Armenië

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
Հայաստանի Հանրապետություն
Hayastani Hanrapetut'yun
Republiek van Armenië
Vlag van Armenië Wapen van Armenië
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Մեկ ազգ, մեկ մշակույթ
Mek azg, mek mshakuyt
(Armeens vir: "Een nasie, een kultuur")
Volkslied: Մեր Հայրենիք
Mer Hayrenik
(Armeens vir: "Ons Vaderland")
Ligging van Armenië
Hoofstad Jerewan

40°11′N 44°31′O / 40.183°N 44.517°O / 40.183; 44.517

Grootste stad Jerewan
Amptelike tale Armeens[1]
Regering Semi-presidensiële
republiek[1]
Serzj Sarkisian
Hovik Abrahamyan
Onafhanklikheid
Vorming en onafhanklikheid
• Tradisionele datum
• Nairi
• Koninkryk van Ararat
• Orontid-dinastie
• Koninkryk van Armenië
• Eerste Republiek van Armenië
• Onafhanklikheid van die Sowjetunie:
• Verklaar
• Erken
• Bereik


2492 v.C.
1200 v.C.
840's v.C.
560 v.C.
190 v.C.
28 Mei 1918

23 Augustus 1990
21 September 1991
21 Desember 1991
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
29 743 km2  (141ste)
11 484 myl2
4,71[2]
Bevolking
 - 2014-skatting
 - Digtheid
 
3 009 800[3] (134ste)
108,4 / km2 (99ste)
280,7 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2014-skatting

$24,26 miljard[4] (136ste)
$7 400

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2014-skatting

$11,1 miljard[5]
$3 688

MOI (2013) Green Arrow Up Darker.svg 0,729[6] (87ste)  –  hoog
Gini (2008) 30,9[7] –  medium
Geldeenheid Dram (դր.) (AMD)
Tydsone
 - Somertyd
AMT (UTC+04)
AMST (UTC+05)
Internet-TLD .am
Skakelkode +374

Armenië (Armeens: Հայաստան Hayastan, Հայք Hayq), amptelik die Republiek van Armenië, is 'n klein landomringde staat in die suidelike Kaukasus, tussen die Swartsee en die Kaspiese See, begrens deur Turkye in die weste, Georgië in die noorde, die Republiek van Nagorno-Karabach (Artsach) en Azerbeidjan in die ooste en Iran en die Naxçıvan-eksklave van Azerbeidjan in die suide.

Armenië is een van die oudste kultuurlandskappe op aarde met 'n geskiedenis wat verder terugstrek as dié van die meeste Europese lande. Sy ryk kulturele en argitektoniese verenig elemente van verskillende tradisies. Dit was sy ligging langs die belangrike Syroete tussen Asië en Europa wat Armenië gedurende sy lang geskiedenis verskeie kere blootgestel het aan die kulturele en politieke invloede van ander moondhede. So het periodes van nasionale onafhanklikheid gewissel met tydperke waartydens die land onder Bisantynse, Persiese, Mongoolse, Turkse en Russiese bewind gekom het.

Armeens maak deel uit van die Indo-Europese taalfamilie, dog het Armeniërs hul eie 'n unieke alfabet ontwikkel wat sedert die middeleeue onveranderd in gebruik is. Armenië was die eerste land ter wêreld wat die Christendom as amptelike godsdiens aanvaar en met die Armeens-Apostoliese geloof in 301 n.C. 'n nasionale kerk gevestig het. Die heilige berg van die Armeniërs, Ararat, is tans egter buite Armenië se staatsgebied in Turkye geleë.

Die twee pieke van Ararat, die heilige berg van Armeniërs

Ook die meerderheid Armeniërs het hulle in die buiteland gevestig. Van die altesaam agt miljoen Armeniërs leef tans slegs sowat drie miljoen in die Republiek van Armenië. Verdrywings en etniese suiwerings loop soos 'n draad deur die geskiedenis van die Armeniërs. As Christelike minderheid in Islamitiese lande soos Turkye en Azerbeidjan - en dikwels ook as ekonomies suksesvolle groep - het hulle verskeie kere slagoffers van etniese en godsdienstige onderdrukking geword.

Vanaf die 15de eeu was Armenië 'n omstrede land tussen die Ottomaanse en die Persiese Ryk. In die 19de eeu het die Russiese heerskappy oor die Kaukasusgebied met Oos-Armenië begin. Wes-Armenië, 'n gebied in Klein-Asië, was deel van die Ottomaanse Ryk. Hier het in 1895 en 1896 eerste massiewe etniese suiwerings en massamoorde plaasgevind.

Die Armeense volksmoord, wat in 1915 in die Turkse Ottomaanse Ryk begin het nadat Armeniërs as bondgenote van buitelandse Christelike magte afgestempel is, het honderdduisende, moontlik 1,5 miljoen menselewens geëis. Die volksmoord, wat deur Turkye as regsopvolger van die Ottomaanse Ryk nie amptelik erken word nie, is steeds 'n traumatiese ervaring wat deur Armeniërs dikwels Aghet of die Groot Ramp genoem word.

Tussen 1920 en 1989 was Armenië 'n relatief welvarende republiek van die Sowjetunie, maar het ná sy onafhanklikwording deur 'n sterk aardbewing, die moeilike proses van ekonomiese transformasie, die groot afhanklikheid van energie-invoere en die konflik met Azerbeidjan oor die Nagorno-Karabach-gebied, 'n enklawe in Azerbeidjan wat hoofsaaklik deur Armeniërs bewoon word, in 'n moeilike ekonomiese posisie beland.

Geografie[wysig | wysig bron]

Ligging en struktuur[wysig | wysig bron]

Jermuk-waterval
Vulkaniese landskapsvorme in die Geghama-berge
Poesjkin-bergpas

Armenië is in die oorgangsgebied tussen Klein-Asië en Transkaukasië geleë. Histories het Armenië veel wyer gestrek - vanaf die suidelike hellings van die Kaukasusreeks in die noorde tot die oewers van die Iranse Urmiameer in die suide, en vanaf gebiede naby die Kaspiese See in die ooste tot die Kilikiese vlakte tussen Sirië en Oos-Anatolië in die weste waar die magtige Taurusgebergte 'n natuurlike grens gevorm het.[8]

Die huidige staatsgebied beslaan 29 800 km² in die noord-ooste van die Armeense Hoogland en aan die suidelike uitlopers van die Klein Kaukasus. Armenië grens in die noorde aan Georgië, in die ooste aan Azerbeidjan, in die suid-ooste aan Iran, in die suide aan die Azerbeidjanse eksklawe Nachitsjewan en vanuit die suid-weste tot in die weste aan Turkye. Die huidige bevolking is sowat 3,2 miljoen.

Die historiese Khor Virap-klooster, met die berg Ararat in die agtergrond

Armenië is 'n bergagtige land - sowat negentig persent van sy oppervlakte is hoër as 1 000 en veertig persent hoër as 2 000 meter bo seevlak geleë, op 'n gemiddelde hoogte van 1 800 meter. Uitlopers van die Klein Kaukasus strek tot in Noord-Armenië waar hul pieke hoogtes van meer as 3 000 meter bereik. Die landskap word oorheers deur uitgedoofde vulkane en lawaplato's waarin diep ravyne gesny is.

Die hoogste piek in Armenië is die uitgedoofde en vergletserde vulkaankeël Aragats (4 090 m) naby die Bybelse berg Ararat, sy laagste punt (380 m) is langs die oewer van die Aras-rivier in die grensgebied met Iran en Azerbeidjan geleë.

Armenië is in 'n uitgestrekte geplooide bergreeks temidde van 'n geologies en seismies aktiewe gebied geleë. Die berggebied is as gevolg van die botsing van twee tektoniese plate, die Eurasiese en die Arabiese Plaat, gevorm. Druk en skeuring langs dié breuklyn veroorsaak aardbewings. Die laaste groot skudding het in 1988 plaasgevind en groot skade in stede soos Gjoemri (destyds nog Leninakan genoem), Spitak, Vanadzor asook in kleiner nedersettings berokken.

Die plaaslike gesteentes is dikwels van vulkaniese oorsprong. Natuurlike hulpbronne, wat in Armenië aangetref word, is onder meer koperoksiede wat neweprodukte soos molibdeen, yster en goud bevat, naas uraan, 'n verskeidenheid halfmetale, sierstene, tufsteen, basalt en marmer. Armenië se sowat driehonderd minerale warmwaterbronne word vir geneeskundige en alledaagse doeleindes gebruik.

Die Sewanmeer, wat 1 900 meter bo seevlak oos van Jerewan geleë is, is die grootste in die land met 'n oppervlak van 940 km². Weens oorbenutting van sy waterbronne het die oppervlak sedert 1984, toe dit nog 1 262 km² beloop het, sterk gekrimp. Die langste riviere in die land is Aras, Worotan, Kasach, Hrazdan en Debed.

Klimaat[wysig | wysig bron]

Jerewan in Februarie - 'n sneeulaag het oor die stad gevou. In die agtergrond toring die pieke van die Bybelse berg Ararat uit

Armenië se klimaat word deur twee faktore bepaal: die hoë bergreekse, wat groot temperatuurskommelinge kan veroorsaak, en die nabygeleë Swart- en Kaspiese See, wat 'n matigende invloed uitoefen. Die bergpieke van die Kaukasus-bergreeks beskerm die land teen koue fronte uit die noorde.

Alhoewel Armenië in die subtropiese klimaatsone geleë is, skep die reliëf van sy bergagtige landskap en die gepaardgaande hoogteverskille (die hoogste punt, die bergpiek Aragats met 'n hoogte van meer as 4 000 meter bo seevlak is slegs sowat 80 kilometer van Armenië se laagste punt, die Aras-vallei, geleë) 'n reeks uiteenlopende mikroklimate.

Eerste lentebodes in die Dilidjan-berge

So kan die kwik in die hoofstad Jerewan in die warmste maande van die jaar, Julie en Augustus, tot 40 °C styg, terwyl die herstellingsoord Dilidjan, wat sowat 120 kilometer noord-oos van Jerewan geleë is, nat en mistige weer beleef. In Jerewan is die gemiddelde temperatuur in Januarie en Februarie -4 °C. In die hoofstad word jaarlikse neerslae van tussen 270 en 350 millimeter aangeteken. Die natste tyd van die jaar is gewoonlik tussen November en April of Mei. Sneeuvalle en sneeustorms kom in die winterseisoen gereeld voor. In hoër geleë landsdele daal die kwik ná sononder dikwels ook in die somer benede 10 °C.

Met uitsondering van enkele vogtige gebiede in Lori, Tavoesj en Sjoenik het die grootste deel van die land 'n relatief droë en koeler bergklimaat waarby die Ararat-hoogplato meer as 320 sonskyndae per jaar geniet. Laer geleë landsdele en valleie word deur 'n kontinentale klimaat met warm somers met temperature van meer as 30 °C (met uiterstes van meer as 40 °C) en koue winters gekenmerk. In Noordwes-Armenië kan die kwik in koue winters tot -45 °C daal. Die laagste temperatuur, wat ooit gemeet is, was -46 °C naby die Arpimeer. Die gebiede langs die grens met Iran is subtropies en droog.

Flora en fauna[wysig | wysig bron]

Flora[wysig | wysig bron]

'n Armeense appelkoostuin

Armenië is ryk aan endemiese plant- en dierspesies, ondanks die skaars watervoorrade, ruwe klimaat en bergagtige topografie van die land wat eerder met sanderige grond en rotsige bergreekse geassosieer word as met groen landskappe. Slegs in die lente, wanneer die sneeu in die berge begin smelt en die somerhitte nog nie pla nie, is die hele land vir 'n kort tyd lank met groen gras bedek.

