Duitsland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Bundesrepublik Deutschland
Bondsrepubliek Duitsland
Vlag van Duitsland Wapen van Duitsland
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Einigkeit und Recht und Freiheit
(Duits vir: "Eenheid, geregtigheid en vryheid")
Volkslied: Die derde strofe van die Deutschlandlied
Ligging van Duitsland
Hoofstad Berlyn

52°31′N 13°23′O / 52.517°N 13.383°O / 52.517; 13.383

Grootste stad Berlyn
Amptelike tale Duits1
Regering Federale parlementêre
grondwetlike republiek

Joachim Gauck
Angela Merkel
Norbert Lammert
Volker Bouffier
Onafhanklikheid

2 Februarie 962
8 Junie 1815
18 Januarie 1871
23 Mei 1949
7 Oktober 1949
3 Oktober 1990
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
357 168 km2  (61ste)
137 847 myl2
2,416
Bevolking
 - 2013-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
80 585 700[1] (16de)
80 219 695[2]
225 / km2 (58ste)
583 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2014-skatting

$3 325 miljard[3] (5de)
$40 757[3] (18de)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2014-skatting

$3 747 miljard[3] (4de)
$45 925[3] (18de)

MOI (2013) Green Arrow Up Darker.svg 0,920[4] (5de)  –  baie hoog
Gini (2011) 29.0[5] –  laag
Geldeenheid Euro ()
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+1)
MEST (UTC+2)
Internet-TLD .de www.deutschland.de
Skakelkode +49
1. Deens, Nederduits, Sorbies, Roma en Fries word amptelik erken en as minderheidstale beskerm deur die ECRML.

Die Bondsrepubliek Duitsland (in Afrikaans dikwels ook Federale Republiek van Duitsland of Bondsrepubliek van Duitsland genoem; Duits: Bundesrepublik Deutschland, [ˈbundəsʁepuˌbliːk ˈdɔjtʃlant] ) is in die sentrum van Europa geleë en vervul in baie opsigte 'n brugfunksie tussen Wes-Europa en die state van Sentraal- en Oos-Europa.

Die land word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke en die Oossee, in die ooste deur Pole en Tsjeggië, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland.

As 'n geografies uiteenlopende land het Duitsland 'n groot verskeidenheid landskappe wat van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee en die uitgestrekte vlaktes van Noord-Duitsland oor die berglandskappe van Sentraal- en Suid-Duitsland tot die Alpe in die uiterste suide strek. Vyf groot rivierstelsels – dié van Ryn, Donau, Elbe, Main en Weser – kom in die land voor en word deur kanale met mekaar en die Europese netwerk van waterweë verbind.

Die Duitse Keiserryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Duitse Oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan. Die deelstate kan in sekere sfere, soos onderwys, onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is, net soos baie ander Europese lande, 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van 'n sosiale markekonomie toepas, en ook een van die liberaalste lande ter wêreld waar groot waarde aan omgewingsbewaring en die bestryding van xenofobie geheg word.

Nogtans weeg behoudende waardes steeds swaar in Duitsland wat vanweë sy ryk kulturele, filosofiese en literêre erfenis ook as die "land van digters en denkers" bekendstaan. Ou tradisies word met trots bewaar en gewaardeer, net soos harde werk, juistheid en fiskale verantwoordelikheid.[6]

Die Bondsrepubliek Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, asook 'n stigterslid van die Europese Unie. Duitsland, wat sedert die 1990's meer as drie miljoen immigrante uit Oos-Europa ontvang het, het tans die grootste bevolking van enige EU-lidstaat. As een van die wêreld se voorste nywerheidslande, wat hom op meganiese ingenieurswese en masjienbou, voertuie, chemiese produkte en huishoudelike goedere toespits, is Duitsland die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld. Sy ekonomiese en politieke gewig stel die land in staat om sy beleid van fiskale soberheid ook op Europese vlak toe te pas.

Geografie[wysig | wysig bron]

Duitsland strek van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee tot by die sentrale Alpe in die suide, waarvan net 'n klein gedeelte op Duitse grondgebied lê. Die land word dikwels as die hartland van Europa beskryf en grens aan Denemarke in die noorde; Nederland, België, Luxemburg en Frankryk in die weste; Oostenryk en Switserland in die suide; en Pole en Tsjeggië in die ooste. Die Noord- en Oossee vorm 'n natuurlike grenslyn in die noorde.

Die Swartwoud in die winter, met die Franse Vogese-bergreeks in die agtergrond.
Die Harz-gebergte se hoogste bergspits, die Brocken, in die winter.

In noord-suidelike rigting is daar vier groot geografiese landskappe, wat veral volgens hulle hoogte van mekaar verskil. Die noorde van Duitsland word oorheers deur die Noord-Duitse Vlakte, wat tydens die ystydperke gevorm is.

Die sentrale gedeelte van die land is gekenmerk deur beboste bergreekse, die sogenaamde Mittelgebirge ("Middelgebergtes"). Daar is verskillende tipes van landskappe, onder andere:

  • die gebied van die Mecklenburgse Mere in die noord-oostelike vlakte, wat deur gletserpuine gevorm is;
  • die blokberge van die Harz, wat nog voor die Alpe ontstaan het;
  • die beboste bergreekse van die Schwarzwald (Swartwoud) en Böhmerwald, wat net soos die Franse Vogese deur opwaartse geologiese bewegings gevorm is;
  • bekkens van sedimentêre gesteentes soos in die Swabiese Alb (Schwäbische Alb), 'n hoogplato wat as gevolg van erosie gevorm is en nou bo-oor die Neckarvallei met 'n maksimale hoogte van 869 meter verrys;
  • geologies jonge bekkens soos die vlaktes van die Ryn tussen die Switserse stad Basel en Mainz in Rynland-Palts, wat in seismiese opsig nog baie aktief is; en
  • vulkaniese bergreekse soos die Vogelsberg (773 meter) in Hesse, die Vulkaan-Eifel in Rynland-Palts en die Hegau en Kaiserstuhl in Baden-Württemberg wat almal deur aardbewegings, vulkaniese aktiwiteite en uitbarstings gevorm is. Duitsland word lankal nie meer deur aktiewe vulkanisme geraak nie.

Aangesien Duitsland heeltemal op die Eurasiese Plaat lê, kom sterk aardbewings normaalweg nie voor nie. Nogtans word die Rynbreuk in Noordryn-Wesfale, veral in die omgewing van Keulen, as 'n gebied beskou waar 'n groot aardbewing moontlik tot ernstige rampe en lewensverlies kan lei.

Hierdie bergreekse gaan in die mees suidelike deelstate Baden-Württemberg en Beiere geleidelik oor na die Alpynse voetheuwels, 'n landskap wat ook hoofsaaklik teen die einde van die laaste ystydperk gevorm is en gekenmerk word deur gletserpuine, vlaktes en 'n aantal mere soos die Bodenmeer met 'n oppervlakte van 538 vierkante kilometer. Die hoogste bergpiek in die Alpe van Suid-Beiere is die Zugspitze met 2 962 meter.

Die Alpe is die enigste hooggebergte waaraan Duitsland 'n aandeel het. Nogtans is daar 'n aantal bergreekse met bergspitse wat hoogtes van meer as 1 000 meter bereik, soos die Swartwoud met die Feldberg (1 493 meter bo seevlak), die Beierse Woud met die Groot Arber (Großer Arber, 1 456 meter), die Ertsgebergte, die Fichtelgebergte, die Swabiese Gebergte en die Harzgebergte, wat danksy sy geïsoleerde noordelike ligging 'n uitsondering vorm. Die Harz bereik met die Brocken 'n hoogte van 1 142 meter bo seevlak.

Noord van die Middelgebergtes is daar net enkele formasies met 'n hoogte van meer as 100 meter, soos die Fläming in die deelstaat Brandenburg (200 meter).

Eilande[wysig | wysig bron]

Die Waddensee naby Keitum op die eiland Sylt.

Duitsland beskik oor 'n relatief groot aantal eilande wat in die Noordsee meesal as eilandkettings net voor die kuslyn lê. Die twee groot eilandgroepe van die Noordsee is die Noord- en Oos-Friese Eilande. Die Noord-Friese Eilande, waaronder Sylt, Föhr, Amrum en Pellworm, asook die klein Halligen-eilandjies, maak deel uit van Sleeswyk-Holstein, die noordelikste deelstaat. Die eilande was oorspronklik deel van die vasteland, maar is as gevolg van geologiese aktiwiteite van die vasteland afgesny, nádat die gebiede daartussen gedaal het en oorvloed is.

Die Noord-Friese Eilande lê langs die kuslyn van die deelstaat Nedersakse en is geleidelik uit sandbanke gevorm.

Die eilande in die Oossee maak deel uit van die sogenaamde strandmeerkus. Hulle word deur groter oppervlaktes gekenmerk; die grootstes van hierdie eilande is Rügen en Usedom. Die uiterste oostelike deel van Usedom behoort tot Pole.

Die grootste eilande in die binneland is Mainau, Lindau en Reichenau in die Bodenmeer en Herrenchiemsee in die Chiemmeer.

Mere[wysig | wysig bron]

Die bevrore Koningmeer (Königssee) in Beiere.

