaal-Sosialisme en antisemitisme in die Duitse Ryk het baie Jode in die laat 19de eeu en in die 1930's genoodsaak om 'n heenkome in die Verenige Koninkryk te vind. Ná die Tweede Wêreldoorlog het groot getalle vlugtelinge uit die Sowjet-Russies-oorheerste Oos-Europa hulle in die land gevestig. Die huidie groot immigrantegemeenskappe van Wes-Indiese en Suid-Asiatiese oorsprong het in die 1950's en 1960's na die Verenigde Koninkryk geïmmigreer. Tans is meer as die helfte van die etniese minderheidsbevolking boorlinge van of nakomelinge van immigrante uit Indië, Pakistan en Bangladesj. Naas groot groepe immigrante uit die Gemenebes van Nasies, waaronder Australiërs, Suid-Afrikaners en Nieu-Seelanders, het ook talle Amerikaners, Sjines, Suid-Amerikaners en burgers uit lidstate van die Europese Unie hulle hier gevestig.

'n Buitengewoon groot persentasie van immigrante is in die binnestedelike gebiede saamgetrek, en meer as die helfte van die immigrantebevolking het hulle in Groter Londen gevestig.

Media[wysig | wysig bron]

Perswese[wysig | wysig bron]

Historiese agtergrond

Titelblad van The Times, 4 Januarie 1788, een van die oudste dagblaaie ter wêreld

Dagblaaie het vanaf die tweede helfte van die 19de eeu vir die eerste keer die breë publiek bereik. Die rede hiervoor was hoofsaaklik finansieel van aard - oorspronklik is 'n belasting van vier pence per eksemplaar gehef (die sogenaamde stamp duty wat in 1695 vir alle gedrukte publikasies ingevoer is) wat eers in 1836 tot een pennie verlaag en in 1855 heeltemal afgeskaf is. In dié jaar was die Daily Telegraph se verkoopprys een pennie. Dertig jaar later het dié dagblad die hoogste sirkulasiesyfer ter wêreld bereik.

Geletterdheid en leesvaardigheid onder leerders is in 1880 deur die Elementary Education Act ("Wet op elementêre onderwys") bevorder wat skoolbywoning verpligtend gemaak het vir kinders tot tien jaar. Die groeiende getal geletterdes in die laerklas was 'n belangrike teikenmark vir goedkoop weekblaaie waarin klein artikels en stories uit die alledaagse lewe gepubliseer is. Voorbeelde hiervan is Tit-Bits ("Lekkerhappies", vanaf 1881), Answers ("Antwoorde", vanaf 1888) en Pearson's Weekly ("Pearson se Weekblad", vanaf 1890).

Alfred Harmsworth (later die 1ste Viscount Northcliffe, 1865-1922), stigter en uitgewer van Answers, was 'n baanbreker vir poniekoerante wat op die massamark gemik was soos die Daily Mail wat vanaf 4 Mei 1896 in Londen verskyn en omstreeks 1900 reeds 'n rekord-verkoopsyfer van een miljoen bereik het. Aan die ander kant van die persspektrum was The Times, 'n gehaltedagblad wat vir die eerste keer in 1788 verskyn het.

In Londen is omstreeks 1900 nege aand- en sewe Sondagkoerante uitgegee. Die breë Edwardiaanse leserspubliek het eers gaandeweg gewend geraak aan gedrukte publikasies, en so was die mark nog nie ryp vir goedkoop geïllustreerde tydskrifte met hoë sirkulasie nie.[12]

Die Britse perslandskap vandag

Vandag word die Britse perslandskap sowel ten opsigte van sirkulasie- en verkoopsyfers asook nasionale reputasie deur Londense dagblaaie oorheers. Algemeen word daar 'n onderskeiding gemaak tussen poniekoerante vir die massamark, sogenaamde tabloids, met sirkulasiesyfers van miljoene eksemplare, en gehaltedagblaaie met aansienlik kleiner verkoopsyfers. Slegs vier poniekoerante verenig sowat vyf sesdes van die totale sirkulasiesyfer van oggendblaaie op hulle.

Dagblaaie vir Suid-Afrikaanse, Poolse, Australiese en Nieu-Seelandse immigrante word in Londen gratis versprei

In die algemeen word Britse dagblaaie nie formeel met enige politieke party verbind nie, maar die meeste weerspieël in hul kommentare en verslaggewing nogtans die politieke oortuigings van hul eienaars. So steun die poniekoerant Daily Mail en die gehaltedagblad The Daily Telegraph gewoonlik die Konserwatiewe Party, terwyl die poniekoerant The Daily Mirror en die gehaltedagblad The Guardian meestal simpatiek teenoor die beleid van die Britse Arbeidersparty staan.

Die Verenigde Koninkryk se mees verkoopte dagblad The Sun is in 1969 deur die Australiese persmagnaat Rupert Murdoch se onderneming News International oorgeneem en het sy sirkulasiesyfer vervolgens deur sensasiestories, uitgebreide sportverslaggewing en erotiese beeldmateriaal opgestoot. In die vroeë 1970's het dié blad nog die Arbeidersparty gesteun, maar vanaf 1979 politieke simpatie vir die konserwatiewe regering onder Margaret Thatcher getoon. In die laat 1990's het dit weer die Arbeidersparty se beleid begin steun.[13]

In Engeland verskyn daarnaas 'n verskeidenheid streekskoerante as dag- en weekblaaie asook nasionale weekblaaie waarvan sommige op bepaalde etniese gemeenskappe gemik is.

Verwysings[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:


Vlag van die Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk Wapen van die Verenigde Koninkryk
Lande EngelandSkotlandWallisNoord-Ierland
Oorsese gebiede AnguillaBermudaBrits-Antarktiese GebiedBritse Indiese OseaangebiedBritse Maagde-eilandeFalkland-eilandeGibraltarKaaimanseilandeMontserratPitcairneilandeSint Helena, Ascension en Tristan da CunhaSuid-Georgië en die Suidelike SandwicheilandeTurks- en Caicos-eilande
Kroongebiede Eiland ManGuernseyJersey
Sowereine militêre basisse Akrotiri en Dhekelië