Die inheemse plantespesies is Mediterreens en Alpyns. Soutplante of halofiete kom hoofsaaklik in die Arasvlakte voor. Kruidagtige plante van die genus Artemisia word algemeen aangetref in gebiede wat nie hoër as 1 400 m bo seevlak geleë is nie. Hoër geleë berggebiede is die habitat van xerofiele plantspesies wat by die droë klimaat aangepas is, veral stekelrige struike en ander doringplante soos byvoorbeeld distels. Nog omstreeks 1900 was 'n kwart van Armenië se oppervlakte met bosse of struike bedek. Dié gebiede se aandeel het voortdurend gekrimp tot sowat vyftien persent in 1964 en slegs agt tot tien persent in 2005.

'n Geopende granaatappel

In Sangesur in die suide van die land is die boomgrens sowat 2 400 m. Daar is min beboste gebiede, hoofsaaklik in die noord-ooste en in die bergagtigte dele van die provinsie Sjoenik in Suidoos-Armenië. Naas wilde vrugtebome aard dennebome en loofbome soos eike, akasias en neutbome in geskikte klimaatgebiede. Hoër geleë landsdele het 'n flora wat baie ooreenkomste met dié van die Europese Alpe toon.

Een van die simbole van Armenië, die appelkoos, wat sy oranje kleur aan die derde horisantele streep van die Armeense vlag verleen het, is inheems aan die land. Sy Latynse naam (Prunus armeniaca) kan as "Armeense pruim" vertaal word. Armeense appelkose het dikwels vuisgrootte en is suikersoet. Naas appelkose word in die Armeense Hoogland tradisioneel granaatappels, wyndruiwe, perskes en vye verbou. Armeense moerbeibome dra wit of swart vrugte wat baie gewild is.

Volgens legendes het Noag die eerste wingerdstokke teen die hellings van die berg Ararat geplant. Historiese dokumente bevestig dat die Urarteërs reeds sowat 2 800 jaar gelede wyn in die gebied verbou het.

Fauna[wysig | wysig bron]

Armeense rotsakkedis (Darevskia armeniaca)

Armenië se prehistoriese ekosisteme was deur 'n besonder ryk fauna gekenmerk wat selfs groot olifante (Elephas armenicus) en troppe wilde perde en bisons ingesluit het. Die destyds nog dig beboste landsdele was die habitat van wolwe, roofkatte en bere. Baie van dié spesies het in Armenië lankal uitgesterf, behalwe vir enkele wolwe wat tans weer in beboste dele die land aangetref word, net soos Siriese bruinbere, rooi en swart wild soos edelherte en vosse. Alpynse spesies soos steenbokke, Armeense wildeskape (wat verwant aan Europese moeflons is) en roofvoëls soos arende en valke kom algemeen voor.

Tans is daar meer as 450 spesies van werweldiere in die land, waaronder 76 soogdier-, 304 voël-, 44 reptiel-, ses amfibiese en 24 visspesies, asook meer as 1 000 spesies van werwelloses.

Vogtige vlaktes is die habitat van wildevarke, jakkalse, reebokke, Europese nertse, meeue en arende. Daar is baie endemiese reptiele, waaronder die Armeense rotsakkedis en gifslange soos adders, en skerpioene. Twee slangspesies, Vipera lebetina transcaucasica en Vipera raddei armeniaca, kan ook vir die mens gevaarlik wees. Knaagdiere soos springmuise het van die bergagtige steppes van Armenië hul habitat gemaak. Lynxe, wilde bokke en enkele Kaukasiese luiperde word nog in die Chosrow-natuurbewaringsgebied aangetref. Naby hierdie reservaat kom ook Armeense wildeskape (Ovis ammion gmelini) voor, net soos in die suidelike Sangesur-bergreeks.

Die aantal wildeskape in Armenië word op sowat 250 beraam. Hulle word egter ook in aangrensende lande soos Iran aangetref. Baie Armeense voëlspesies is in bosagtige streke en rondom die Sevanmeer saamgetrek. In die Sevanmeer is intussen weer met die teelt van Armeense forelle ("isjchans") begin

Tot dusver is min navorsing oor Armeense werwelloses gedoen. Daar is byvoorbeeld baie spesies weefspinnekoppe, waarvan tans sowat 150 bekend is. Ook insektespesies is volop, waaronder kewers, reuse-miere en stokinsekte (wandelende takke).

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Geologiese en geopolitiese omgewing[wysig | wysig bron]

Azat-dam by die Azat-rivier

Die huidige Republiek van Armenië beslaan net die noord-oostelike deel van die historiese Armenië, 'n land wat van die suidelike uitlopers van die Klein Kaukasus oor die Armeense Hoogland tot by die Tavros-bergreeks gestrek het.

Seismiese aktiwiteit is hoog in die gebied wat naby 'n groot breuk geleë is sodat Armenië verskeie kere in sy geskiedenis deur aardbewings getref is. Die geografiese ligging het nog in 'n tweede opsig 'n beslissende rol in die geskiedenis van Armenië gespeel. As 'n welvarende en kultureel hoogs ontwikkelde land in die grensgebied tussen Europa en Asië, waardeur hoofhandelsroetes tussen dié twee vastelande geloop het, het dit steeds 'n geostrategiese belangrike posisie ingeneem wat die belangstelling van omliggende moondhede gewek het.

Eeue lank was Armeniërs in 'n stryd met 'n reeks invallers en veroweraars gewikkel - Assiriërs, Romeine, Bisantyne, Parthers, Arabiere en Turke wat almal oorlog teen Armenië gevoer het om die land in te neem, maar steeds met felle weerstand te kampe gehad het. Die Armeniërs het ondanks hul onstuimige geskiedenis daarin geslaag om hul historiese identiteit en hul nasionale erfenis te bewaar. Sosiale, intellektuele en godsdienstige faktore het naas historiese gebeure bygedra tot die vorming van 'n veelsydige en unieke beskawing met 'n ryk kulturele lewe.

Oorsprong[wysig | wysig bron]

Die prehistoriese steenkringe van Zorats Karer

Die Armeense mitologie vertel oor die oorsprong van die land en sy bewoners in verhale soos dié van die Hayk, 'n held wat dieselfde naam dra as die Armeense volk wat na hulself as Hayk en na hul land as Hayastan verwys het. Movses Khorenatsi, 'n 5de eeuse geskiedskrywer, het die heldedade van Aram uitvoerig beskryf wat ver oor die grense van Armenië bekendheid verwerf het. Naburige volke het na Armeniërs as Armene of Armeniërs verwys.

In geskiedkundige en argeologiese opsig maak die vroegste episode in die geskiedenis van Armenië deel uit van die vroeë geskiedenis van die Ašelyan-gebied sowat 500 000 jaar gelede toe die gebied deur jagters en versamelaars bewoon is. Die Armeense Hoogland is later duisende jaar lank deur nomadiese volke bewoon voordat Indo-Europese groepe soos die Hetiete en die Semitiese Hurriters hulle hier gevestig het. Die etnogenese van die huidige Armeense volk was 'n langdurige en ingewikkelde proses waarin Indo-Europese stamme uiteindelik 'n beslissende rol sou speel. Navorsers neem aan dat die Haias-stam die belangrikste invloed uitgeoefen het en ook sy naam aan die latere Armeense volk verleen het.

Argeologiese navorsing toon dat die vroeë Armeniërs die wiel vir vervoerdoeleindes gebruik het, meesters van bronsvervaardiging was en druiwe verbou het. Die eerste geskrewe dokumente oor Armeniërs is hiërogliewe wat tussen 1388 en 1347 v.C. in Klein-Asië gegraveer is. Die oudste inskrif, wat na Armenië as land verwys, is in 1114 v.C. deur Assiriërs gegraveer en beskryf die vereniging van konings in die sentrale gebiede van Armenië. Die Armeniërs word hier die Nairi-volk genoem.

Urartu, die eerste Armeense koninkryk[wysig | wysig bron]

Die vestingmure van Erebuni, Jerewan

In die 9de eeu v.C. het 'n konfederasie van inheemse stamme in 'n eenheidstaat, Urartu, saamgesluit. Urartu het vinnig tot een van die magtigste ryke in die Nabye Ooste en 'n ernstige bedreiging vir die Assiriërs as oorheersende moondheid in die streek ontwikkel.

Die oorspronge van die Koninkryk Urartu is by die Wes-Armeense Van-meer geleë. Om Assiriese aanvalle af te weer het Arama van Arzaškun omstreeks 850 v.C. 'n militêre alliansie met die Aramese stadstaat Bit Agusi gesluit. Naburige volke het na die Urarteïese voorvaders van die huidige Armeense volk as Aramene verwys.

Salmanassar III het Arzaškun in 848 v.C. in 'n militêre offensief aangeval waartydens ook nedersettings in die omgewing vernietig is. Arama het na die berge gevlug. Salmanassar III het tussen 844 en 832 v.C. verdere aanvalle teen Nairi geloods. Onder Sarduri I is in 832 v.C. Toesjpa in 'n provinsie van Nairi by die Van-meer as koninklike setel en hoofstad gestig.

Die eiland Akhtamar in die Van-meer, Wes-Armenië (tans in Turkye), met die 10de eeuse Armeense katedraal van die Heilige Kruis

Sy opvolgers het die ryk verder uitgebrei en 'n bloeitydperk ingelui. Nuwe vestings het ontstaan, heel waarskynlik om nuut verowerde gebiede te beskerm. Onder die regering van Menua (omstreeks 810-785 v.C.) is ambagte en landbou verder ontwikkel en talle graanstore opgerig. Aangesien die water in die nabygeleë Van-meer te souterig was om as drinkwater te kan dien, is 'n kanaal met 'n lengte van 70 km gebou om water uit die Hosap-vallei na Van te vervoer. Dié kanaal word vandag valslik na die legendariese koningin Semiramis vernoem.

Onder Sarduri II (omstreeks 765-733 v.C.) het Urartu sy grootste uitbreiding bereik. Sy pogings om die Assiriërs uit hul oorhersende posisie in die Nabye Ooste te verdring het egter gefaal. Urartu het 'n verpletterende nederlaag teen die Assiriese magte gely.

Onder Rusa I (omstreeks 733-714) het Urartu van dié militêre ramp begin herstel. Maar in 714 v.C. het die Assiriese koning Sargon II (721-704 v.C.) die stad Musasir aangeval en vernietig. Rusa I het volgens oorlewerings selfmoord gepleeg. Sy opvolgers het pogings onderneem om die ryk weer te konsolideer. Die ondergang van die Assiriese Ryk het tot in 547 v.C. 'n nuwe bloeitydperk bevorder. In dié jaar het Kyros II Urartu gedwing om tribuut te betaal.

Die Urarteërs het goedere uit keramiek, steen en metaal vervaardig en uitgevoer, kastele, kloosters en ander groot openbare geboue opgerig. Waterkanale, wat as deel van besproeiingstelsels gebou is, is in die hoofstad Jerewan vandag nog in gebruik. Die antieke Urarteïese vesting van Erebuni is eweneens in Jerewan geleë. Teen die einde van die Urarteïese periode is Urarteïes as spreek- en skryftaal gaandeweg deur 'n vroeë vorm van Armeens vervang.

Die Persiese heerskappy[wysig | wysig bron]

Urartu is in die 6de eeu v.C. deur Medië (Marastan) geannekseer wat ná 'n kort tyd op sy beurt deur die Persiërs verower is. Armenië het tot in die 4de eeu v.C. onder Persiese heerskappy gestaan. Op kulturele en godsdienstige gebied het die Persiërs beduidende invloed op Armenië uitgeoefen. So is die Armeense religie, 'n politeïstiese en spirituele geloof, deur Zoroastriese elemente deurweef.

In administratiewe opsig is Armenië in satrapestate verdeel wat deur plaaslike satrapeleiers geregeer is - onder toesig van Persiese amptenare. Die vreemde heersers het nie net hoë belasting van die Armeense bevolking ingevorder nie, maar ook dikwels op hul eiendom beslag gelê. Die Erwanduniërs, 'n Satrape-dinastie, het die land tweehonderd jaar lank geregeer totdat die Grieke in Wes-Asië binnegedring het.