Die mere in Duitsland is grotendeels as gevolg van die laaste ystydperk gevorm, toe voormalige gletservalleie met water opgevul is. Die meeste van die groter mere is dus in gebiede geleë wat vroeër deur binnelandse ysmassa's bedek was, of in die voorland van die gletsers, veral in Mecklenburg en die Alpevoorland.

Die grootste meer waaraan Duitsland 'n aandeel het, is die Bodenmeer (Duits: Bodensee) naby die grens met Switserland en Oostenryk. Die grootste meer wat in sy geheel in Duitsland lê, is die Müritz met 'n oppervlak van 117 vierkante kilometer, wat deel uitmaak van die Mecklenburgse Mereplato.

Die grootste mere na die Bodenmeer en Müritz is die Chiemmeer (Beiere, 80 vierkante kilometer), die Schwerinse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 61 vierkante kilometer), die Starnbergse Meer (Beiere, 56 vierkante kilometer), die Ammermeer (Beiere, 46,6 vierkante kilometer), die Plauer Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 38,7 vierkante kilometer), die Kummerowse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 32 vierkante kilometer), die Steinhuder Meer (Nedersakse, 29,12 vierkante kilometer), en die Groot Plönse Meer (Sleeswyk-Holstein, 29 vierkante kilometer).

Riviere[wysig | wysig bron]

Mis hang oor die Saarschleife, 'n rivierkronkel in Saarland.

Die ses groot rivierstelsels van Duitsland is Ryn, Donau, Elbe, Oder, Weser en Eems. Die Donau is met 'n lengte van meer as 2 800 kilometer die tweede langste rivier in Europa (na die Russiese Wolga), alhoewel slegs 'n klein gedeelte hiervan (647 kilometer) deur Duitsland loop.

Alle ander Duitse riviere mond óf in die Noordsee óf in die Ossee uit. Die Europese Waterskeiding loop oos van die Rynvallei oor die hoofkam van die Swartwoud en volg daarna die Swabiese en Frankiese Gebergtes. Van die Ryn se totale lengte van 1 320 kilometer loop 865 kilometer deur Duitsland. Die rivier speel 'n belangrike rol in die kulturele geskiedenis van die land en sy mites en legendes, maar vervul daarnaas ook 'n ekonomiese funksie as een van die besigste waterweë in Europa.

Die Elbe ontspring in die Reusegebergte, digby die Pools-Tsjeggiese grens en mond na sowat 1 165 kilometer, waarvan 725 in Duitsland, naby die hawestad Cuxhaven in die Noordsee. Sy belangrikste takriviere is Saale en Havel. Die Oder is saam met die Neisse Duitsland se grensrivier met Pole, terwyl die Weser se stroomgebied heeltemal in Duitsland lê. Die Eemsrivier vloei deur die uiterste noord-weste van Duitsland.

Klimaat[wysig | wysig bron]

Die Funtenmeer in Beiere. Hier is op 24 Desember 2001 'n temperatuur van -45,9 °C gemeet, wat toe die laagste temperatuur was wat ooit in Duitsland gemeet is.

Die grootste deel van Duitsland lê in die gematigde klimaatsone van Middel-Europa, wat deur vogtige westelike winde oorheerrs word. Die klimaat word onder meer deur die warm Golfstroom beïnvloed.

Die noordweste en noorde van Duitsland word deur 'n seeklimaat met reënval dwarsdeur die jaar gekenmerk. Die winters is relatief sag en matig, terwyl die somers eerder koel is, alhoewel somertemperature ook in die noorde soms dae lank bo 28 °C kan styg. Die gemiddelde temperature is: Hamburg: Januarie 0,3 °C / Julie 17,1 °C; Essen: Januarie 1,5 °C / Julie 17,5 °C.

Oos-Duitsland is in klimatiese opsig 'n oorgangsgebied: weerstoestande het dikwels kenmerke van 'n vastelandsklimaat, met strawwe koue winters en baie warm somers. Gebiede soos die deelstaat Brandenburg en Berlyn kry soms baie min reën in die somer. Die gemiddelde temperature is: Berlyn: Januarie -0,9 °C / Julie 18,6 °C. Die sentrale en suidelike gebiede van Duitsland is 'n oorgangsgebied van 'n gematigde seeklimaat na 'n vastelandsklimaat. Die Rynvallei is egter een van die warmste gebiede in die land: die gemiddelde jaarlikse temperatuur in die suid-weste van Baden-Württemberg is 11 °C. Baie warm somers met temperature van meer as 30 °C tree gereeld op. Gemiddelde temperature: München: Januarie: -2,2 °C / Julie 17,6 °C; Freiburg: Januarie: 1,2 °C / Julie 19,4 °C.

Tot en met 1988 was die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Duitsland 8,8 °C. As gevolg van die aardverwarming het dit in die volgende dekades merkbaar gestyg en in 2000 reeds 9,9 °C bereik. Veral die somers het warmer geword. Die hoogste temperatuur, wat sedert 1881 – die jaar waarin met landswye weerkundige metings begin is – aangeteken is, was 40,3 °C op 5 Julie 2015 in Kitzingen, Beiere.[7]

Politiek[wysig | wysig bron]

Staatsorganisasie[wysig | wysig bron]

Die Berlynse Reichstags-gebou, setel van die nasionale parlement, die Bundestag.
Die regtelike en politieke bedeling van die Bondsrepubliek Duitsland is in die Grundgesetz ("grondwet") geformuleer. Die eerste 19 artikels, waarin fundamentele regte verskans is, is in glaspanele voor die Jakob-Kaiser-huis, 'n kantoorgebou van die Duitse parlement te Berlyn, ingegraveer.

Volgens die artikel 20 van die Duitse Grondwet (Grundgesetz) is die Bondsrepubliek Duitsland 'n demokratiese, federale en sosiale regstaat. Sy hoofstad en regeringsetel is Berlyn. Duitsland is in administratiewe opsig verdeel in 16 deelstate (Bundesländer), wat gedeeltelik selfregerend is. Vyf van die deelstate is verder verdeel in 22 administratiewe distrikte (Regierungsbezirke).

Die Bondspresident (Bundespräsident) fungeer as die staatshoof en verteenwoordiger van die republiek op internasionale vlak. Hy oefen egter geen politieke mag uit nie. Die president van die parlement (Bundestagspräsident), die Bondskanselier (Bundeskanzler) en die president van die Federale Raad van die deelstate (Bundesratspräsident, wat ook as visestaatshoof fungeer) volg as ampsdraers in die rangorde.

Die Bondskanselier is die regeringshoof en bepaal die grondbeginsels van die regering se binne- en buitelandse beleid.

In ooreenstemming met die federale staatsbestel beskik ook die deelstate oor hulle eie uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag. Die Bundesrat (Raad van die Deelstate, letterlik "Bondsraad") het net soos die Bundestag, die nasionale parlement, uitvoerende bevoegdhede. Besluite oor voorgestelde nasionale wetgewing word deur albei kamers gemeenskaplik geneem. Wetsontwerpe van die nasionale parlement wat die regte van die deelstate sou raak, moet deur die Bundesrat goedgekeur word. Die Duitse Grondwet mag, met die uitsondering van die artikels oor fundamentele menseregte, met 'n tweederdes-meerderheid in albei kamers gewysig word.

Die parlemente van die deelstate besluit oor die plaaslike wetgewing: die onderwys, polisie en ander belangrike instellings word deur die deelstate beheer. Die politieke partye het 'n groot invloed op die wetgewing, en ofskoon die afgevaardigdes nie gedwing mag word om teen hulle gewetens op te tree nie, word die meeste wetsontwerpe deur die parlementslede van die meerderheidsparty gemeenskaplik goedgekeur om die doelwitte van dié party te verwesenlik.

Op nasionale vlak vorm die federale regering onder die leiding van die Bondskanselier die uitvoerende gesag, terwyl die deelstate regerings onder die leiding van 'n Eerste Minister het. Die stadstate Berlyn, Hamburg en Bremen het Regerende Burgemeesters as hulle regeringshoofde. Die nasionale en die administrasies van die deelstate word deur ministers beheer.

Die Konstitusionele Hof (Bundesverfassungsgericht) in Karlsruhe het die hoogste gesag oor die grondwet. Die hoogste nasionale geregshowe is die Federale Geregshof (Bundesgerichtshof) in Karlsruhe en Leipzig, die Federale Administratiewe Gereg (Bundesverwaltungsgericht, wat regsake in verband met die administrasies hanteer) in Leipzig en die Geregshof van Finansies in München. Die meeste regsake word deur die deelstate beheer, terwyl die nasionale geregshowe as appélhowe dien.