Armenië in die Hellenisties-Romeinse tydperk[wysig | wysig bron]

Groot-Armenië in die tyd van Tigranes die Grote

Ná die verowering van Persië deur die Makedoniese heerser Alexander die Grote in 331 v.C. is nuwe satrape as administrateurs in Armenië benoem. Die Griekse keiserryk, wat deur Alexander gestig is, het van Europa tot Asië gestrek en in sy magsgebied die ontwikkeling van Hellenistiese boukuns, godsdiens en filosofie asook die stigting van nuwe stede en die uitbreiding van handelsbande tussen die twee wêrelddele bevorder. Griekse invloede was ook in die Armeense kultuur waarneembaar, alhoewel die land self nie deur Alexander verower is nie.

Die skielike afsterwe van Alexander in 323 v.C. het die ryk in chaos gedompel. Uiteindelik het dit in drie afsonderlike ryke verbrokkel. Armenië was nou in die belangesfeer van die Seleucidiese Ryk geleë wat oor Persië, Mesopotamië en dele van Klein-Asië gestrek het. Armenië is tydelik tussen 215 en 190 v.C. ook regstreeks deur dié dinastie oorheers.

Nadat die Seleucidiese Ryk in die slag van Magnesia in 188 v.C. 'n nederlaag teen die Romeine gely het, het prins Artaxias (dikwels ook Artasjes genoem), die goewerneur van Armenië, homself tot koning verklaar en Armenië herenig. Die nuwe hoofstad Artasjat is tydens sy regentskap gestig. Volgens sommige Romeinse geskiedskrywers is die boubedrywighede vir Artasjat onder die bevel van Hannibal van Karthage uitgevoer wat destyds as balling in Armenië gebly het.

Die tempel van Garni, wat in die 1ste eeu v.C. ontstaan het, toon invloede van Hellenisties-Romeinse boukuns. Die tempel is eeue later deur 'n aardbewing vernietig en in die 20ste eeu met oorspronklike bouelemente herbou

Onder die heerskappy van Vagharsjak, wat die Armeense troon in 149 v.C. bestyg het, het die land 'n periode van vrede en welvaart beleef. Vagharsjak het 'n nuwe adellike klas en administratiewe stelsel met amptenare gevestig. Die stad Armavir het as regeringsetel gedien. 'n Verskeidenheid Griekse inskripsies, wat in Armavir gevind is, getuig van die invloed van Griekse kultuur in Armenië.

Sy nakomelinge het as Artaxidiese dinastie die onafhanklikheid van Groot-Armenië as selfstandige koninkryk gehandhaaf. In die periode tussen 95 en 55 v.C. was die Armeense Ryk op die hoogtepunt van sy mag. Tigranes die Grote het homself tot "koning van die konings" verklaar en 'n tyd lank selfs die voormalige hartland van die Seleucidiese Ryk, Sirië, beheer. Oor sy politieke alliansie met Mithridates van Pontos het hy egter in konflik met Rome gekom. Tigranes het nie net sy heerskappy oor Sirië kwytgeraak nie, maar was ook genoodsaak om sy ryk aan Romeinse gesag te onderwerp. Veral Wes-Armenië was toenemend aan kulturele invloede uit die Grieks-Romeinse wêreld blootgestel.

Die geostrategies sentrale ligging van Armenië tussen die Romeinse en die Parthiese Ryk, wat Mesopotamië en Persië ingesluit het, het weer eens die lot van die land bepaal. Die Parthiërs het daarin geslaag om lede van hul eie Arsakidiese dinastie as Armeense konings te installeer, en ná 'n reeks militêre konflikte het die Romeine hierdie heerskappy in 66 n.C. onder die voorwaarde erken dat elke Armeense heerser amptelik deur die Romeinse keiser benoem moes word.

In die regeringstyd van die Romeinse keiser Traianus het die destydse Parthiese koning die ooreenkoms in 114 verbreek, en ná 'n oorlog is Armenië as provinsie Armenia enkele jare lank by die Romeinse Ryk ingelyf.

Die eerste Christelike staat ter wêreld[wysig | wysig bron]

Die klooster van Geghard is in die 4de eeu in 'n berglandskap gestig

Een van die belangrikste gebeurtenisse in die Armeense geskiedenis was die verheffing van die Christendom tot staatsgodsdiens. Dit was die begin van Armenië se unieke Christelike kultuur en leefstyl waardeur die land 'n deel van die westerse wêreld geword het. Sint Gregorius die Verligter het die Armeense heerser Trdat III as Christen gedoop, en in 301 het die koning die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verhef. Armenië was sodoende die eerste land waar die Christendom as amptelike godsdiens erken is. Gregorius is as eerste katholikos of hoof van die nuwe Armeense kerk verkies.

'n Tweede gebeurtenis van nasionale belang was die skepping van die Armeense alfabet in 405 deur Sint Mesrop Masjtots. Sy oorspronklike skrif het uit 36 letters en 'n groter aantal spesiale medeklinkers bestaan en het tot hede onveranderd gebly, alhoewel later twee bykomende letters bygevoeg is om leenwoorde uit ander tale te akkommodeer.

Die stryd vir die geloof[wysig | wysig bron]

Die kerstening van Armenië het politieke spanninge veroorsaak en is in sy buurlande met wantroue bejeën. Persië, wat destyds deur die Sassaniede-dinastie geregeer is, het pogings onderneem om die politieke woelinge in Armenië tot sy eie voordeel te gebruik en die Christelike godsdiens terug te dring.

Onder die bevel van Vardan Mamikonian het die Armeniërs in 451 op die Abarayr-veld 'n verpletterende nederlaag teen 'n groot Persiese leër gely. Mamikonian het saam met talle Armeense krygers in die slag gesneuwel. Nogtans het die Armeniërs hul stryd teen die Persiërs as guerilla-oorlog in die bergagtige streke van die land voortgesit. Vahan, 'n lid van Mamikonian se dinastie, het as nuwe nasionale leier in 484 in die slag van Nvarsaki 'n militêre oorwinning oor die Persiërs behaal en die geloofsvryheid in die land herstel. Armenië was nou tot 'n sekere mate onafhanklik.

Die Bagratiede-ryk[wysig | wysig bron]

Die Bagratiede-ryk omstreeks 1000
Die katedraal van Ani. Die bouvalle van Armenië se ou hoofstad is tans in Oos-Turkye geleë

In die 7de eeu is Armenië deur Arabiese magte ingeneem en het sy politieke onafhanklikheid eers in die 9de eeu herwin. Onder die magtige Bagratiede-dinastie het die land 'n nuwe bloeitydperk beleef en sy internasionale handelsbande herskep. Ekonomiese welvaart het die hergeboorte van Armenië se literêre en kunstradisies bevorder.

Die destydse hoofstad Ani met 'n bevolking van sowat 100 000 was groter as enige stedelike nedersetting in Europa. Sy bynaam "Stad van duisend en een kerke" verwys na die belangrike rol van die Christelike godsdiens in Armenië se kulturele lewe. In die middel van die 11de eeu het die Bisantyne groot dele van Armenië beset.

Die Armeense Koninkryk van Kilikië[wysig | wysig bron]

Die Bisantynse Ryk was egter in politieke en militêre opsig reeds verswak en kon min weerstand teen die Seldjoek-Turke bied wat vanuit Sentraal- na Klein-Asië beweeg en uiteindelik ook die Armeense hoogland verower het. Weens die Turkse invalle was baie Armeniërs genoodsaak om na die Tavros-berge naby die Middellandse See te vlug.

Hier het Ruben in 1080 die Rubeniede-ryk gestig wat in die middeleeue ook as Klein-Armeense Koninkryk van Kilikië bekend gestaan het. Danksy die noue betrekkinge met Europese Kruisridders en hul tuislande het Europese gedagtes ook in Armenië begin posvat. Die Kilikiese Armenië het onder dié invloed tot 'n feodale samelewing met baronne, ridders en boere ontwikkel. Regters in Kilikië het selfs Europese kleredrag gedra.

Die graf van Leon VI, koning van die Armeense Ryk van Kilikië, in die basiliek Saint-Denis, Frankryk

Naas Armeens is ook Latyn en Frans as tale van kultuur en wetenskap gebruik, en Europese ornamentiek en miniature het groot invloed op die Armeense kuns begin uitoefen. Danksy die geografiese ligging naby die Mediterreense wêreld is handelsbande met Wes-Asië en Europa aangeknoop. Na die Kilikiese periode word dus dikwels ook as die Goue Tydperk verwys.

Ná 'n bloeitydperk van 300 jaar is die Kilikiese Armenië in 1375 by die Egiptiese Mamloeke-ryk ingesluit. Die laaste koning van Kilikië, Leon VI, is in 1393 in die Franse stad Calais oorlede en sy as in Saint-Denis naby Parys in die mausoleum van die Franse konings begrawe. Hy is die enigste buitelandse monarg aan wie hierdie eer bewys is.

Die Persiese heerskappy in Oos-Armenië[wysig | wysig bron]

Die Armeense Vank-katedraal in Isfahan, Persië (tans Iran)

Terwyl die Wes-Armeniërs 'n politieke, ekonomiese en kulturele bloeitydperk in die Koninkryk Kilikië beleef het, moes die Armeniërs in die ooste hulle aan Mongoolse invallers onderwerp. Later, in die 16de en 17de eeu, is Armenië tussen die Ottomaanse Turkye en Persië opgedeel. Met die verowering van die Armeense hoogland het die Armeniërs hul politieke onafhanklikheid verloor.

Die Persiese sjah (koning) Abbas I het die hele Armeense bevolking om strategiese en ekonomiese redes gedeporteer - enersyds om onbewoonde, verlate streke te skep wat die uitbreiding van die Ottomaanse Ryk sou belemmer, andersyds om ervare Armeense handelaars en ambagsmanne in die nuwe Persiese hoofstad Isfahan te vestig. Abbas I het as beskermheer van die plaaslike Armeense gemeente opgetree en sodoende die ekonomiese opbloei van sy ryk bevorder.

Die Persiese bewind oor Oos-Armenië sou tot in 1828 voortduur toe die gebied by Rusland ingesluit is. Die grootste deel van die historiese Armenië het nogtans onder Ottomaanse heerskappy gebly.

Nadat die Georgiërs in die middel van die 18de eeu Oos-Armenië verower het, het ook die tsaristiese Rusland as nuwe Europese grootmoondheid belang in hierdie Kaukasusland begin stel. Armeniërs het in stilte die hoop gekoester dat die Russe as Christelike nasie meer verdraagsame maghebbers sou wees.

In Oktober 1827 het die Russiese Ryk Persies-Oos-Armenië beset. In die Verdrag van Toerkmentsjai is die nuwe grenslyn tussen Rusland en Persië langs die Arax en Ararat getrek. Die politieke spanninge tusse die Tsareryk en die Ottomaanse Ryk het verskerp, en weereens is die konflikte op Armeense bodem uitgeveg. In die Verdrag van Berlyn, wat in 1878 onderteken is, is Armenië met goedkeuring van die Europese moondhede tussen Rusland en die Ottomaanse Ryk opgedeel.

Wes-Armenië onder Ottomaanse heerskappy en die Armeense volksmoord[wysig | wysig bron]

Gebiede in Wes-Armenië waar groot getalle Armeniërs voor die volksmoord saamgetrek was

Onder die Ottomaans-Turkse heerskappy was die Wes-Armeniërs om etniese en godsdienstige redes aan diskriminasie blootgestel. Hulle moes nie net hoër belastingtariewe betaal as hul Turks-Islamitiese landgenote nie, maar het reeds in die 19de eeu dikwels slagoffers van pogroms geword wat deur die nasionale of plaaslike owerheid georganiseer is. Na ramings het sowat 300 000 Armeniërs in hierdie periode gesterf, terwyl 100 000 na Oos-Armenië gevlig het.

Die regte van Christelike Armeniërs is - ondanks alle beloftes wat tydens die Berlynse konferensie aan hulle gemaak is - hoegenaamd nie deur Ottomaans-Turkse wette beskerm nie, terwyl hulle ook geen wapens mog besit nie. Moslems, wat Christene of ander nie-Moslems vermoor het, is oor hul misdaad dikwels nie eers voor die hof gedaag nie. Nie-moslems is ewemin toegelaat om in 'n hof te getuig.

Toe die sogenaamde Jong Turke, 'n nasionalistiese beweging, in 1908 aan bewind gekom en die ou despotiese Ottomaanse regeringstelsel omvergewerp het, het baie Armeniërs die hoop gekoester dat hul lot sou verbeter. Maar ongekende etniese gruweldade en uiteindelik die eerste georganiseerde volksmoord van die 20ste eeu was hul voorland.

Die Jong Turke was van plan om alle Turkse volke in 'n groot ryk te verenig wat van die Middellandse Seekus tot die Kaspiese See en verder ooswaarts tot Oesbekistan en Turkmenistan sou strek. Christelike Armeniërs, wat dikwels die goed opgeleide stedelike elites verteenwoordig het, is as 'n bedreiging vir hierdie nasionalistiese beleid beskou.

In die lente van 1919 het 30 000 Armeniërs in die stad Adana slagoffers van etniese geweld geword. Ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die Jong Turke-regering in die Ottomaanse Ryk kans gesien om die "Armeense kwessie" finaal op te los. Geheime militêre kommando's het in 1915 begin om Armeniërs in hegtenis te neem en intellektueles en leiers van Armeense gemeentes te vermoor.

Armeense soldate in die Ottomaanse leër is van hul Islamitiese kamerade geskei, ontwapen en brutaal vermoor. Die stadsregering van Konstantinopel (tans Istanboel) het die hele Armeense bevolking laat deporteer. Armeniërs is uit hul stede en dorpe na Sirië, Mesopotamië en in die Arabiese woestyne verdryf. Die deportasies en "hervestigings" is met brutale geweld deurgevoer - mense is doodgeslaan, op spits pale gesit, onthoof, in riviere gegooi en onder water gedompel totdat hulle verdrink het en stelselmatig laat verhonger. Een oogetuig het honderde afgekapte kinderhande langs 'n pad teëgekom.[9]

Die moorde het ondanks die proteste van Europese en Amerikaanse politici voortgeduur. Danksy die verslae van ooggetuies soos die Duitse Evangelies-Lutherse predikant Johannes Lepsius was dit vir buitelandse waarnemers dat die eerste stelselmatige volksmoord van die 20ste eeu in Turkye aan die gang was.

Die Armeense Volksmoord was nie net deur gruweldade teen mans, vroue en kinders gekenmerk nie, maar ook alle besittings van Armeniërs is deur die Turkse owerheid gekonfiskeer. In die eerste 20ste eeuse volksmoord het na raming sowat 1,5 miljoen Armeniërs hul lewens verloor. Pogroms teen Armeniërs het later ook in Bakoe (1918), Sjoesji (1920) en in ander stede plaasgevind.

Die onafhanklike Demokratiese Republiek van Armenië[wysig | wysig bron]

Parlementsgebou van die onafhanklike Demokratiese Republiek van Armenië

In 1918 is die onafhanklike Demokratiese Republiek van Armenië geproklameer wat hom in politieke opsig by die westerse moondhede aangesluit het. Die Verdrag van Sèvres, wat op 10 Augustus 1920 as een van die ooreenkomste, waarmee die Eerste Wêreldoorlog beëindig is, in Sèvres naby Parys onderteken is, het voorsiening vir 'n onafhanklike Armeense staat gemaak. Dit het egter nooit in werking getree nie omdat dit nie deur alle ondertekenaars geratifiseer is nie.

As gevolg van die Grieks-Turkse oorlog (1919-1922) is die Verdrag van Sèvres in 'n ander ooreenkoms, die Verdrag van Lausanne, ten gunste van Turkye gewysig. Die seëvierende moondhede van die Eerste Wêreldoorlog het op 24 Julie 1923 die sogenaamde Oosterse Vrede met die Turkse generaal Kemal Atatürk beseël waardeur die jong Turkse republiek internasionale erkenning geniet het.

Turkye en Sowjet-Rusland het Armenië in 1920 tussen hulle opgedeel en hierdie optrede in die Verdrag van Kars op 23 Oktober 1921 bekragtig. Ná die stigting van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke in 1922 het Oos-Armenië deel van die Transkaukasiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek geword.

Armenië as Sowjet-republiek[wysig | wysig bron]

Hoofartikel: Armeense Sosialistiese Sowjetrepubliek.
Sowjet-Russiese propaganda-plakkaat in die Armeense SSR (1937)

In November 1920, twee jaar ná die onafhanklikheidwording van die Republiek van Armenië, is die land deur Bolsjewistiese magte uit die Sowjetunie aangeval en beset. Tegelykertyd het Turkse troepe aanvalle uitgevoer en twee Armeense stede, Kars en Gjoemri, ingeneem. 'n Sowjet-Russies-Turkse vredesooreenkoms het aansienlike grensverskuiwings meegebring waarby Armenië die westelike provinsies Kars en Ardahan aan Turkye moes afstaan, terwyl die Turkse troepe hulle uit Gjoemri onttrek het.

Terwyl baie Armeniërs in opposisie teen die Bolsjewistiese besetters gestaan het, was die land as deel van die nuutgestigte Sowjetunie nie meer aan Turkse aanvalle blootgestel nie. Tussen 1921 en 1936 is Armenië saam met Azerbeidjan en Georgië as Trans-Kaukasiese Federatiewe Sowjet-republiek geadministreer. In 1923 het die Sowjet-regering tot Turkse eise ingegee en die Armeense provinsies Nachitsjewan en Nagorno-Karabach onder die administrasie van Sowjet-Azerbeidjan geplaas om sodoende 'n gemeenskaplike Turks-Azerbeidjanse grens te vorm. Hierdie administratiewe veranderings het vir die plaaslike Armeense bevolking nuwe geweldpleging en verdrywings meegebring.

Volgens die nuwe Sowjet-grondwet, wat in 1936 afgekondig is, is die Armeense, Georgiese en Azerbeidjanse Sosialistiese Sowjet-republieke as selfstandige administratiewe eenhede herstel. Nachitsjewan en Nagorno-Karabach het as selfregerende administratiewe gebiede onder Azerbeidjanse bewind gebly.

Binne die politieke en ekonomiese strukture van die Sowjetunie het Armenië nogtans 'n lang periode van industrialisering en relatiewe ekonomiese welvaart beleef. Die Armeense SSR het tot 'n beduidende sentrum van wetenskaplike navorsing en nywerhede ontwikkel waar 'n groot verskeidenheid van goedere vervaardig is - naas tekstiele en ander verbruiksgoedere ook tegnologiese produkte soos transistors en halfgeleiers. Danksy die gunstige ekonomiese ontwikkeling het talle lede van die Armeense diaspora in die buiteland besluit om hulle in die Sowjet-republiek te vestig. Armenië was vanweë se ryk kulturele erfenis en berglandskappe ook 'n gewilde bestemming vir Sowjet-toeriste.

Spitak-aardbewing, verbrokkeling van die Sowjetunie en oorlog met Azerbeidjan[wysig | wysig bron]

Slagoffers van die Spitak-aardbewing is op die plaaslike begraafplaas ter ruste gelê. Met die bou van 'n metaalkerk het Armeniërs hul vertroue in God versinnebeeld

Terwyl die hervormingsgesinde Sowjet-premier Michail Gorbatsjof sy konsepte van glasnost en perestroika toegepas het om die doeltreffendheid van die verbrokkelende Sowjet-stelsel te verhoog en verdraagsaamheid in die veelvolkerestaat te bevorder, het Armeniërs in Nagorno-Karabach ná dekades van onderdrukking in 1988 in 'n referendum vir 'n politieke afskeiding van die Azerbeidjanse SSR gestem. In Soemgait en die hoofstad van Sowjet-Azerbeidjan, Bakoe, is tientalle etniese Armeniërs deur woedende menigtes verkrag en wreedagtig vermoor terwyl die polisie hoegenaamd nie teen die moordenaars opgetree het nie - net om Azerbeidjanners se misnoeë met die uitkoms van die referendum en die vereniging van Nagorno-Karabach met die Armeense SSR te wys. In die Armeense hoofstad het duisende burgers hul steun vir hul landgenote met groot betogings betoon.

Op 7 Desember van dieselfde jaar is die noorde van die Armeense SSR deur 'n verwoestende aardbewing getref wat selfs in Jerewan nog waargeneem is. Die episentrum was egter naby die tweede en derde grootste stad in die republiek, Leninakan (tans Gjoemri) en Kirowakan (tans Wanadzor), en veral Spitak geleë waar 25 000 mense hul lewens verloor het en groot getalle inwoners dakloos gelaat is. Terwyl hulp uit die buiteland ontvang is, het die Sowjet-bewind die heropbou van die streek belowe. Maar kort daarna het die Sowjetunie verbrokkel, en Armeniërs moes hul eie oplossing vir die groot sosiale vraagstukke vind.

Ná sewentig jaar se oorheersing deur die Sowjetunie het Armenië, in ekonomiese opsig een van die welvarendste Sowjetrepublieke, besluit om 'n onafhanklike demokratiese republiek te word. Dié jong staat het groot uitdagings in die gesig gestaar - 'n ekonomiese krisis, die huisvesting van dakloses en vlugtelinge uit Azerbeidjan, en die oorlog met Azerbeidjan oor Nagorno-Karabach.

Demografie[wysig | wysig bron]

Oorspronge[wysig | wysig bron]

Tradisionele Armeense dansgroep

Die Armeniërs, wat hulself հայեր of Hajer (naas Hayk) en hul land Hayastan noem, is een van die oudste beskawings waarvan die oorspronge onbekend is. Sowat drieduisend jaar gelede het hierdie volk homself in die Armeense Hoogland en in die Ararat-vlakte gevestig.

Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotos was hulle nasate van Phrigiërs en Thrasiërs wat uit westelike gebiede na die ooste geëmigreer en hier met plaaslike volke vermeng het. 'n Ander teorie, wat op Hetitiese spykerskrifdokumente baseer, beweer dat hulle vanuit die weste gekom en hulle in die middel van die tweede millenium v.C. in die gebied van die Klein-Asiatiese Galisrivier - destyds 'n streek binne die Hetitiese Ryk - gevestig het. Navorsers neem aan dat hierdie stam, wat as Hajassa bekend staan, inderdaad met die Armeense etnoniem haj geassosieer kan word wat eers in latere tyd en uitsluitlik in Armenië gebruik is.

'n Derde hipotese verwerp die idee van 'n migrasie uit die weste en neem aan dat die Armeniërs van oudsher die Armeense Hoogland bewoon het. Eerste presiese historiese dokumente dateer eers uit die 6de eeu v.C. - Oud-Persiese inskrifte van Behistun wat in die regeringstyd van koning Dareius ontstaan het. Daarnaas word aangeneem dat die Urarteïese beskawing 'n regstreekse voorloper van die Armeense volk was.

Die Armeniërs lei hul eie naam Hajer uit die mitologiese verhale van die geskiedskrywer Moses van Chorene af wat ene Hajk as stamvaders van die Armeniërs noem. Hajk het net met een pyl Bel gedood, een van die tiranniese reuse wat oorspronklik die Ararat-vallei oorheers het. Hier het Hajk 'n nedersetting gestig wat na hom vernoem is en later ook sy naam aan die hele gebied gegee het: Hajots'dzor of "Vallei van Hajk".