Deelstate[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Deelstate van Duitsland.
Die deelstate van Duitsland
In Afrikaans Auf Deutsch (In Duits)
Die deelstate van Duitsland Hoofstad Bundesland Hauptstadt
1 Baden-Württemberg Stuttgart Baden-Württemberg Stuttgart
2 (Vrystaat) Beiere München (Freistaat) Bayern München
3 Berlyn Berlyn Berlin Berlin
4 Brandenburg Potsdam Brandenburg Potsdam
5 (Vrye Hansestad) Bremen Bremen (Freie Hansestadt) Bremen Bremen
6 (Vrye en Hansestad) Hamburg Hamburg (Freie und Hansestadt) Hamburg Hamburg
7 Hesse Wiesbaden Hessen Wiesbaden
8 Mecklenburg-
Voorpommere
Schwerin Mecklenburg-
Vorpommern
Schwerin
9 Nedersakse Hannover Niedersachsen Hannover
10 Noordryn-Wesfale Düsseldorf Nordrhein-Westfalen Düsseldorf
11 Rynland-Palts Mainz Rheinland-Pfalz Mainz
12 Saarland Saarbrücken Saarland Saarbrücken
13 (Vrystaat) Sakse Dresden (Freistaat) Sachsen Dresden
14 Sakse-Anhalt Maagdenburg Sachsen-Anhalt Magdeburg
15 Sleeswyk-Holstein Kiel Schleswig-Holstein Kiel
16 (Vrystaat) Thüringen Erfurt (Freistaat) Thüringen Erfurt

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die vroeë geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die Hemelskyf van Nebra.

Die oudste nedersettings in die gebied van die huidige Duitsland het 700 000 tot 500 000 jare gelede ontstaan. Die Homo sapiens neanderthalensis, wat nou verwant is aan die huidige mens, is na die Neanderthal naby die stad Mettmann vernoem. Die Neanderthal-mense is sowat 40 000 jare gelede deur die huidige mens, die Homo sapiens sapiens, verdring.

Akkerbou, veeteelt en permanente nedersettings het in die Laat Steentydperk ontwikkel. Belangrike argeologiese vondse uit hierdie periode, soos die Hemelskyf van Nebra, dui daarop dat die beskawings teen hierdie tyd kultureel al hoogs ontwikkel was en kennis van sterrekunde gehad het.

Die eerste verwysings na die Keltiese en Germaanse stamme in Duitsland is van Griekse en Romeinse oorsprong. Omtrent 500 v.C. het Keltiese stamme die suidelike Duitsland oorheers, terwyl die Germane hulle in die noorde gevestig het. Oor die eeue heen het die Germaanse stamme suidwaarts begin trek. In die 1ste eeu n.C. het die Germane al die Donau bereik, wat destyds die grenslyn tussen die Germaanse en Keltiese gebiede gevorm het. Keltiese leenwoorde en plekname is deur die Germane oorgeneem.

Die Romeinse tydperk[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Romeinse Ryk.
'n Model van die keiserlike stad Augusta Treverorum.

Vanaf 50 v.C. het die Romeine na Germanië begin kom. Julius Caesar (100 — 44 v.C.) het met sy soldate die gebied wes van die Ryn verower. Vanaf hierdie punt in die geskiedenis is die gebied wat vandag Duitsland heet vir 400 jare in twee gedeel: die weste was deel van die magtige Romeinse Ryk, en die ander kant van die Ryn is deur die "Barbare" geregeer — soos die Romeine die destydse Germaanse stamme genoem het.[8]

Germaanse krygers onder die bevel van die Cheruskiese stamhoof Arminius laat die Romeinse troepe van die legaat Publius Quinctilius Varus in die jaar 9 'n verpletterende neerlaag in die slag by die Teutoburgerwoud (wat eintlik naby Kalkriese plaasgevind het) ly. Die Romeinse keiser Augustus Octavianus sien van sy planne af om die noordoostelike grenslyn van die Romeinse Ryk vanuit die Ryn na die Elbe te verskuif.

In die Romeinse gebiede van Germanië ontwikkel 'n bloeiende Germaans-Romaanse kultuur. Stede soos Keulen (wat destyds as Colonia Claudia Ara Agrippinensium bekend staan) ontwikkel tot ekonomiese sentrums met enkele tienduisend inwoners. Keulen self word die hoofkwartier van die Romeinse glasbedryf in Laer-Germanië.

Augusta Treverorum, die huidige Trier, word in 293 die keiserlike hoofkwartier van Constantius Chlorus, een van die vier keisers van die Romeinse tetrargie. Tot by die begin van die Germaanse volksverhuising bly Trier een van die belangrikste keiserlike stede in die Romeinse Ryk.

Omtrent 400 bereik die volksverhuising die gebied van die huidige Duitsland. Keulen word in 455 deur die Franke verower en word later deel van die Frankiese Ryk van koning Clovis I. Met sy doop volgens die Rooms-Katolieke ritus en die aanvaarding van Latyn as liturgiese taal van die kerk word Clovis in 499 een van die grondleggers van die Christelike Westerse beskawing.

Etnogenese: Die ingewikkelde proses van volkswording[wysig | wysig bron]

Die verspreiding van Duitse dialekte in die Heilige Romeinse Ryk omstreeks 962. Soos sy naam reeds aandui, is hierdie ryk nie as 'n nasionale Duitse staat beskou nie

Die 19de eeuse eeuse Duitse geskiedskrywing het 'n eensydige beeld van die vroeë Duitse volkswording voorgehou waarvolgens groot dele van die Romeinse Ryk deur Germaanse stamme verower is wat later die Frankiese Ryk sou stig. In 843 is daardie ryk in 'n Frans- en 'n Duitssprekende deel (Frankryk en Duitsland) verdeel, en voortaan het die Duitse nasie as 'n volk van Germaanse afkoms bestaan. Min aandag is aan die feit geskenk dat 'n groot persentasie Duitssprekendes in werklikheid van Romaanse, Keltiese en Slawiese afkoms is.[9]

Dikwels is die oorspronklik Keltiese bevolking van Suid- en Wes-Duitsland, wat nou verwant aan die Galliërs was en handels- en kulturele bande met die Etruskers in Italië gehandhaaf het, die Romaanse bevolking in die vroeëre Romeinse provinsies van Duitsland en die Slawe, wat gebiede oos van die Elberivier en in Bo- en Sentraal-Franke bewoon het, as deel van 'n gemeenskaplike "Indo-Europese beskawing" beskou. Die Britse rassis Houston Stewart Chamberlain (1855–1927), wat met sy werke ook aanklank by Duitse Nasionaalsosialiste gevind het, het na die "Slawokeltogermane" as die "oerstof" van die Europese geskiedenis verwys.[10]

Die Nasionaalsosialistiese propaganda het 'n nuwe rassistiese mite geskep waarin "Germanedom" en "Duitsdom", die Germaanse en die Duitse volkskarakter as een en dieselfde ding beskryf is. Slawiese volke is as minderwaardig geag en hul bydrae tot die Duitse beskawing ontken. Sodoende het die Nasionaalsosialistiese bewindhebbers volksmoord en die verowering van Slawiese lande in Oos-Europa probeer regverdig. Duitssprekendes in die ooste van Europa moes uiteindelik in 1945 duur betaal vir dié onmenslike rasse-ideologie en is self uit hul geboortelande verdryf.

Geskiedkundiges en argeoloë het lankal die bewys gelewer dat die hipotese van 'n Germaans-Duitse kontinuïteit 'n moderne konstruksie is wat min ooreenstemming met historiese feite toon. Die vroeg-middeleeuse koninkryke, wat ná die val van die Wes-Romeinse keiserdom deur Franke, Oos- en Wes-Gote, Alamanne, Beiers en Thüringers gestig is, kan nòg volgens hul eie beskouing en waarneming nòg vanuit 'n historiese perspektief as "Duits" bestempel word nie. Hierdie verskillende stamme het hulself ook nie as deel van 'n groter volk beskou nie. Eers in die 19de eeu het Martin Luther se Bybelvertaling met sy verwysing na die "Twaalf stamme van die kinders van Israel" die aanleiding vir die herdefinisie van 'n stam as deel van 'n groter nasie gegee. As politieke term is die "Duitse volk" in analogie met die Franse konsep van 'n Peuple français ("Franse volk") en die Nation française ("Franse nasie") tydens die Franse Rewolusie gebruik.[11]

Die sambreelterm "Duitsers" dateer nogtans uit 'n vroeë historiese periode. Die Oudhoogduitse diot as etimologiese wortel van "Duits" is in die betekenis van "volk" of "gewone mense" gebruik. Diet- of Diot-paaie was byvoorbeeld die roetes wat deur 'n plaaslike bevolking op pad na kerke, begraafplase of algemene vergaderings gebruik is. Die Keltiese teut het dieselfde etimologiese oorsprong en betekenis. Die Teutone, wat deur die Romeine in 113 v.C. as 'n skrikwekkende bedreiging ervaar is, is volgens die Gallies-Keltiese term vir 'n groter groep mense vernoem.

Vanaf die middeleeue is 'n onderskeiding tussen die volkstaal of lingua theodisca en die taal van geleerdes, Latyn, gemaak. Die oudste historiese dokument, waarin theodiscus voorkom, dateer van 786 en verwys na Engeland en die Engelse taal. In die Frankiese Ryk was die theodisca lingua die algemene verkeerstaal in Wes- en Bo-Franke wat onder meer vir onderhandelinge gebruik is. Karel die Grote se kleinseuns, Lodewyk en Karel, het hul politieke alliansie teen hul broer Lothar in hul plegtige "Straatsburgse Ede" amptelik in albei tale gesluit – Romaans of Latyn (Romana lingua) en Duits (Teudisca lingua) – sodat ook die gewone soldate in hul leërs die inhoud en doelwit van die ooreenkoms kon verstaan.