Die term Armeniërs, wat tans in die meeste tale gebruik word, is vir die eerste keer deur die Griekse geskiedskrywer Hekiatos van Milet gebruik. Die Armeniërs is in elk geval 'n volk van Indo-Europese oorsprong wat in hul lang geskiedenis baie elemente van die aangrensende beskawings van Klein-Asië, Kaukasië en Wes-Asië oorgeneem het.

Huidige bevolking[wysig | wysig bron]

'n Armeense dorp
'n Dansgroep voor die operahuis in Jerewan

Volgens amptelike statistieke was Armenië se bevolking vroeg in 2013 3,041 miljoen. Daar word egter aangeneem dat die werklike inwonertal laer is - dit word op sowat drie miljoen beraam. Sedert 1991 het een miljoen Armeniërs geëmigreer om 'n nuwe heenkome in die buiteland, veral in die Verenigde State, te vind. Sowat twee miljoen Armeniërs het hulle as permanente immigrante of as arbeidsmigrante in die Russiese Federasie en hier veral in metropole soos Moskou en Sint Petersburg gevestig. Daarnaas het duisende manlike bewoners gedurende die gewapende konflik met Azerbeidjan na die buiteland gevlug om diensplig te ontduik.

Armenië is tans in etniese opsig die mees homogene land in die Kaukasusstreek. Terwyl 170 000 etniese Azerbeidjanners uit Armenië gevlug het, was die land genoodsaak om 419 000 Armeense vlugtelinge uit Nagorno-Karabach en Azerbeidjan te akkommodeer. Tegelykertyd het groter getalle etniese Armeniërs uit Iran en lede van die groot oorsese diaspora na die land van hul voorvaders teruggekeer. Weens die burgeroorlog in Sirië het in 2014 sowat 12 000 etniese Armeniërs uit dié land as vlugtelinge in Armenië gebly. Die aandeel van etniese minderhede in Armenië - hoofsaaklik klein groepe Russe, Jessidiese Koerde, Sinti en Roma, Oekraïners en Jode - het sedert Armenië se onafhanklikwording eweneens as gevolg van emigrasie afgeneem tot minder as vyf persent.

Die emigrasiegolf het net soos die ekonomiese krisis negatiewe uitwerkings op Armenië se demografie en mannekrag gehad. Dit was veral goed opgeleide manlike Armeniërs wat na die buiteland verhuis het, en al dra hulle deur geldoordragte by tot die groei van private verbruik, het die geboortesyfer volgens die Nasionale Statistieke Diens van 21,6 per 1 000 inwoners in 1989 tot slegs 12,1 in 2005 gedaal. Nogtans is tans sowat 'n kwart van die bevolking jonger as 15 jaar, terwyl die persentasie bejaardes, wat ouer as 65 is, tien persent beloop.

Sowat twee derdes van die Armeense bevolking is verstedelik. Een derde van alle Armeniërs woon in die hoofstad Jerewan. Ander groot stedelike nedersettings met meer as 100 000 inwoners is Gjoemri en Vanadzor. Kleiner stedelike nedersettings met meer as 50 000 inwoners sluit byvoorbeeld Hrazdan en Abovjan in. Afgesien van die berggebiede en plato's is Armenië relatief dig bevolk.

Die Armeense Diaspora[wysig | wysig bron]

Historiese woonhuise van Armeense koopmans op die Groot Markplein van Zamość, Pole

Die Armeense volk is vandag reg oor die aarde verstrooi - as gevolg van vervolging, onderdrukking, verowering, maar ook van lewendige en florerende handelsbetrekkinge met Europa en Asië. Die verowering van Armenië deur Seldjoeke-magte in 1064 word dikwels as die eerste in 'n reeks Armeense emigrasiegolwe genoem. Baie Armeense vlugtelinge het hulle in die noorde en weste gevestig, en vroeë Armeense gemeenskappe het in gebiede soos die Krimskiereiland, Moldawië, Transsilvanië en Pole ontstaan. In die 13de eeu het Armeense emigrante hulle ook in Litaue en Roemenië gevestig. Baie Armeense adellikes het by die kruistogte aangesluit, en saam met Europese magte het ook Armeniërs na die Nabye Ooste en later terug na Sentraal-Europa getrek.

Menige Armeniërs het nooit na hul geboorteland teruggekeer nie en 'n nuwe tuiste in Parys of Marseille gevind, ander het belangrike handelsondernemings in Italiaanse stede soos Genua, Pisa of Venesië gevestig. Hoe meer Armenië in die 14de eeu gebuk gegaan het onder vreemde veroweraars, hoe meer het Armeense gemeenskappe in die buiteland begin floreer. So het groter getalle Armeniërs in Noord- en Oos-Europa, Amsterdam en Konstantinopel gebly.

Die 17de eeu was 'n tyd van gedwonge verskuiwings van hele Armeense dorpsgemeenskappe waartydens meer as 300 000 Armeniërs in Persië gevestig is. Nieu-Julfa naby Isfahan het tot 'n sentrum van Armeense kultuur en godsdiens in Persië ontwikkel. Belangrike historiese en kulturele gebeurtenisse het in dié tyd nie meer in Armenië self nie, maar in Armeense diaspora-nedersettings plaasgevind. So is die eerste Armeense boek in Venesië gedruk, het die eerste Armeense dagblad in Madras, Indië verskyn en het die vernaamste Armeense skole en kerke in die buiteland ontstaan.[10]

Gesondheid en welsyn[wysig | wysig bron]

Armenië se relatief goed ontwikkelde gesondheidsstelsel het ná die verbrokkeling van die Sowjetunie byna ineengestort. Die ekonomiese krisis en die Nagorno-Karabach-konflik het 'n chroniese energietekort veroorsaak. In hierdie periode, wat die "donker jare" genoem word, het baie inwoners nie oor die nodige energie vir die verwarming van hul woonstelle beskik nie en is hoër vlakke van kindersterftes aangeteken.

Die Spitak-aardbewing en die oorlog met Azerbeidjan het baie Armeniërs permanent gestremd gelaat (die totale aantal gestremdes in die land word op sowat 100 000 beraam). Daarnaas plaas die groot aantal vlugtelinge en hoë vlakke van sigaretverbruik druk op Armenië se gesondheidsdienste en welvaartstelsel. Nog in 2007 moes sowat vyf persent van die totale bevolking (slagoffers van die Spitak-aardbewing en vlugtelinge uit Azerbeidjan) van noodbehuising gebruik maak.[11]

Godsdiens[wysig | wysig bron]

Die kerstening van Armenië[wysig | wysig bron]

Die monniksel van Sint Gregorius die Verligter in die Khor Virap-klooster

Die Armeens-Apostoliese Kerk word as die oudste staatskerk ter wêreld beskou. In 301 het die destydse Armeense koninkryk onder koning Trdat III die Christendom amptelik as sy godsdiens aanvaar. Armeense Christene beroep hulle op die vroeë sendingsreise wat die apostels Thaddeüs en Bartolomeüs in die 1ste eeu n.C. onderneem het - in 'n tyd toe die Armeense Ryk nog deur die Armeens-Persiese Arsakiede-dinastie geregeer is en die bevolking merendeels die godhede van die Persiese panteon aanbid het. Sodoende verwys die Armeense staatskerk na homself as apostolies.

Nogtans word die kerstening van Armenië en die vestiging van 'n Christelike staatskerk aan Sint Gregorius toegeskryf, 'n heilige wat ook Lusavoritch of die Verligter genoem word. Na die Armeense Kerk word derhalwe ook as Gregoriaanse Kerk verwys.[12] Die uitbreiding van die Christelike geloof na alle Armeense landsdele was die dryfkrag agter die ontwikkeling van die Armeense alfabet deur die monnik Mashtots Mesrop. Vervolgens is godsdienstige literatuur uit Sirië, Griekeland en Egipte na Armeens vertaal, waaronder die Evangelies en later die hele Bybel.

Die Armeens-Apostoliese Kerk as deel van die oosterse kerkfamilie[wysig | wysig bron]

Kerkdiens in Jerewan

Die Armeense Kerk het die Konsilie van Chalcedon, wat in 451 plaasgevind het en waarvolgens die eenheid van goddelikheid en menslikheid in Jesus Christus sy uitdrukking in "twee nature in een persoon en hipostase" sou vind, verwerp. Hierdie terminologie is deur Armeense Christene ook tydens 'n reeks sinodes in die 6de eeu nie aanvaar nie.

Saam met Koptiese, Siriese, Etiopiese en Indiese Christene in die Siriese tradisie erken die Armeense kerk die "enkele natuur van die vleesgeworde God" waardeur die "onverbreekbare hipostatiese eenheid van die menslike en goddelike natuur van Jesus Christus" beklemtoon word. Binne die Christendom word die Armeense Kerk sodoende by die miafisiete en die oosterse kerkfamilie gereken. Die Armeense Kerk het sy selfstandigheid en nasionale onafhanklikheid nog eens in 552 met die invoering van 'n eie tydsrekening bevestig.

Kerkorganisasie[wysig | wysig bron]

Die Katedraal van Edjmiadzin

Sedert 1441 is Edjmiadzin as setel van die Katholikos, kerkhoof van alle Armeense Christene, ook die geestelike sentrum van die Armeense Kerk. Die huidige Katholikos, Karekin II Nersisian is in die najaar van 1999 verkies. Nogtans word die Armeense Kerk administratief in verskillende afdelings verdeel. So is daar ook 'n Kilikiese Katholikosaat in Antelias naby Beiroet waaraan die Armeense dioseses van die Nabye en Midde-Ooste net soos dié van Noord-Amerika ondergeskik is.

Naas Armeens-Apostoliese Christene is daar ook klein gemeenskappe Rooms-Katolieke en Protstantse Armeniërs. Katolieke Armeniërs het noue bande met die Mechitariste-orde, 'n kongregasie van Armeens-Katolieke geestelikes met gemeentes in die Nabye Ooste, Europa en Noord-Amerika.

Politiek[wysig | wysig bron]

Staatsvorm en grondwet[wysig | wysig bron]

'n Armeense paspoort

Armenië is sedert September 1991 'n onafhanklike presidensiële republiek. Die eenkamer-parlement (of Nasionale Vergadering) met 131 afgevaardigdes word elke vier jaar verkies.

Die Armeense grondwet van 1995 is verskeie kere gewysig. In die laaste referendum, wat op 27 November 2005 gehou is, het kiesers 'n wysiging goedgekeur waarvolgens die parlement meer bevoegdhede gekry het. Die president, wat as staatshoof vir 'n ampstermyn van vyf jaar deur die volk verkies word, benoem die eerste minister wat deur die parlement goedgekeur moet word.

Huidige regering[wysig | wysig bron]

Die huidige president Serzj Sarkisian tydens 'n besoek aan Duitsland in 2009

Volgens die amptelike stemuitslae het die huidige president van Armenië, Serzj Sarkisian, in die presidentsverkiesing, wat op 19 Februarie 2008 gehou is, 52,8 persent van die uitgebragte stemme op hom verenig, terwyl die voormalige staatshoof en opposisiekandidaat Levon Ter-Petrosian 21,5 persent van die stemme behaal het. Sarkisian is op 18 Februarie 2013 vir 'n tweede (en volgens die Armeense grondwet laaste) ampstermyn herverkies.

Die huidige regeringskoalisie bestaan sedert die laaste verkiesing op 6 Mei 2012 uit die Republikeinse Party (44,1 persent van die uitgebragte stemme) en die party "Regstaat" (5,5 persent). Die opposie in die Nasionale Vergadering met altesaam 131 afgevaardigdes, wat vir 'n termyn van vyf jaar verkies word, word gevorm deur die party Bloeiende Armenië (30 persent), die Armeense Nasionale Kongres (7,1 persent), die party Erfenis (5,8 persent) en die Armeens-Rewolusionêre Federasie (ook Dasjnake genoem; 5,7 persent).

Die partylose voormalige voorsitter van Armenië se Sentrale Bank, Tigran Sarkisian (nie verwant aan die staatspresident nie), is as eerste minister benoem, terwyl die langjarige Armeense ambassadeur in Parys, Edward Nalbandian, die amp van minister van buitelandse sake beklee. Hovik Abrahamjan (Republikeinse Party) fungeer sedert 2012 as parlementspresident.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Ontwikkeling[wysig | wysig bron]

Wingerde teen die agtergrond van die berg Ararat wat oorkant die grens in Turkye geleë is
Armeense brandewyn in die Moskouse Rio-winkelsentrum
"Mark Nommer 1" in Jerewan

Binne die Sowjetunie se stelsel van 'n sentrale planekonomie het in Armenië 'n moderne nywerheidsektor ontstaan wat susterrepublieke van masjientoerusting, tekstiele en ander vervaardigde goedere voorsien en in ruil hiervoor grondstowwe en energie ingevoer.

Die Armeense ekonomie het 'n sterk agrariese karakter. Die groot agro-industriële ondernemings uit die Sowjet-tydperk is intussen in kleiner eenhede omgeskep. Kort ná die onafhanklikheidwording in 1991 is Armenië in 'n ernstige ekonomiese krisis gedompel wat deur 'n sterk krimpende bruto nasionale produk en 'n verlaging van lewenstandaarde gekenmerk was. Eers vanaf die middel van die 1990's het die ekonomie begin konsolideer. Armoede en inflasie is verminder en die geldeenheid dram gestabiliseer. Die gemiddelde maandelike salaris het in 2013 sowat 150 000 AMD (VSA-$369) beloop.[13]

Die transformasieproses na 'n markgerigte ekonomie, wat privatisering van klein en middelgroot staatsondernemings, hervormings en die integrasie in die wêreldekonomie behels het, is deur die oorlog met Azerbeidjan en die geopolitiese gevolge daarvan bemoeilik. So was Armenië nie net genoodsaak om vlugtelinge uit die oorlogsgebied in Nagorno-Karabach en Azerbeidjan te akkommodeer nie, maar ook om sy verdedigingsuitgawes aansienlik te verhoog en Azerbeidjanse en Turkse blokkademaatreëls te omseil.

Die grense met Turkye en Azerbeidjan is sedert 1994 gesluit, en slegs lugvervoer word toegelaat. In- en uitvoere word onder meer deur Georgië vervoer wat ekstra koste veroorsaak. Weens die gebrek aan spoorverbindings met Iran is dié land tans geen volwaardige alternatief nie. Die relatief klein uitvoerbasis en monopolistiese strukture in belangrike ekonomiese sektore maak Armenië kwesbaar vir 'n verswakking in die wêreldekonomie.

Vanaf 1998 het die Armeense ekonomie stewige groei getoon waarby die bruto binnelandse produk (BBP) tussen 1998 en 2004 jaarliks met tussen 3,4 en 13,9 persent gegroei het. Baie van dié ekonomiese groei is deur beleggings van welvarende Armeniërs in die buiteland gestimuleer. Daarnaas is sowat 700 000 Armeniërs ten minste tydelik in die buiteland werksaam en stuur 'n deel van hul inkomste huis toe. Die geldoordragte van Armeniërs in die buiteland dra sowat 19 persent tot die BBP by.[14] So ontvang Armeense huishoudings jaarliks omstreeks 900 miljoen VSA-$ uit die buiteland, waarvan sowat 40 persent uit Rusland en 25 persent uit die Verenigde State. Die informele sektor speel steeds 'n belangrike rol.

Die internasionale finansiële krisis het reeds in 2008 negatiewe uitwerkings op die Armeense ekonomie gehad. Die groeikoers van die BBP het in 2008 verstadig tot 6,8 persent. In 2009 het die BBP met 14,4 persent gekrimp - dit was die tweede ergste ekonomiese insinking in 'n lidland van die Gemeenskap van Onafhanklike State (GOS) ná Oekraïne.[15] Die buitelandse skuldlas het van 1,59 tot 2,9 miljard VSA-$ gestyg, terwyl die begrotingstekort as gevolg van laer belastinginkomste van 1 tot 8 persent van die BBP vergroot het. 100 000 arbeidsmigrante, wat uit Rusland en Oekraïne teruggekeer het, het tot die plaaslike arbeidsmark toegetree.

Die Armeense ekonomie het in 2010 geleidelik begin herstel en 'n positiewe groei van die BBP van 2,6 persent aangeteken. Ontleders verwag nie dat die land in die afsienbare toekoms weer 'n dubbelsyfergroei soos in die tyd voor die krisis sal kan behaal nie. Die ekonomiese groei het desondanks versnel tot 4,6 persent in 2011 en 7,2 persent in 2012.[16]

Die aansienlike afname in uitvoere, geldoordragte, regstreekse beleggings en privaat kapitaaltoevloei het in 2009 'n ernstige tekort op Armenië se betalingsbalans veroorsaak. Alhoewel die tekort op die handelsbalans in 2010 weer verminder het, bly die kapitaalbalans ongunstig. Uitvoere ter waarde van een miljard VSA-$ het nie vergoed vir 3,8 miljard VSA-$ se invoere nie en die handelsbalans het sodoende weer 'n groot tekort getoon. In 2012 is goedere ter waarde van 4,26 miljard VSA-$ ingevoer, Armeense uitvoere het 1,42 miljard VSA-$ beloop. Die Internasionale Monetêre Fonds, Wêreldbank, Kreditanstalt für Wiederaufbau (KfW), Rusland en ander leners het sedert 2009 lenings ter waarde van meer as twee miljard € aan Armenië toegestaan.[17]

Landbou[wysig | wysig bron]

Vrugtemark in Jerewan

Die ongunstige geografie beperk landboubedrywighede tot 44 persent van die oppervlakte, waarby die grootste deel van die landbougrond as weivelde vir skape en bokke dien. Die landbousektor het in 2011 17,8 persent (nywerheidsektor: 37,7%, dienstesektor: 44,5%) van die BBP bygedra, maar nog in 2004 47 persent van die ekonomies aktiewe bevolking in diens gehad. Die akkerbougebiede is hoofsaaklik in die Ararat-vlakte rondom Jerewan en in 'n aantal riviervalleie geleë. Hoë opbrengste word slegs deur besproeiing behaal.

Katoen, rys, tabak, suikerbiet, meloene, wyn en vrugte word in gebiede met 'n hoogte van maksimaal 900 meter bo seevlak verbou, terwyl graan nog in hoogtes tot 2 300 meter geoes kan word. Naas skaap- en bokteelt speel ook beesboerdery 'n belangrike rol.

Mynbou en energiebedryf[wysig | wysig bron]

'n Klein houer wat van Armeense obsidiaan gemaak is
Foto: Lysippos, Duitse Wikipedia

Klein hoeveelhede koper, bauxiet, goud, silwer, molibdeen, lood, sink en nefelien ('n veldspatoïed) word plaaslik ontgin en verwerk. Armenië is ryk aan sowel vulkaniese gesteentes (waaronder tufsteen in 'n groot verskeidenheid kleure, die swart glansende vulkaanglas obsidiaan, maar ook marmer en basalt) asook edel- en halfedelgesteentes soos smaragde, robyne, berille of turkooise. Minerale en edelgesteentes is naas mineraalwater en brandewyn belangrike uitvoerprodukte. Geslypte diamante word hoofsaaklik na België, Israel en Switserland uitgevoer.

Armenië beskik nouliks oor fossiele energiebronne. Klein herwinbare reserwes aardgas en ru-olie in die Ararat-vallei en in die noord-weste van die land kan tans nie ekonomies ontgin word nie. Sowat 50 000 ton steenkool word jaarliks in die klein steenkoolvelde naby Idjewan en Djadjoer ontgin.

Waterkragsentrales soos dié by die afloop van die Hrasdan-rivier uit die Sewanmeer voorsien net in 'n relatief klein persentasie van Armenië se totale kragverbruiker. 'n Aantal termiese kragsentrales maak gebruik van ingevoerde aardgas en ru-olie. Die kernaanleg Metsamor naby Jerewan daareenteen produseer byna veertig persent van die land se elektrisiteit. Rusland en Armenië het op 6 Februarie 2008 'n ooreenkoms oor samewerking in die plaaslike uraanmynbou aangegaan. Armenië se uraanreserwes word op tussen 30 000 en 60 000 ton beraam en sal ná hul ontginning in Rusland verryk word.

Ooreenkomste oor die bou van twee waterkragsentrales by die Araks-grensrivier en 'n gaspyplyn is in 2004 en 2005 met Iran aangegaan, onder meer om Armenië se afhanklikheid van Russiese gasinvoere te verminder.[18] Nogtans probeer Rusland sy politieke en ekonomiese invloed in Armenië deur middel van energie-uitvoere en beleggings in die Armeense energiebedryf te handhaaf en vergroot. Die meerderheid aandele van die Armeens-Russiese gasmaatskappy ArmRosGas is in hande van die Russiese gasreus Gazprom en sy dogtermaatskappy Itera, terwyl hulle ook die Armeense deel van die gaspyplyn tussen Tabris in Iran en die Armeense stad Kajaran besit. Die Armeense kernaanleg Medzamor word die deur die Russiese onderneming Rosatom bedryf wat moontlik ook nuwe aanlegte in die land sal bou.

Nywerheid- en dienstesektor[wysig | wysig bron]

Gasaangedrewe kragaanleg in Jrarat

Die belangrikste nywerheidsektore is masjienbou, die chemiese bedryf (wat onder meer kaoetsjoek, kunsmis en plastiek produseer), tekstiel- en skoene-, metaal-, voedsel- en aluminiumvervaardiging. 'n Spesiale industriële sektor is die bewerking van ingevoerde ru-diamante.

Die sleutelbedrywe energie en telekommunikasie word deur 'n aantal Russiese ondernemings oorheers. So is die meerderheid aandele aan Armrosgazprom, 'n Armeense onderneming wat aardgas invoer en aan plaaslike verbruikers verskaf, in besit van die Russiese staatsbedryf Gazprom, die Armeense kragnetwerk is in besit van 'n dogtermaatskappy van die Russiese staatsbeheerde onderneming UES, terwyl die Armenia Telephone Company volledig in besit van die Russiese privaat onderneming VimpelCom is.

Die Armeense hoë tegnologiebedryf trek voordeel uit die beleggings van buitelandse inligtingstegnologie-ondernemings wat hul produkte in die land laat ontwikkel. Lycos Europe het in sy plaaslike filiaal sowat 400 programmeerders in diens. Die Armenian Internet Company (Arminco) is die grootste internetverskaffer in Armenië.

Toerismesektor[wysig | wysig bron]

Die Tatev-klooster in Suid-Armenië

Die toerismesektor is een van die snelste groeiende bedrywe in Armenië. Buitelandse valuta, wat jaarliks in dié bedryf verdien word, word op meer as een vyfde van die totale uitvoerwaarde beraam. In die eerste ses maande van 2014 het 496 000 buitelandse toeriste 'n besoek aan die land gebring, 'n styging van 17,3 persent in vergelyking met dieselfde periode in die vorige jaar. Die aantal toeriste tussen Januarie en Desember 2013 het 925 000 beloop, 'n styging van 9,7 persent teenoor 2012.[19]

In 2013 het die meeste toeriste uit die Russiese Federasie (44 persent), die Europese Unie (tussen 12 en 14 persent) en Iran (7 persent) gekom. Drie vyfdes van alle besoekers was etniese Armeniërs. Nuwe toeristegeriewe soos hotelle is tans in aanbou of word beplan, waaronder beleggings van internasionale hotelkettings. Besondere aandag hierby geniet die Tatev-klooster, een van die vernaamste toeriste-aantreklikhede in die land. Langs die hoofpaaie ontstaan steeds meer moderne motelle, dikwels saam met eetplekke.