Ook in die 9de eeu was daar blykbaar nog geen sambreelterm vir die verskillende stamme nie. Biskop Frechulf van Lisieux († omstreeks 850) het in 'n dokument, wat omstreeks 830 geskryf is, na Franke en Gote as nationes Theodiscae verwys – stamme wat die (nie-Latynse) volkstaal gebesig het. Die Romeinse sambreelterm Germani, soos gebruik deur Caesar en Tacitus, is nie gebruik om na hierdie etniese groepe te verwys nie.

Die eerste belangrike etniese onderskeiding was dié tussen bewoners aan die linker- en die regteroewer van die Ryn nadat die Frankiese Ryk in 843 in 'n westelike en 'n oostelike ryk verdeel is. Bewoners van die Oos-Frankiese Ryk is Transrhenenses genoem - "mense van anderkant die Ryn". In Italië is 'n onderskeiding gemaak tussen inheemses en Teutisci, die Langobarde wat 'n Germaanse dialek of theodisca lingua gepraat het. Vanaf die 10de eeu is in Italië na Germaanssprekendes naas Teutonici ook as Saxones of Saksers verwys – blykbaar omdat die Ottoniese konings en hul begeleiers uit Sakse afkomstig was.

Opvallend genoeg was daar ook in die vroeë middeleeue nog geen gevoel van etniese samehorigheid nie en is etniese terme uit die buiteland, die Romaanse wêreld, oorgeneem. Die taalgrens tussen Noord- of Platduitse dialekte en Hoogduits in die suide kon moontlik tot 'n kulturele en selfs nasionale grens ontwikkel het. Dit was Karel die Grote wat die verskillende onafhanklike Germaanse stamme in 'n gemeenskaplike ryk verenig het – dikwels met geweld, soos in die geval van die Saksers – en sodoende die politieke basis vir die 10de eeuse koninkryk geskep het waarin ses stamme – Alamanne, Beiers, Friese, Franke, Saksers en Thüringers – saamgesluit het. 'n Nasionale identiteit het eers later gaandeweg ontwikkel. Die beginpunt van hierdie proses was die bedreiging deur Hongaarse aanvalle wat net deur 'n gemeenskaplike poging van alle stamhertogdomme afgeweer kon word.

So was die Italianers eeue lank die enigstes wat van "Duitsers" gepraat het. Dit is 'n bewys vir die destyds oorheersende kulturele invloed van die Romaanse wêreld dat die "Duitsers" uiteindelik hierdie Italiaanse term as leenwoord oorgeneem het om na hulself te verwys. Die werklike etnogenese van die Duitse volk, die volkswording, het egter nie voor die 19de eeu plaasgevind nie. In die eeue voor die ontwaking van 'n nasionale Duitse bewussyn het die bewoners van die oorspronklike stamhertogdomme gaandeweg hul eie streeksgebonde identiteit ontwikkel. So was ook die Duitse Keiserryk, wat in 1871 formeel geproklameer is, volgens sy grondwet 'n federasie van Duitse koninkryke, hertogdomme en ander politieke entiteite onder die bewind van 'n gemeenskaplike keiser.

Die Middeleeue[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Heilige Romeinse Ryk.
Die keurvorste van die Heilige Romeinse Ryk. Perkament uit die jaar 1341.

Met die kroning van die Frankiese koning Karel die Grote as keiser in Rome neem die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie 'n aanvang. Hendrik, hertog van Sakse, word in 919 tot koning van die Oos-Frankiese Ryk verklaar, waaruit uiteindelik die Duitse Ryk voortspruit: sedert die 10de eeu word na die Oos-Frankiese Ryk ook as die regnum Teutonicum verwys. Onder die heerskappy van keiser Frederik Barbarossa (1152 tot 1190) beleef die Heilige Romeinse Ryk 'n politieke en kulturele bloeitydperk.

Met die sogenaamde Goue Bul van die jaar 1356 verkondig die keiser Karel IV die belangrikste Duitse grondwet van die Middeleeue wat tot met die jaar 1806 die prosedures vir die verkiesing en bekroning van die keisers van die Heilige Romeinse Ryk vasgestel het.

Reformasie en Dertigjarige Oorlog[wysig | wysig bron]

Hoofartikels: Protestantse Hervorming en Dertigjarige Oorlog.
Die Heilige Romeinse Ryk ná die Dertigjarige Oorlog in 1648.

Onder die heerskappy van Maximiliaan I, wat tussen 1509 en 1519 as keiser van die Heilige Romeinse Ryk regeer, begin die Huis Habsburg Europa oorheers. Alhoewel Maximiliian dikwels "die laaste ridder" genoem word, stel die hoogs opgeleide keiser belang in wetenskap en kuns en staan onder die invloed van die humanisme en renaissance. Nogtans bly die politieke strukture van die Ryk ingewikkeld.

Die Augustynse monnik Martin Luther, wat sedert 1517 net die wantoestande in die Rooms-Katolieke Kerk wil keer, maak deur middel van nuwe media soos pamflette en gedrukte boeke sy oortuigings in die hele land bekend. Uiteindelik lui hy die reformasie in Duitsland in. Hy vertaal die Bybel in Duits en skep sodoende 'n Duitse standaardtaal op basis van die Middelduitse dialekte.

Die politieke en godsdienstige spannings in Duitsland ontvlam in 1618 in die Dertigjarige Oorlog. Duitsland word die slagveld van die Europese moondhede soos Frankryk en Swede, wat aan die kant van die Duitse Protestantse heersers teen die keiserlike Katoliek-gesinde magte optree. Die oorlogshandelinge en daarmee gepaardgaande gruweldade en hongersnode lei tot 'n ongekende verlies aan menselewens. Meer as een derde van die Duitse bevolking sterf in die oorlog, wat eers in 1648 met die Vredesluiting van Münster tot 'n einde kom.

Die tydperk tot die Franse Rewolusie[wysig | wysig bron]

Die Heilige Romeinse Ryk voor die Franse Rewolusie in 1789.

Die Franse koning Lodewyk XIV maak in 1685 namens sy skoonsuster Elisabeth Charlotte van die Palts aanspraak op die gebied Palts, 'n welvarende streek langs die Ryn, met die stad Heidelberg as een van sy sentrums. In die Negejarige Oorlog, wat as gevolg uitbreek, word die gebied, een van die welvarendste in Duitsland, verwoes.

Ondanks die verwoestings, wat deur die Dertigjarige Oorlog, die Negejarige Oorlog en die Spaanse Opvolgingsoorlog in Duitsland aangerig is, herstel die ryk en belef 'n nuwe ekonomiese en kulturele bloeitydperk. Op politieke gebied kan daar egter geen sprake van vernuwing wees nie.

Ook Pruise, wat tot een van die belangrikste deelstate van die Heilige Romeinse Ryk ontwikkel, bly onder sy verligte, maar outeritêre koning Frederik die Grote (1740 tot 1786) 'n absolutistiese monargie. Die magsstryd tussen Pruise en Oostenryk begin die Heilige Romeinse Ryk heeltemal verlam.

Die tydperk tussen 1789 en 1871[wysig | wysig bron]

Die rewolusionêre onluste in Maart 1848: Straatversperrings in Berlyn.

Ná die Franse Rewolusie van 1789 begin Frankryk onder die heerskappy van Napoléon Bonaparte sy magsgebied in Europa uitbrei. Onder die Franse invloed word die Heilige Romeinse Ryk in 1806 ontbind, terwyl Pruise danksy politieke hervormings tot 'n moderne staat ontwikkel. In die Duitse Bevrydingsoorloë ly Napoléon 'n nederlaag, maar die vereniging van die verskillende Duitse state misluk.

Omtrent 1830 neem die industrialisering van Duitsland 'n aanvang. Die verarming van talle werkers as gevolg van die toenemende meganisering van verskillende bedrywe en herhaalde misoeste lei tot politieke onluste. Nadat die owerhede onder meer in Pruise nie instem tot hervormings nie, breek in Maart 1848 opstande uit wat talle menselewens eis. Die Duitse vorste verset hulle egter teen die burgerlike rewolusie en die konstitusionele grondwet wat deur liberale voorgestel word, kom nie tot stand nie. Gedurende die vyftigerjare emigreer baie Duitsers na oorsese lande, veral na die Verenigde State.

Desondanks ontwikkel die Duitstalige Middel-Europa danksy sy gevorderde ekonomie en tegnologieë tot een van die belangrikste gebiede ter wêreld. Onder die indruk van die maatskaplike ellende skryf Karl Marx sy "Kritiek op die politieke ekonomie". In Pruise gebruik die kanselier Otto von Bismarck internasionale spannings om Pruise se politieke hegemonie in Duitsland te bevorder.

Die Keiserryk (1871–1918)[wysig | wysig bron]

Hoofartikels: Unifikasie van Duitsland, Duitse Keiserryk en Eerste Wêreldoorlog.
Die stigting van die Duitse Keiserryk in die kasteel van Versailles.

Franse provokasies gee die aanleiding tot die Frans-Duitse Oorlog in 1870. Ná die Franse nederlaag gryp Bismarck die kans om 'n Duitse keiserryk onder die heerskappy van Pruise se koning Wilhelm I te stig. Die skadevergoeding wat Frankryk moet betaal, bevorder die ekonomiese oplewing in Duitsland. Die binnelandse beleid word deur die stryd teen die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk en die Sosiaal-Demokratiese Party gekenmerk. In die magstryd met ander Europese lande besluit Duitsland om sy eie koloniale ryk te stig, onder meer in Afrika en die Suidsee.

Die Eerste Wêreldoorlog breek in 1914 as gevolg van Duitse provokasies uit. Die Duitse planne, om eers Frankryk en daarna Rusland neer te werp, misluk. Duitse troepe word in 'n langdurige oorlog aan twee fronte verwikkel. Die Duitse nederlaag maak in 1918 ook 'n einde aan die monargie.

Die Republiek van Weimar (1918–1933)[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Republiek van Weimar.
Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die politieke situasie begin eers ná jare se onluste en die hiperinflasie van 1923 stabiliseer. Die kulturele lewe bloei tydens die sogenaamde "Goue twintigerjare", tog begin die ekonomiese en politieke toestande met die Groot Depressie in 1929 weer dramaties versleg. Radikale groeperings soos die Moskou-gesinde Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en die fascistiese Nasionaal-Demokratiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) ondermyn die demokratiese stelsel van die republiek. Die deflasionêre ekonomiese beleid van die kanselier Brüning vererger die ekonomiese krisis en die werkloosheidsyfer styg in Januarie 1932 tot meer as ses miljoen.

Die "Derde Ryk" (1933–1945)[wysig | wysig bron]

Hoofartikels: Nazi-Duitsland en Tweede Wêreldoorlog.
Adolf Hitler en die Italiaanse Duce ("leier") Benito Mussolini.

Op 30 Januarie 1933 word die leier van die NSDAP, Adolf Hitler, tot Rykskanselier van Duitsland benoem. Die verregse politici van die Duits-Nasionale Volksparty (DNVP) slaag nie daarin om Hitler en sy party in die gemeenskaplike koalisieregering "in bedwang te hou" nie, soos hulle oorspronklik beplan het. Binne enkele maande verseker Hitler sy ongedeelde mag, veral danksy die gewelddadige optrede van sy SA-groepering teen opposisiepartye. Joodse burgers en teenstanders word vervolg en vermoor.

Hitler en sy party oorheers Duitsland in 'n soort "populêre diktatuur" - die groot massa van die bevolking steun die bewind, terwyl andersdenkendes brutaal onderdruk word. Hitler forseer die bewapening en militarisering van Duitsland. Duitstalige gebiede soos Oostenryk en die Sudete-gebied in Tsjeggië word by die Duitse Ryk ingelyf. Ná 'n geheime ooreenkoms met die Sowjetiese diktator Stalin in die laat somer van 1939 beplan Hitler 'n aanvalsoorlog teen Pole. Op 23 Augustus val Duitse troepe Pole aan.

Ná sy oorwinning oor Frankryk in 1940 geniet Hitler die gewildheid van die massas. Nogtans is hy van voorneme om die Duitse ryksgebied in die ooste uit te brei en Stalin uit te skakel. Gevolglik beveel hy op 22 Junie 1941 om die Sowjetunie aan te val. Tog sedert die jaar 1942 word die Duitse ryksgebied in toenemende mate deur die oorlog geraak: Britse bomwerpers verwoes Duitse stede soos Keulen en Lübeck.

'n Poging van Duitse offisiere om Hitler deur middel van 'n sluipmoord uit te skakel misluk op 20 Julie 1944. Ná hierdie datum eis die oorlogshandelinge en bombardemente die lewens van meer Duitse soldate en burgerlikes as in die eerste vyf jare van die Tweede Wêreldoorlog. Danksy die oormag van die geallieerde troepe ly Duitsland uiteindelik 'n verpletterende neerlaag. Hitler pleeg op 30 April 1945 selfmoord in Berlyn. Russiese, Amerikaanse, Britse en Franse troepe beset Duitsland en ook die Duitse hoofstad word in vier besettingsones opgedeel.

Die naoorlogse tydperk[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Koue Oorlog.
Die vier geallieerde besettingsones in Duitsland.

In die Sowjetiese sone word die Sosiaaldemokratiese Party (SPD) in 1946 gedwing om met die Kommuniste (KPD) saam te smelt. Die gebied trek ook geen voordeel uit die Amerikaanse Marshall-plan nie, wat deur middel van krediete en ekonomiese hulp die heropbou van die oorlogsverwoeste Europa moontlik maak. Stalin reageer op die monetêre hervorming in die drie westelike besettingsones en die invoering van die Deutsche Mark (DM) as nuwe geldeenheid in 1948 met 'n blokkade van die westelike sones van Berlyn. Die geallieerde magte, waaronder ook die Suid-Afrikaanse Lugmag, vervoer tydens die sogenaamde Berlynse Lugbrug alle invoere vir Wes-Berlyn met vliegtuie na die stad. Stalin ly 'n politieke nederlaag en staak die blokkade in die volgende jaar.

Twee Duitse state[wysig | wysig bron]

Hoofartikels: Duitse Demokratiese Republiek en Wes-Duitsland.
Die Berlynse Muur in 1986.

Alle politieke pogings om Duitsland te herenig, misluk, aangesien Stalin nie daarin slaag om 'n neutrale Duitse staat in die lewe te roep nie en in 1949 word twee Duitse state gestig: Die Bondsrepubliek Duitsland (BRD) as 'n Westerse demokrasie en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) as 'n Sosialistiese staat. Die laaste Duitse krygsgevangenes word eers in 1956 deur die Sowjetunie vrygelaat.

'n Reusestroom vlugtelinge na Wes-Duitsland bedreig die politieke en ekonomiese stabiliteit van die DDR. In 1961 laat die DDR-regering die Berlynse Muur oprig. Sedert die jaar 1965 is die Duits-Duitse grenslyn met mynvelde en 'n grensdraad versterk.

Vanaf 1966 vorm die Sosiaaldemokrate vir die eerste keer 'n koalisieregering met die Christelike Demokrate en vanaf 1969 met die liberale party FDP. 'n Beleid van vreedsame toenadering tussen Wes-Duitsland en die Oosbloklande en politieke hervormings in Wes-Duitsland kenmerk hierdie tydperk.

In die DDR volg Erich Honecker in 1971 Walter Ulbricht as staats- en partyleier op. Anders as verwag volg hy geen liberale beleid nie en die staat versnel die nasionalisering van die laaste vrye ondernemings. In die Bondsrepubliek Duitsland word die voorsitter van die Christelik-Demokratiese Unie, Helmut Kohl, ná 'n mosie van wantroue in 1982 bondskanselier.

Die krisis van die DDR en die Duitse hereniging[wysig | wysig bron]

Die val van die Berlynse Muur in 1989.

Sedert 1987 groei die invloed van die opposisie binne-in die DDR, na die opposisie deur die Sowjetiese perestrojka-beleid aangemoedig word om meer demokratiese regte op te eis. Twee jaar later ruk die situasie in die land onder die indruk van massabetogings hand uit. Die staatsparty SED raak ontslae van Erich Honecker, maar slaag nie daarin om sy magsposisie te bewaar nie. Op 9 November 1989 word die Berlynse Muur geopen en in 1990 vind die eerste vrye verkiesing in die DDR plaas. Die DDR-parlement, die Volkskammer, besluit om by die Bondsrepubliek Duitsland aan te sluit. Die twee Duitse state word op 3 Oktober 1990 herenig en Berlyn word ná 45 jaar weer die hoofstad van die hele Duitsland.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Frankfurt in die metropolitaanse gebied van Ryn-Main is die finansiële sentrum van Duitsland.
Die hoofkwartier van die motorvervaardiger BMW, sy hoofaanleg en die BMW Wêreld-gebou in München.

Duitsland is tans die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld ná die Verenigde State, Sjina en Japan. Die land is volgens die Wêreldhandelsorganisasie (WHO; Engels: World Trade Organization, WTO) tans ook die tweede grootste uitvoerder ter wêreld ná Sjina en nog vóór die VSA. In 2014 het die handelsoorskot op 'n nuwe rekordsyfer van $285 miljard te staan gekom – die hoogste ter wêreld.[12] Duitsland se belangrikste handelsvennote is Frankryk, die VSA, die Verenigde Koninkryk, Nederland en Sjina.

Duitsland word sedert die einde van die 19de eeu steeds as een van die leidende nywerheidslande beskou. Die belangrikste nywerhede is motorvervaardiging, elektrotegniese produkte, masjienbou en chemie. Nogtans het die aandeel werknemers in die nywerheidsektor tussen 1970 en 2004 van 46 tot 26 persent gedaal, terwyl die aandeel werknemers in die dienstesektor verdubbel het en nou 71 persent (of 27 miljoen mense) bedra. Die tersiêre sektor se bydrae tot die BGP beloop tans meer as 70 persent.

Ondanks die sukses op die uitvoermarkte is daar groot ekonomiese vraagstukke wat die land nog steeds kwel. Die besparingspeil is baie hoog in vergelyking met ander ontwikkelde lande, terwyl die binnelandse verbruik relatief swak bly. As gevolg het die land teen die begin van die 21ste eeu gebuk gegaan onder 'n hoë werkloosheidsyfer van omtrent tien persent, die hoë koste van die sosiale welvaartstelsel, 'n baie hoë staatskuld en deflasionêre tendense op die goedere- en arbeidsmarkte. Lone en salarisse het ondanks die verhoogde produktiwiteit in die afgelope jare nouliks gestyg.