Buitelandse beleggings en ekonomiese samewerking[wysig | wysig bron]

Die doeltreffende regstelsel is een van baie faktore wat 'n gunstige beleggingsklimaat in Armenië verseker. Die grootste beleggingsprojekte word tans - naas Russiese maatskappye - deur ondernemings uit Duitsland, die Verenigde State, Frankryk, die Volksrepubliek van Sjina, Iran en Japan aangepak.

Armenië is 'n lidstaat van die Wêreldhandelsorganisasie, die Internasionale Monetêre Fonds, die Wêreldbank, die Europese Bank vir Heropbou en Ontwikkeling, die Asiatiese Ontwikkelingsbank en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking in die Swartseegebied . Bilaterale vryehandelsooreenkomste is onder meer met Georgië en Rusland gesluit. Die Armeense regering het reeds in 2014 aangekondig dat die land moontlik tot die Russiese Doeane-unie sal toetree.[20]

Op 2 Januarie 2015 het Armenië 'n lidland van die Russies-oorheerste Eurasiese Ekonomiese Unie (EEU) geword, 'n streekhandelsblok met ’n gemeenskaplike beleid oor migrasie, investering en energie.[21][22] Sy lidmaatskap in die EEU sal Armenië moontlik in staat stel om aardgas, olieprodukte en onverwerkte diamante teen beter voorwaardes uit die Russiese Federasie in te voer, terwyl die land se verwerkende nywerhede beter toegang sal kry tot die Russiese afsetmark. Armenië sal vanweë sy gunstige geografiese ligging verder voordeel kan trek uit die uitbou van handelsbetrekkinge tussen die Russiese Federasie en Iran.

Buitelandse handel[wysig | wysig bron]

Armenië voer hoofsaaklik ardgas en olieprodukte, masjiene en uitrustings (insluitende elektrotegniese en elektroniese goedere), voertuie, verwerkte voedselprodukte, chemiese en farmaseutiese produkte, nie-edele metale en metaalprodukte in. Die vernaamste uitvoerprodukte is koperertse en -konsentraat, ferromolibdeen en goud en alkoholiese dranke (veral brandewyn). Drie vyfdes van alle Armeense uitvoere was in 2013 mynbou- of metallurgiese produkte, terwyl 'n sesde van die totale uitvoerwaarde met alkoholiese dranke verdien is.

Die belangrikste handelsvennote in 2013 was:

INVOERE[23] Miljoene VSA-$ UITVOERE Miljoene VSA-$
Russiese Federasie 882 Russiese Federasie 334
Georgië 460 Bulgarye 152
Verenigde Arabiese Emirate 289 België 131
Switserland 254 Iran 90
Oekraïne 213 VSA 90
VR van Sjina 194 Kanada 90
Duitsland 189 Duitsland 86

Literatuur[wysig | wysig bron]

Klassieke Armeense literatuur[wysig | wysig bron]

Die goue tydperk[wysig | wysig bron]

Standbeeld van Sint Mesrop Mashtots voor die Matenadaran-biblioteek in Jerwan

Voor die invoering van die Armeense alfabet in die 5de eeu n.C. was daar reeds 'n heidense mondelinge literatuur waarvan min voorbeelde oorgelewer is. Ook ná hul kerstening in 301 n.C. was Armeniërs nog sowat 'n eeu lank op Griekse en Siriese weergawes van die Bybel en ander godsdienstige tekste aangewese. Aangesien die gewone bevolking nie oor enige kennis van dié twee tale beskik het nie, het Mesrop Mashtots volgens oorlewering in 405 saam met ander geleerdes die Armeense alfabet as voorvereiste en basis vir 'n selfstandige Armeense literatuur geskep.

'n Armeense Bybel

Die patriarg Sahak (Isaak) die Grote en Mesrop het 'n skool van vertalers in die lewe geroep wat na Edessa en Konstantinopel uitgestuur is om Siriese en Griekse kopieë van belangrike werke te verkry en hulle vervolgens na Armeens te vertaal.

Die 5de eeu word algemeen as die goue tydperk van die Armeense letterkunde beskou, waarby literêre aktiwiteite hoofsaaklik aan vertaalwerk gewy is. Nogtans het ook oorspronklike literêre werke in Armeens ontstaan, soos die verhale van Eghishe en Ghazar Parpetsi. Die meesterwerk van klassieke Armeense literatuur was Eznik Koghbatsi se "Verwerping van sekte", 'n polemiese teks wat die Christelik-ortodokse geloof teen heidense Armeense bygelowe, Iranse dualisme, Griekse filosofie en gnostiese Marcionitiese leerstellings verdedig. Dié werk, waarvoor ook Griekse bronne gebruik is, is uniek vanweë sy suiwer klassieke styl en verskaf bowendien waardevolle inligting oor die genoemde godsdienstige en filosofiese onderwerpe.

Armeense vertalers het ook in die tydperk tussen die 6de en 8ste eeu, die silwertydperk van Armeense literatuur, voortgegaan met hul vertaalwerk sodat onder meer werke van Christelike heiliges soos Johannes Chrysostomos en Kirillos van Alexandrië as Armeense weergawes beskikbaar was. Die sogenaamde Hellenistiese of Yunaban-skool het slaafse vertalings van Griekse werke uit 'n verskeidenheid velde soos grammatika, teologie en wysbegeerte opgelewer, waaronder werke van Plato, Aristoteles en Philo van Alexandrië.

Hellenistiese invloede word ook sigbaar in die nuwe literêre genre van die Alexanderroman en in pogings om die Armeense skryftaal in grammatikale opsig om te vorm volgens die reëls van die Griekse grammatikus Dionysios Thrax.

Middeleeuse literatuur[wysig | wysig bron]

Thomas Artsruni se "Geskiedenis van die Huis van Artsruni". Uitgawe van 1852

In die 10de en 11de eeu het die onafhanklike Bagratiede-koninkryk in Armenië, die Artsruni-koninkryk van Vaspurakan en die Koninkryk Siuniq 'n politieke en kulturele raamwerk geskep waarin Armeense kuns, literatuur en argitektuur meer vrylik as ooit tevore kon floreer. Die vernaamste literêre persoonlikheid in die 10de eeu - en die eerste groot Armeendse digter - was Sint Gregorius Narekatzi. Naas mistiese digkuns en himnes het ook prosawerke soos sy Kommentaar op die Hooglied van Salomon uit sy pen gevloei.

In dieselfde eeu het Thovma (Thomas) Artsruni met sy "Geskiedenis van die Huis van Artsruni" 'n waardevolle historiese bron oor die Armeense geskiedenis in die eerste helfte van die 10de eeu geskryf wat later deur anonieme skrywers tot 1121 voortgesit is. Armenië se verhoudinge met die Arabiese wêreld staan sentraal in patriarg Johannes VI Draskhanakertzi se "Geskiedenis van Armenië". Dié werk word as 'n eerstehandse verslag geag aangesien Johannes self betrokke was by die gebeurtenisse wat hy in sy boek behandel.

In die laat 10de en vroeë 11de eeu het verdere geskiedkundige werke ontstaan - biskop Ukhtanes se "Geskiedenis van Armenië" en "Geskiedenis van die kerkskeiding tussen Georgiërs en Armeniërs", en Stephanos Asoghik se "Universele Geskiedenis" wat as 'n uiters betroubare bron beskou word. Daarenteen verbind Aristakes Lastivertzi se "Geskiedenis van Armenië", waarin die val van die Bagratiede-ryk in 1045, die verwoesting van Ani in 1064 en die oorwinnings van Seldjoekiese Turke sentraal staan, die literêre genres van heldedig en historiese verhaal met mekaar.

Die verbrokkeling van die Groot-Armeense Ryk omstreeks 1100 en die opkoms van Klein-Armenië in Kilikië as nuwe kulturele spilpunt van die Armeense volk het gepaard gegaan met die ontwikkeling van twee selfstandige takke van die Armeense literatuur - Wes- en Oos-Armeens. Skrywers in albei kulturele kringe het voortgegaan om werke in klassieke Armeens te skep, maar daarnaas het ook die omgangstaal ingang tot die literatuur gevind. Die Mameloeke-inval van 1375 en Timoer se veldtog in 1385 het genoeg verwoesting gesaai om die kulturele en literêre lewe in Armenië in 'n lang tydperk van algehele agteruitgang te laat binnegaan.

Vroeë moderne tydperk[wysig | wysig bron]

Die Sowjet-Russiese posdiens het Sayat-Nova in 1962 met 'n posseël vereer

In die 17de eeu was daar eerste tekens van 'n herlewing in die kulturele lewe van Armeniërs. Terwyl historiese werke uit dié periode, soos geskryf deur Araqel van Tabriz en Zaqaria die Diaken, oor die dade van Turkse en Persiese oorheersers handel, het ander outeurs reeds in aanraking gekom met westerse geleerdes en werke in Latyn. Oskan van Jerewan, wat in 1614 in die nuutgestigte Armeense nedersetting Nieu-Julfa in Isfahan, Persië gebore is, het met die Dominikaanse monnik Pirandelli saamgewerk om in 1666 die eerste Armeense Bybel in Amsterdam te laat druk.

Die tradisie van verbeeldingryke skryfkuns in Armeens dateer terug na die 13de eeu. So het Armenië sy eie troubadours voortgebring, gewilde sangers soos Nahapet Kuchak, een van min Armeense digters wat in die 16de eeu liedere oor liggaamlike liefde gesing het; Hovnatan Naghash (1661-1722), en - in die 18de eeu - Aruthin Sayadian, beter bekend as Sayat-Nova, die mees bekende digter van dié literêre stroming wat, temidde van 'n Christelik-godsdienstige samelewing, wêreldlike liedkuns vol van romantiese uitdrukkingskrag geskep het.

Moderne literatuur[wysig | wysig bron]

Khachatur Abovian (1809-1848) word as een van die vernaamste literêre persoonlikhede van Armenië beskou

Die 18de eeu was 'n periode van kulturele herlewing wat sy hoogtepunt teen die middel van die volgende eeu met die ontwikkeling van 'n moderne Armeense literatuur gevind het. Die enigste struikelblok was die gebrek aan 'n literêre standaardtaal. Intellektueles in sowel Turkye asook Russies-Armenië was verdeel in voorstanders van die voortgesette gebruik van klassieke Armeens en kampvegters vir moderne gesproke variante van Armeens.

Die laasgenoemdes het uiteindelik geseëvier. So is literêre tekste in die oostelike Armeense taalgebied in 'n aangepaste variant van Jerewan se dialek (rusahayeren) geskryf, literatuur in die weste in 'n aangepaste vorm van Armeens soos dit in Istanboel gebesig is. Maar dit was in Europa waar Armeense skrywers hul inspirasie en ideale probeer vind het.

Khachatur Abovian (1809-1848), 'n opvoedkundige en voorstander van modernisering, het in die vroeë 19de eeu die eerste roman in die moderne Armeense standaardtaal geskryf. Nogtans was hy sy tyd vooruit, en geen van sy literêre werke is gedurende sy loopbaan as skrywer gepubliseer nie voordat hy in 1848 spoorloos verdwyn het. Eers ná die stigting van die Armeense Sosialistiese Sowjetrepubliek het hy erkenning as die "vader van moderne Armeense literatuur" gekry. Die roman "Wonde van Armenië" (geskryf in 1841 en postuum gepubliseer in 1858) word as sy belangrikste werk beskou.

Hakob Paronian en Ervand Otian was twee westers-georiënteerde outeurs wat sukses met satiriese romans behaal het, terwyl Grigor Zohrab hom op realistiese kortverhale toegespits het. Die vernaamste verteenwoordiger van Armeense toneelkuns was Paronian, die skrywer van onsterflike Armeense komedies soos "Die oosterse tandarts" wat steeds opgevoer word.