Die ekonomiese situasie in Oos-Duitsland is besonder kommerwekkend; hier ontbreek ná die omverwerping van die sosialistiese stelsel die industriële en tersiêre infrastruktuur, wat tot grootskaalse binnelandse migrasie na die westelike deelstate gelei het.

Groeikoers van die bruto binnelandse produk 2007–2014 in persent[wysig | wysig bron]

2007 2008 2009 2010 2011 2012 2013 2014
+3,3 +1,1 -5,6 +4,1 +3,6 +0,4 +0,1 +1,5

Bron: Statistisches Bundesamt

Renaissance van die nywerheidsektor[wysig | wysig bron]

Een van die mees noemenswaardige kenmerke van Duitsland se nuwe ekonomiese opswaai in die vroeë 21ste eeu is die oplewing van die nywerheidsektor. Sy aandeel aan die bruto geografiese produk van die land het tussen 2003 en 2007 van 24,4 tot 25,6 persent toegeneem.[13] Terwyl die nywerheidsektor in die meeste geïndustrialiseerde lande al dekades lank gekrimp het sodat hulle ekonomieë tot dienste-ekonomieë begin verander het, skep die sekondêre sektor, wat sonder die boubedryf slegs 14 persent van Duitsland se werknemers in diens het, tans 'n derde van alle nuwe werkgeleenthede.

Die industriële sektor word in teenstelling met die dienstesektor deur relatief hoë lone en salarisse gekenmerk.[14] Die persentasie uitvoere het in die periode tussen 1994 en 2006 van 28,3 tot 42,3 persent gestyg. Veral Oos-Duitsland se nywerhede groei tans vinnig en lewer sowat elf persent van die totale nywerheidsproduksie op.

In 2011 en 2012 was daar weer 'n beduidende toename in die getal werkgeleenthede in die nywerheidsektor wat einde September 2012 5,3 miljoen werknemers in diens gehad het. Die sterkste groei is in masjienbou (+3,6 persent) en by vervaardigers van metaalprodukte (+2,9 persent) aangeteken.[15]

Landbou, bosbou en vissery[wysig | wysig bron]

Die bydrae van die landbou, bosbou en vissery tot die bruto geografiese produk het in die jaar 2003 tot 1,1 persent gedaal. Nogtans is Duitsland ten opsigte van die voedselproduksie byna selfversorgend: Naastenby negentig persent van die benodigde agrariese produkte word plaaslik verbou. Duitsland is die derde grootste agrariese produsent in die Europese Unie ná Frankryk en Italië.

Inligtingstegnologie[wysig | wysig bron]

SAP se stalletjie tydens die CeBIT-handelskou vir inligtingstegnologie in Hannover, Nedersakse.

Die inligtingstegnologiebedryf is een van die mees dinamiese en innovatiewe sektore in die Duitse ekonomie. Met 'n jaarlikse omset van 222 miljard € dra die bedryf 4,5 persent tot die bruto-waardeskepping (meer as masjienbou) en het met 843 000 werknemers meer personeel in diens as die motorbedryf.[16]

Bekende inheemse ondernemings sluit SAP, 'n globale rolspeler wat kommersiële sagteware betref, asook Software AG, Datev en IMC in. In 'n hoogs geïndustrialiseerde omgewing soos Duitsland spits plaaslike IT-ondernemings hulle veral op dienste en ingebedde stelsels toe wat in reële gebruiksgoedere soos motors en elektroniese toestelle benodig word. Die integrasie van nywerhede, energie en inligtingstegnologie tot intelligente netwerke word as 'n uitdaging vir die toekoms beskou wat groot potensiaal vir ekonomiese groei inhou.

Demografie[wysig | wysig bron]

Bevolkingsdigtheid en verstedeliking[wysig | wysig bron]

Karlsruhe is 'n tipiese voorbeeld van 'n stadsontwerp uit die Baroktydperk. Die strate beweeg vanaf die graaflike slot as sentrale punt radiaal uitwaarts. Kopergravure deur Heinrich Schwarz, 1721.

Met 'n oppervlakte van 357 000 vierkante kilometer en meer as 80 miljoen inwoners behoort die Bondsrepubliek Duitsland tot die mees digsbevolkte lande ter wêreld. Sy bevolking is tans ook die grootste van alle lidstate van die Europese Unie. Dit is oneweredig oor die land versprei, en naas die stadstate Berlyn, Hamburg en Bremen het die deelstaat Noordryn-Wesfale die grootste bevolkingsdigtheid. Die Oos-Duitse deelstate word – met uitsondering van Sakse – deur 'n duidelik laer bevolkingsdigtheid gekenmerk.

Die nywerheidstreke van die Ruhrgebied, Halle-Leipzig en Chemnitz-Zwickau was die eerste gebiede waar groot bevolkingskonsentrasies ontstaan het. Later het streke soos die Ryn-Neckar- en Ryn-Main-gebied, die Saarland, en die metropolitaanse gebiede van Hannover (Nedersakse), Neurenberg, München, Stuttgart en Dresden 'n vinnige bevolkingsaanwas getoon. Die vyf grootste metropolitaanse gebiede is Ryn-Roer met 11,8 miljoen inwoners, Ryn-Main (5,8 miljoen), Berlyn (4,3 miljoen), Hamburg (3,3 miljoen) en Stuttgart (2,3 miljoen). Tans is Berlyn die grootste stedelike nedersetting met meer as 3,4 miljoen inwoners. Daarnaas het drie ander stede, Hamburg, München en Keulen, 'n bevolking van meer as een miljoen. Daar is altesaam meer as 80 stede met meer as 100 000 inwoners wat in Duitse statistieke as sogenaamde Großstädte ("groot stede") geklassifiseer.

Die ontwikkeling van stede het reeds in die Romeinse tydperk 'n aanvang geneem. In hierdie periode het nedersettings soos Keulen, Bonn, Trier, Augsburg en ander ontstaan. Middeleeuse stede is dikwels naby die setels van biskoppe gestig, soos byvoorbeeld Würzburg, Hildesheim en Maagdenburg, of het rondom keiserlike paltse begin ontwikkel, soos byvoorbeeld Aachen (Aken), Goslar en Quedlinburg. Vanaf die 11de eeu is nuwe stedelike nedersettings volgens doelgerig ontwerpte plattegronde veral in die suide van Duitsland gevestig. Daarnaas is ook nedersettings, wat gedurende die Duitse uitbreiding na die oostelike Sentraal-Europa gestig is, stelselmatig aangelê. In die Baroktydperk het heersers hul setels tot pragtige hoofstede uitgebou, waaronder Dresden, Karlsruhe en Mannheim.

Die Tweede Wêreldoorlog en die verwoestings, wat daarmee gepaard gegaan het, het net soos die verstedelikingsproses van metropolitaanse gebiede in die tweede helfte van die 20ste eeu die voorkoms van talle stede omvorm.

Huidige demografiese tendense[wysig | wysig bron]

Die jaarlikse immigrasiesyfers in die tydperk sedert 1991.

Van die 80,5 miljoen inwoners (soos op 31 Desember 2012) in 40,7 miljoen huishoudings is 41,1 miljoen vroulik en 39,4 miljoen manlik. Die persentasie buitelanders het 8,2 persent beloop.

Die Duitse bevolking van naastenby 75 miljoen sluit sewe miljoen immigrante van Duitse afkoms in, wat veral uit die Russiese Federasie, Pole en ander Oos-Europese lande na Duitsland gekom het (altesaam 4,2 miljoen mense in die tydperk tussen 1950 en 2002), of immigrante van dwarsoor die wêreld wat ingeburger is. In 2012 is meer as 112 300 buitelanders ingeburger – 'n styging van 5,2 persent teenoor die vorige jaar.

Van die inwoners was in 2010 24,6 miljoen mense (of 30,2 persent van die totale bevolking) Rooms-Katolieke, 24,2 miljoen Protestante (oorwegend Lutherane), 3,2 miljoen Moslems (waarvan 732 000 met Duitse burgerskap), 200 000 Boeddhiste en 102 000 Jode. Die Grieks-Ortodokse Metropolie van Duitsland het sowat 500 000 lede.

Die grootste groepe buitelanders is Turke (1,66 miljoen), burgers van ander lande van die Europese Unie (altesaam 2,1 miljoen, waarvan 0,5 miljoen Italianers, 0,3 miljoen Grieke, 0,3 miljoen Pole en 0,2 miljoen Oostenrykers) en immigrante uit die voormalige Joego-Slawië.

Die sowat 60 000 Sorbe (of Wende) in die deelstate Brandenburg en Sakse, 10 000 Friese in Noordfriesland en op die eiland Helgoland, 2 000 Friese in die Saterland-streek geniet net soos sowat 50 000 Sinti en Roma kulturele en politieke beskerming as nasionale minderhede.

Die natuurlike bevolkingsaanwas bly negatief, met 706 000 geboortes en 818 000 sterfgevalle in die jaar 2004. In 2011 het die aantal geboortes tot slegs 668 000 gedaal, die laagste ooit sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en slegs die helfte van die jaar 1964, toe daar in die Bondsrepubliek Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek 1,357 miljoen geboortes geregistreer is. Die geboortesyfer van net 8,5 per 1 000 inwoners is nou die laagste in Europa en vergelyk baie ongunstig met lande soos Frankryk (12,7) en die Verenigde Koninkryk (12,0). Vroue met kinders ervaar nog steeds baie nadele in die beroepslewe en baie egpare vrees dat hulle moontlik nie meer kinders kan bekostig nie.