Mediabedryf[wysig | wysig bron]

Die Armeense diaspora in die Verenigde State beskik oor hul eie televisiekanale. Die foto wys die ateljees van USArmenia TV in Tarzana, Kalifornië

3 070 nie-regeringsorganisasies en 1 300 media is by die Departement van Justisie geregistreer. Die Armeense grondwet waarborg menings-, inligtings- en persvryheid, alhoewel daar bepaalde beperkings op mediadekking ten opsigte van militêre aangeleenthede en staatsveiligheid bestaan.

Tans is daar 75 televisiekanale waarvan 18 landwyd uitgesaai word. Belangrike uitsaaiers sluit H1 (die voormalige Armeense staatstelevisie) met een program, vyf privaat kanale wat landwyd uitsaai, drie Russiese programme, Euronews, CNN asook 'n aantal privaat streekskanale in. Daar is openbare en privaat radio-uitsaaiers.

Dagblaaie verskyn in Armeens (Azg, Hayastani Hanrapetutiun, Irawunk en Aravot) en Russies. Die weekblad Noyan Tapan Highlights verskyn in Engels. Die belangrikste nuusagentskappe is ArmenPress (wat deur die staat beheer word), Noyan Tapan, ARKA-sakenuus, Arminfo en Mediamax.

Armeense privaat televisie[wysig | wysig bron]

Armenia TV is deur die Sarkisian-gesin in 1997 as die eerste privaat televisiemaatskappy in die nuutgestigte Republiek van Armenië gestig. Artem Sarkisian, die gesin se patriarg, is 'n bekende televisiepersoonlikheid in die land wat ook erkenning as intellektueel, geskiedkundige en skrywer geniet. Armenia TV was 'n projek wat danksy die inisiatief van sy seuns Bagrat en Vaagn tot stand gekom het en tot die gewildste kanaal in die land ontwikkel het.

In die vroeë 21ste eeu het die televisie-uitsaaier ook na die buiteland begin uitbrei. So het Vaagn Sarkisian in 2008 die USArmenia Television Network as Amerikaanse filiaal en basis vir 'n globale Armeense televisienetwerk gestig. As die gewildste Armeense TV-netwerk in die VSA versprei USArmenia TV sy program vanuit sy hoofkwartier in Burbank, Kalifornië 24 uur per dag as kabel-, satelliet- en internettelevisie vir kykers in die VSA, Kanada en Meksiko.

Vervoer[wysig | wysig bron]

Die nuwe terminaal van die Zvartnots Internasionale Lughawe in Jerewan

Die bergagtige terrein bemoeilik die bou van verkeersroetes en spoorweë. Groot dele van die hooglandgebiede is derhalwe nie maklik toeganklik nie. Die Armeense vervoerstelsel het in 1999 altesaam 852 kilometer se spoorlyne (die spoorlyn tussen Tbilisi, Jerewan en Bakoe is die belangrikste roete) en 16 000 kilometer se paaie behels. Groot dele hiervan moet gemoderniseer word.[24]

'n Opvallende kenmerk van Armenië se vervoerwese is die hoë persentasie motorvoertuie wat met aardgas in plaas van petrol of diesel aangedryf word. Die Armeense departement van vervoer beraam die aandeel gasaangedrewe motors op tussen 20 en 30 persent - 'n rekordgetal in vergelyking met ander Europese lande (drie persent in Nederland, aansienlik minder in Duitsland).[25]

Die rede vir hierdie ontwikkeling is die hoë vervoerkoste van petrol en diesel, terwyl aardgas teen laer pryse per pyplyn uit Rusland ingevoer kan word. Die strategies belangrike Irans-Armeense oliepyplyn is in Maart 2007 in bedryf gestel.

South Caucasus Railways (SCR), 'n dogtermaatskappy van die Russiese Spoorweë (RŽD), het die Armeense spoorwegbedrywighede (met 85 lokomotiewe, 30 elektriese motorwaens, 58 passasiers- en 2 000 vragwaens) by wyse van 'n openbare tender oorgeneem. Die bedrywighede het amptelik op 1 Junie 2008 begin met 'n konsessie vir dertig jaar wat ná twintig jaar met nóg twintig jaar verleng kan word.[26]

SCR beplan om in die eerste dertig jaar 400 miljoen VSA-$ in die plaaslike spoorweginfrastruktuur en 170 miljoen VSA-$ in voertuie te belê. Nuwe spoorweglyne sal tussen Jerewan en Batoemi en tussen Jerewan en Poti gebou word.

Kookkuns[wysig | wysig bron]

Armeense lambredie
Sujuk, in Georgië ook bekend as churchkhela, is okkerneute in druiwesapjellie
Basturma is gedroogde ham wat met 'n mengsel van rissies en knoffel omhul word
Gata

Armenië se wisselvallige geskiedenis het diep spore in die land se kookkuns gelaat. So word Armeense kooktradisies danksy die invloede uit aangrensende streke en lande - die Midde-Ooste, Griekeland en Iran - deur hul veelsydigheid gekenmerk, maar het ook self invloed uitgeoefen op die eetkuns van buurlande soos onder meer Sirië en Libanon. Wedersydse beïnvloeding het daartoe bygedra dat baie Armeense geregte tans ook op Griekse, Turkse en Libanese tafels aangetref word.

Tradisioneel word 'n Armeense middagmaal in die wintermaande met 'n sop begin (spas is 'n Armeense joghurtsop waarin eiers, meel, graankorrels en koljander vermeng word), terwyl in die warm somertyd ligte voorgeregte soos kaas en slaai genuttig word. Voorgeregte word meestal met vars (of gedroogde) en geurige kruie bedien. Gewoonlik word daarna gebraaide vleis met 'n verskeidenheid aartappel-bykosse as hoofdis voorgesit.

Tipiese Armeense geregte is onder meer tolma (maalvleis, rys, uie en geurige kruie word hiervoor in wynblare toegedraai), harissa ('n soort bredie wat van grof gemaalde graankorrels en hoendervleis berei en tradisioneel as Paasgereg bedien word), köfte (maalvleisbolletjies met uie en kruie wat in vleisaftreksel gaargemaak word), chash (gekookte beesvleis met sout, knoffel en lemoensap, gewoonlik bedien met lavash, die Armeense platbrood), chorovats (vleisstokkies met lam-, bees-, vark- of hoendervleis, soms ook vis, word op 'n oop vuur gebraai en met aartappels en groente voorgesit) en basturma (gedroogde en gekruide beesvleis).

Sujuk, 'n sterk gekruide wors, het sy naam ook aan 'n soet nagereg verleen. Hiervoor word okkerneute gesnoer en druiwesap daaroor gesprinkel. Sodra die sap tot jellie klaargekook is, lyk die snoere op klein worsies.

Lavash of Armeense platbrood word tradisioneel in 'n tonir of kleioond gebak en saam met baie geregte voorgesit en dikwels gevul met kaas, geurige kruie en groente.

Armeense maaltye word afgerond met 'n verskeidenheid soet nageregte, waaronder sappige vars of droëvrugte, gata (Armeense botterkoek), Napoleon ('n roomkoek met blaardeeg), pachlava (warm blaardeeg wat met gekapte okkerneute, amandels of pistachioneute gevul en met heuning besprinkel word) en halva ('n mengsel van sesaamsaad, suiker, heuning en plantaardige olies waarby vanielje, kakao, neute, amandels of pistachioneute gevoeg word).

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 (en) The Constitution of the Republic of Armenia (with amendments)”. Constitutional Court of the Republic of Armenia: 5 Julie 1995. URL besoek op 7 Desember 2013.
  2. (en) The World Fact Book – Armenia”. Central Intelligence Agency. URL besoek op 7 Desember 2013.
  3. Հայաստանի Հանրապետության Ազգային վիճակագրության ծառայություն: Հայաստանի Հանրապետության մշտական բնակչության թվաքանակը 2014 թվականի հուլիսի 1-ի դրությամբ
  4. Central Intelligence Agency (CIA) - The World Factbook: Armenia. Besoek op 15 April 2015
  5. Amptelike wisselkoers
  6. (en) Human Development Report 2013”. Verenigde Nasies: 2013. URL besoek op 21 Mei 2013.
  7. (en) Distribution of family income – Gini index”. The World Factbook. Central Intelligence Agency. URL besoek op 7 Desember 2013.
  8. Jasmine Dum-Tragut: Armenien. 3000 Jahre Kultur zwischen Ost und West. Berlin: Trescher 2011, bl. 16
  9. youtube.com: Aghet - Der Völkermord an den Armeniern. Duitse dokumentêr
  10. Dum-Tragut (2011), bl. 56
  11. Armenien - Europäische Gemeinschaft: Länderstrategiepapier für den Zeitraum 2007-2013, bl. 11
  12. Das Große Welt Lexikon in 21 Bänden. Boekdeel I. Mannheim: Bibliographisches Institut & F. A. Brockhaus AG 2007, bl. 456
  13. Duitse Departement van Buitelandse Sake: Armenië
  14. Der Fischer Weltalmanach 2009. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2008, bl. 651
  15. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): Armenien - Das Land in Zahlen
  16. Duitse Departement van Buitelandse Sake - Ekonomie van Armenië. Besoek op 26 Julie 2013
  17. Duitse Departement van Buitelandse Sake: Armenië - Ekonomie
  18. Der Fischer Weltalmanach 2006. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2005, bl. 64
  19. GTAI, 5 November 2014: Wirtschaftstrends Jahreswechsel 2014/15 - Armenien. Besoek op 15 April 2015
  20. www.abendblatt.de, 6 Desember 2013: Der eingefrorene Krieg in Berg-Karabach. Besoek op 9 April 2014
  21. GTAI Germany Trade and Invest, 7 Januarie 2015: Armenien wird Mitglied der Eurasischen Wirtschaftsunion. Besoek op 15 April 2015
  22. netwerk24.com, 23 Maart 2014: Russe droom van Eurasiese Unie. Besoek op 15 April 2015
  23. GTAI, 5 November 2014: Wirtschaftstrends Jahreswechsel 2014/15 - Armenien. Besoek op 15 April 2015
  24. Das Große WELT Lexikon in 21 Bänden. Boekdeel 1: Armenien. Berlyn: Axel Springer 2007, bl. 454
  25. Honorarkonsulat der Republik Armenien: Wirtschaft
  26. eurailpress.de: RZD: Start des Bahngeschäfts in Armenien

Eksterne skakels en bronne[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:

Algemene inligting

Geskiedenis

Nuuswebblaaie

Filatelie


 
Lande van Asië

Afghanistan | Armenië2 | Azerbeidjan1 | Bahrein | Bangladesj | Bhoetan | Broenei | Egipte | Filippyne | Georgië1 | Indië | Indonesië | Irak | Iran | Israel | Japan | Jemen | Jordanië | Kambodja | Kasakstan1 | Katar | Kirgisië | Koeweit | Laos | Libanon | Maledive | Maleisië | Mianmar | Mongolië | Nepal | Noord-Korea | Oesbekistan | Oman | Oos-Timor | Pakistan | Palestina | Rusland1 | Saoedi-Arabië | Singapoer | Siprus2 | Sirië | Volksrepubliek van Sjina (Sjina) | Sri Lanka | Suid-Korea | Tadjikistan | Thailand | Turkmenistan | Turkye1 | Verenigde Arabiese Emirate | Viëtnam

Omstrede gebiede: Abchasië - Nagorno-Karabach - Republiek van Sjina (Taiwan) - Suid-Ossetië - Turkse Republiek van Noord-Siprus

Afhanklike gebiede: Australië: Kerseiland - Kokoseilande | Verenigde Koninkryk: Akrotiri en Dhekelië2 - Britse Indiese Oseaangebied | Volksrepubliek van Sjina: Hongkong - Macau

1. Land deels in Europa. 2. Geografies in Asië, maar gereeld beskou as deel van Europa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings.

Lande van: Afrika Europa Noord-Amerika Oseanië Suid-Amerika