Geboortes (groen) en sterfgevalle (rooi) in Duitsland tussen 1946 en 2004.

In 2006 is 124 830 buitelanders ingeburger.[17] Die aantal buitelanders wat 'n Duitse paspoort ontvang het, het vir die eerste keer in vyf jaar weer toegeneem. In 2005 is slegs 117 250 buitelanders ingeburger, in vergelyking met slegs 72 000 in 1995 en 'n rekordgetal van 186 700 in 2000.

In 2006 is twee derdes van die aansoekers (83 390 mense) ingeburger nadat hulle aan die voorvereiste van ten minste agt jaar verblyf voldoen en oor 'n geldige permanente verblyfpermit beskik het. Buitelandse eggenote en kinders wat reeds in Duitsland woon word na 'n korter wagtyd ingeburger (16 570 in 2006). 'n Derde belangrike kategorie is buitelanders wat volgens 'n besluit van Duitse owerhede ingeburger word (6 440 in 2006) of as gevolg van skadeloosstelling Duitse burgerskap ontvang (5 140 in 2006).

Van die buitelanders wat in 2006 ingeburger is, het sowat 33 000 of 26,8 persent uit Turkye gekom, 12 600 uit Serwië, Montenegro of die voormalige Joego-Slawië, 6 940 uit Pole en 4 690 uit die Russiese Federasie. Die aantal immigrante uit Israel wat Duitse burgerskap ontvang het, het in 2006 met 50,2 persent die meeste toegeneem.

Aangesien die laaste sensus in die Duitse Demokratiese Republiek in 1983 en in die vroeëre Bondsrepubliek Duitsland (Wes-Duitsland) in 1987 plaasgevind het, het presiese statistieke gegewens eers weer met die gesamentlike Europese sensus van die jaar 2010/11 beskikbaar geword. Volgens die sensus, wat op 31 Mei 2013 gepubliseer is, het Duitsland 'n amptelike bevolking van 80 327 900 op 31 Desember 2011 gehad.[18]

Immigrasie en emigrasie[wysig | wysig bron]

In 2012 het volgens voorlopige amptelike statistieke 1 081 000 immigrante na Duitsland gekom, 'n styging van 13 persent of 123 000 persone teenoor die vorige jaar. 712 000 inwoners het geëmigreer, 'n styging van 5 persent of 33 000 persone.[19]

Van die immigrante was 966 000 buitelanders (+15%) en 115 000 Duitsers wat uit die buiteland na Duitsland teruggekeer het. Die meeste immigrante was uit lidstate van die Europese Unie afkomstig. Opvallend was die sterk toename in immigrasie uit Suid-Europa, veral EU-lande wat deur die finansiële en skuldkrisis geraak word. So het die getal immigrante uit Griekeland met 10 000, dié uit Spanje met 9 000 of 45 persent en dié uit Portugal met 4 000 gestyg.

Van die emigrante, wat in 2012 geregistreer is, was 579 000 buitelanders en 133 000 Duitsers. Die amptelike statistieke maak geen verskil tussen tydelike en permanente immigrante en emigrante.

Immigrasie en emigrasie in 2009
Land van herkoms Aantal immigrante Bestemming Aantal emigrante
Pole 123 000 Pole 123 000
Roemenië 56 000 Roemenië 44 000
VSA 30 000 Turkye 40 000
Turkye 30 000 VSA 36 000
Bulgarye 29 000 Switserland 30 000

Bron: Statistisches Bundesamt

Lewenstandaard[wysig | wysig bron]

In 2010 het die gemiddelde maandelikse besteebare inkomste van Duitse huishoudings 2 981 € (41 510 ZAR) beloop.[20] Tegelykertyd is in 2009 'n sesde van die bevolking deur armoede bedreig. Van die totale uitgawes van privaat huishoudings is in 2010 34 persent aan behuising en renovasie, 14 persent aan kos en tabak, 14 persent aan vervoer, 11 persent vir kultuur en vryetydaktiwiteite, vyf persent aan klerasie en skoene, en 22 persent aan ander uitgawes bestee.

77 persent van die huishoudings het in 2011 oor 'n motor, 96,2 persent oor 'n televisietoestel, 88,1 persent oor 'n kamera, 82 persent oor 'n rekenaar, 75,9 persent oor internettoegang, 90 persent oor 'n selfoon, 99,1 persent oor 'n koelkas en 95 persent oor 'n wasmasjien beskik. 42 persent van die huishoudings het televisiekanale per satelliet ontvang, 46,4 persent per kabeltelevisie en 24,6 persent per digitale terrestriële televisie.

Taal[wysig | wysig bron]

Martin Luther, die Duitse reformator en hervormer van die Duitse taal, in 1529.

Duits is die amps- en mees gebruikte taal in Duitsland en word ook as standaardtaal in die media gebruik. In die noorde van Duitsland, veral in die gebied tussen Hannover en Kassel, het die standaardskryftaal lankal die plaaslike Nederduitse dialekte as omgangstaal vervang. Dialekte is egter veral in Suid-Duitsland nog steeds die mees gebruiklike omgangstale.

Duitsland erken ook die tale van etniese minderhede soos Deens, Fries en Sorbies as amptelike tale, alhoewel geen van hierdie minderheidstale meer as 100 000 sprekers het nie. Ander plaaslike minderheidstale soos Moeselromaans (uitgestorwe in die 11de eeu), Polabies (uitgestorwe in die 18de eeu) en Jiddisj word nie meer gepraat nie.

Groot immigrantegroepe soos Russe (die aantal Russiessprekendes, waaronder Ruslandduitsers, word op sowat vier miljoen beraam wat van Russies die tweede grootste taal na Duits maak) en Turke gebruik dikwels hulle eie tale: in groot stede soos Berlyn beskik hierdie immigrante oor hul eie infrastruktuur, wat ook dagblaaie insluit. Die plaaslike advertensiebedryf gebruik dikwels die Turkse taal en sekere amptelike kennisgewings verskyn ook in Turks.

Duits was vroeër 'n verkeerstaal in Middel-Europa, Oos-Europa en Skandinawië en speel ook 'n tyd lank 'n belangrike rol as internasionale wetenskapstaal. Dit is nog steeds die tweede belangrikste vreemde taal in die Europese onderwysstelsels na Engels. Duits is ook wêreldwyd die derde belangrikste vreemde taal in die onderwys en die tweede belangrikste taal van die internet, waar sowat agt persent van alle bladsye in Duits verskyn (teenoor sowat vyftig persent in Engels).

Martin Luther se Bybelvertaling speel in die 16de eeu 'n belangrike rol by die uitbreiding van die huidige Nieuhoogduitse standaardtaal. In 1781 gee Johann Christoph Adelung die eerste groot woordeboek van die Duitse taal uit. Die gebroeders Jacob en Wilhelm Grimm begin in 1852 met die uitgawe van die grootste Duitse woordeboek ooit, wat eers in 1961 voltooi is en tans bewerk word. Die huidige spelling is tydens die 19de eeu vasgelê en steun veral op die Ortografiese Woordeboek van die Duitse Taal (Orthographisches Wörterbuch der deutschen Sprache) van Konrad Duden, wat in 1880 verskyn het. Die laaste spellinghervorming in die Duitse taalgebied is in 1996 deurgevoer.

Die belangrikste buitelandse tale in die Duitse onderwys is Engels, Frans, Russies, Spaans en Latyn. In Noordryn-Wesfale word ook Nederlands as tweede taal aangebied.

Kultuur[wysig | wysig bron]

Duitsland het 'n baie groot bydrae tot die wêreld se kulturele erfenis gelewer en die land word dikwels ook die "land van digters en denkers" genoem.

Reeds in die Oud- en Middelhoogduitse tydperk ontstaan 'n literatuur van eersterangse gehalte en Middeleeuse digters soos Walther von der Vogelweide en Wolfram von Eschenbach behoort tot die belangrikstes in Europa. Die Nibelungenlied, wat deur 'n onbekende outeur geskryf is, en die sprokies van die Gebroeders Grimm is literêre werke van wêreldfaam.

Die Bybelvertaling van Martin Luther staan aan die beginpunt van die moderne Nieuhoogduitse standaardtaal, wat in die 16de eeu die verskillende Neder- en Hoogduitse dialekte as skryftaal vervang.

Die Semperoper in Dresden.

Bekende Duitse skrywers tot by die 19de en vroeë 20ste eeu sluit Gotthold Ephraim Lessing, Johann Wolfgang von Goethe, Friedrich Schiller, Heinrich von Kleist, E. T. A. Hoffmann, Friedrich Hölderlin, Heinrich Heine, Annette von Droste-Hülshoff, Theodor Fontane en Rainer Maria Rilke in. 20ste eeuse wenners van die Nobelprys vir Letterkunde is Thomas Mann, Hermann Hesse, Heinrich Böll en Günter Grass. Bertolt Brecht oorheers tydens die vyftigerjare die Duitse toneelkuns.

Die filosofie is deur Duitse wysgere soos Gottfried Wilhelm Leibniz, Immanuel Kant, Johann Gottfried von Herder, Moses Mendelssohn, Novalis (bydraes tot die filosofie van die romantiese literêre beweging), Johann Gottlieb Fichte, Georg Wilhelm Friedrich Hegel, Karl Marx, Friedrich Engels, Ludwig Feuerbach, Arthur Schopenhauer, Albert Schweitzer, Friedrich Wilhelm Nietzsche, Edmund Husserl, Hartmann, Karl Jaspers, Rosa Luxemburg, Martin Heidegger, Hannah Arendt, Hans-Georg Gadamer en Jürgen Habermas verryk, terwyl Ferdinand Tönnies, Georg Simmel, Max Weber, Max Horkheimer, Theodor Wiesengrund Adorno en Niklas Luhmann groot bydraes op die gebied van die sosiologie gelewer het.

Ten opsigte van die musiek het Duitse en Duitstalige komponiste en dirigente soos Johann Sebastian Bach, Wolfgang Amadeus Mozart, Georg Friedrich Händel, Georg Philipp Telemann, Heinrich Schütz, Ludwig van Beethoven, Felix Mendelssohn Bartholdy, Engelbert Humperdinck, Otto Nicolai, Gustav Albert Lortzing, Johannes Brahms, Robert Schumann, Richard Wagner, Johann Pachelbel, Jacques Offenbach, Wilhelm Furtwängler, Hanns Eisler, Max Reger, Johann Strauss, Paul Hindemith, Carl Orff, Karlheinz Stockhausen, Hans-Werner Henze en Helmut Lachenmann wêreldwye bekendheid verwerf.

Argitektuur[wysig | wysig bron]

Die Porta Nigra in Trier.
Die Olimpiese Stadion in München (1972).

Duitsland pronk met 'n ryk en veelvuldige argitektuurgeskiedenis wat nou verweef is met dié van sy Europese buurlande. Aan die beginpunt van die argitektoniese ontwikkeling het die boukuns van die Romeinse antieke oudheid gestaan waarvan baie bouwerke soos die stadspoort Porta Nigra in Trier bewaar gebly het. Omtrent 1030 is die voor-Romaanse boustyle verder ontwikkel tot die Romaanse styl. Tweehonderd jaar later is die Gotiese boustyl vanuit Frankryk oorgeneem waarvan die katedraal van Keulen en die Liewe-Vroukerk in Trier pragtige voorbeelde is.

Omtrent 1520 begin die Italiaanse Renaissance sy invloed op die Duitse argitektuur uitoefen, alhoewel daar min bouwerke in 'n suiwer Renaissance-styl ontwerp is. Die raadsaal van Augsburg (Beiere) is een van die bekendste voorbeelde. Ook die barok-boustyl is taamlik laat (omtrent 1650) in Duitsland ingevoer. Een van die leidende barok-argitekte was Balthasar Neumann wat onder meer die Wies-kerk en die slot van Ludwigsburg (tans Baden-Württemberg) ontwerp het.

Die Klassisistiese styltydperk begin in Duitsland omtrent 1770 en lewer onder meer bekende bouwerke in die huidige hoofstad Berlyn soos die Altes Museum (Ou Museum), die kasteel Charlottenhof en die Brandenburgse Poort op. Ook tydens die Historisme, 'n styltydperk wat tussen 1840 en 1900 toonaangewend was, het bekende bouwerke soos die kasteel Neuschwanstein in Beiere en die Berlynse Domkerk ontstaan.

In die vroeë 20ste eeu het Duitse argitekte 'n leidende rol by die ontwikkeling van die klassieke moderne boustyl gespeel. Walter Gropius, Ludwig Mies van der Rohe en die Bauhaus in Dessau-Roßlau (Sakse) oefen nog steeds 'n belangrike invloed op die moderne internasionale argitektuur uit.

Met die monumentale argitektuur van die Nasionaal-Sosialisme, waarvan die argitek Albert Speer die belangrikste verteenwoordiger was, het die ontwikkeling van die boukuns tot stilstand gekom. Die grootheidswaan van Adolf Hitler en Albert Speer het onder meer die ombou van Berlyn tot 'n wêreldhoofstad met die naam Germania behels.

Die jare van heropbou ná die Tweede Wêreldoorlog is deur pragmatisme oorheers, en Duitse argitekte het net geleidelik begin om weer uitdrukking te gee aan kenmerkende nuwe style. Die stadion, wat vir die Olimpiese Somerspele 1972 in München opgerig is, was een van die indrukwekkendste projekte van die moderne Duitse argitektuur.

In die laaste dekades het ook Duitse argitekte begin om projekte dwarsoor die wêreld aan te pak. Konstruksies en ontwerpe het opnuut wêreldgehalte bereik, alhoewel die argitektoniese ontwikkelings nie meer deur Duitse argitekte oorheers word nie. Nogtans is daar Duitse boorling argitekte soos Helmut Jahn (tans Chicago) wat 'n leidende rol in die internasionale boukuns speel en ook projekte in Suid-Afrikaanse stede soos Johannesburg en Durban ontwerp het.

Sport[wysig | wysig bron]

Die nasionale sokkerspan van Duitsland ná hul oorwinning oor Argentinië in die 2014-wêreldbeker-eindwedstryd in Brasilië

Sokker is die gewildste sportsoort in Duitsland. Sowat 170 000 sokkerspanne met meer as ses miljoen aktiewe lede is georganiseer in die Duitse sokkerbond (Deutscher Fußball-Bund, DFB), wat ook as gasheer van die FIFA se Sokker-Wêreldbekertoernooie in 1974 en 2006 optree het. Die Duitse topliga, die Bundesliga, het in die 2005/2006-seisoen die eerste sokkerliga ter wêreld geword wat nog ooit 'n gemiddelde bywoningsyfer van meer as 40 000 mense per wedstryd kon behaal. Die DFB is die grootste en suksesvolste sportorganisasie ter wêreld en die 2006-Wêreldbekertoernooi in Duitsland is deur die president van die FIFA, Joseph Blatter, as die beste ooit beskryf. Die toernooi is geesdriftig deur die plaaslike bevolking gesteun.

Ander gewilde sportsoorte is handbal en korfbal, alhoewel hulle nie dieselfde aandag in die media geniet as sokker en byvoorbeeld Formule Een-motorwedrenne, yshokkie, tennis en fietswedrenne nie.

Duitse stede het twee keer as gasheerland van die Olimpiese Somerspele opgetree: Berlyn in 1936 en München in 1972. Garmisch-Partenkirchen het die Olimpiese Winterspele 1936 aangebied.

Duitsland beskik ook oor talle bekende wintersportsterre wat gereeld medaljes by die Olimpiese Winterspele asook Europese en Wêreldkampioenskappe wen.

Bronne[wysig | wysig bron]

Algemene inligting

Klimaat

Geskiedenis

Politiek: Staatsorganisasie

Statistieke

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (de) Statistisches Bundesamt: Bevölkerung auf Grundlage des Zensus 2011, besoek op 27 Maart 2014.
  2. (de) Zensus 2011: Bevölkerung am 9. Mai 2011, besoek op 2 Junie 2013
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) Duitsland”. Internasionale Monetêre Fonds: October 2013. URL besoek op 27 Maart 2014.
  4. (en) Human Development Report 2013”. Verenigde Nasies: 2013. URL besoek op 14 Maart 2013.
  5. (en) Gini coefficient of equivalised disposable income (source: SILC)”. Eurostat Data Explorer. URL besoek op 27 Maart 2014.
  6. Fodor's Germany. Kindle-eBoek-uitgawe. New York: Fodor's Travel Publications 2014, pos. 109
  7. www.huffingtonpost.de, 6 Julie 2015
  8. Christian Deick. Deutsche Geschichte — Von den Anfängen bis zur Gegenwart. 2005. Ravensburger Buchverlag.
  9. Manfred Jehle, Erich Hafner, Lothar Kölm, Michael Schippan en Alfred S. Wunsch: Die Deutschen. Geschichte und Tradition. Keulen: Lingen 2012, bl. 138
  10. Manfred Jehle e.a. (2012), bl. 138
  11. Manfred Jehle e.a. (2012), bl. 140
  12. www.welt.de, 2 Februarie 2015: Deutschland hat weltweit größten Exportüberschuss. Besoek op 2 Februarie 2015
  13. Reiermann, Christian: Überraschende Renaissance. In: Der Spiegel, nommer 7, 11 Februarie 2008, bl. 67
  14. Reiermann (2008), bl. 67
  15. Mehr Beschäftigte in deutscher Industrie. In: handelsblatt.com, 14 November 2012
  16. "Hohe Wachstumspotenziale" für deutsche IT-Branche. In: dradio.de, 13 November 2012
  17. Statistisches Bundesamt, 23 Julie 2007
  18. (de) Statistisches Bundesamt: Bevölkerung und Erwerbstätigkeit, besoek op 3 Junie 2013.
  19. destatis – persmededelings: Weiterhin hohe Zuwanderung nach Deutschland im Jahr 2012
  20. destatis.de: Statistisches Jahrbuch 2012, bl.170. Besoek op 28 Augustus 2013. Wisselkoers €/ZAR soos op 27 Augustus 2013

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:

Portale

Nuusmedia

Duitse ambassade in Suid-Afrika