Costa Rica

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Spring na: navigasie, soek
República de Costa Rica
Republiek van Costa Rica
Vlag van Costa Rica Wapen van Costa Rica
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Vivan siempre el trabajo y la paz
(Spaans vir: "Mag die arbeid en die vrede ewig lewe")
Volkslied: Noble patria, tu hermosa bandera
(Spaans vir: "Edele tuisland, jou wonderlike vlag")
Ligging van Costa Rica
Hoofstad San José

9°56′N 84°05′W / 9.933°N 84.083°W / 9.933; -84.083

Grootste stad San José
Amptelike tale Spaans1
Regering Unitêre presidensiële
grondwetlike republiek
Luis Guillermo Solís
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
• van Spanje
• van Meksiko
• van Sentraal-Amerikaanse
Konfederasie

• Erken deur Spanje
• Huidige grondwet


15 September 1821
1 Julie 1823

21 Maart 1847
10 Mei 1850
7 November 1949[1]
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
51 100 km2  (128ste)
19 653 myl2
0,7
Bevolking
 - 2012-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
4 652 459 (122ste)
4 586 353[2]
91 / km2 (107de)
220 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$61,427 miljard[3]
$12 874[3]

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2013-skatting

$48,505 miljard[3]
$10 166[3]

MOI (2012) Green Arrow Up Darker.svg 0,773[4] (62ste)  –  hoog
Gini (2009) 50,7[5] –  hoog
Geldeenheid Colón (₡) (CRC)
Tydsone
 - Somertyd
CST (UTC-6)
CST (UTC-6)
Internet-TLD .cr
Skakelkode +506
1. Mekatelyu, Bribri en Patois word as streektale erken.

Costa Rica, amptelik die Republiek van Costa Rica (Spaans: República de Costa Rica [reˈpuβlika ðe ˈkosta ˈrika]), is 'n klein republiek in Sentraal-Amerika met 'n oppervlakte van 51 100 vierkante kilometer en 'n bevolking van 4,65 miljoen in 2012. Die land grens in die noorde aan Nicaragua, in die suidooste aan Panama, in die noorde en suide aan die Stille Oseaan en die Karibiese See in die ooste.

Die Spaanse benaming vir die land, wat letterlik "Ryk Kus" beteken, was oorspronklik baie misleidend - die gebied was tydens die Spaanse koloniale bewind die mees agtergeblewe streek in Sentraal-Amerika.[6] Aangesien die gebied nie oor enige mineraalbronne beskik het en daar ook geen groot plantasies ontstaan het nie, is daar nouliks negerslawe ingevoer. Selfs die inheemse Indiaanse bevolking was reeds voor die koloniale tydperk baie klein sodat Costa Rica in teenstelling met sy buurlande 'n merendeels Europese blanke samelewing gebly het.

Reisverhale uit die 19de en vroeë 20ste eeu het die land as 'n soort "Switserland in Sentraal-Amerika" beskryf en sodoende na die vreedsame naasbestaan verwys wat sy oorwegend landelike bevolking van relatief welvarende kleinboere gevoer het.[7] Koffieverbouing was die vernaamste inkomstebron.

Sommige van hierdie beskrywings was moontlik oordrewe, maar die land het nogtans ná 300 jaar se koloniale bewind in 1821 van Spanje onafhanklik geword en tot 'n relatief stabiele demokrasie met hoë onderwysstandaarde, 'n hoë lewensverwagting, die hoogste per capita-inkomste in Sentraal-Amerika en min sosiale spannings tussen armes en welvarendes ontwikkel. Volgens die standaarde van die Menslike Ontwikkelingsindeks (MOI) was Costa Rica in 2007 op drie na die mees ontwikkelde land van Latyns-Amerika en 48ste op die wêreldwye ranglys.[8]

Costa Rica handhaaf daarnaas ook hoë ekologiese standaarde as 'n gewilde bestemming vir ekotoeriste en die eerste land wat volgens 'n aankondiging van sy regering in 2007 beplan om tot 2021 'n koolstofdioksied-neutrale samelewing te wees.[9]

Geografie[wysig | wysig bron]

Costa Rica is in die smal suidelike gedeelte van die Sentraal-Amerikaanse landbrug geleë en word in die weste en suidweste deur die waters van die Stille Oseaan en in die ooste van die Karibiese See begrens. In teenstelling met die Karibiese kuslyn en sy homogene landskapsvorm word die Pasifiese kusstreek deur 'n aantal baaie en skiereilande gekenmerk. Die grootste baaie is die Golf van Nicoya, die Golf van Dulce en die Coronadabaai. Die Nicaraguameer en die San Juanrivier vorm 'n natuurlike noordelike grens met Nicaragua, terwyl Costa Rica in die suide aan Panama grens.

Die Irazú is dié hoogste vulkaan van Costa Rica
Die Arenal is die aktiefste en jongste vulkaan van Costa Rica

Drie bergreekse vorm die geografiese ruggraat van die land wat die Noordelike en Karibiese Vlaktes van die Guanacaste-vlaktes en die bergland van die skiereiland Nicoya in die noordweste en van die voorgebergtes en heuwellande in die suidweste skei.

Die noordweste van Costa Rica word oorheers deur die bergreeks Cordillera de Guanacaste, 'n smal ketting van vulkaankeëls, waarvan die vulkaan Orosí 'n hoogte van 1 971 meter bo seevlak bereik. Miravalles (2 020 meter) is een van vyf aktiewe vulkane in hierdie bergreeks. Met sy relatief droë klimaat het Guanacaste tot 'n sentrum van die veeteeltbedryf ontwikkel. Die Cordillera Central of Sentrale Bergreeks, wat by die Guanacaste-reeks aansluit, behels magtige vulkane wat nog nie almal geblus is nie. Irazú is met 3 432 meter die hoogste van hierdie vulkane en was net soos Poás (2 705 meter) in die 20ste eeu nog steeds aktief.[10]

Die Sentrale Bergreeks gaan in die suide geleidelik oor in die lang Valle Central of Sentraal-Vallei. Hierdie vallei met 'n hoogte tussen 1 100 en 1 500 meter vorm danksy sy vrugbare vulkaniese grond en sy gunstige klimaattoestande die demografiese en ekonomiese sentrum van Costa Rica met die hoofstad San José.

Die derde en hoogste bergreeks Cordillera de Talamanca loop tot by Panama. Met die Chirripó Grande (3 820 meter) behels dit ook die hoogste piek van Costa Rica. Die noordwestelike gedeelte van die bergreeks gaan oor in die berglande van Bustamante en Turraberes met hul kenmerkende diep ravyne.

Die Noordelike en Karibiese Vlaktes lyk ten opsigte van hul landskapsvorm baie op mekaar. Ongunstige klimaattoestande met hoë reënvalle van jaarliks tussen 3 000 en 6 000 millimeter het daartoe gelei dat die gebied - met uitsondering van die kusstreek rondom die seehawe Puerto Limón - yl bevolk gebly het. Die ondeurdringbare reënwoud lewer waardevolle houtsoorte op.

Klimaat[wysig | wysig bron]

'n Costa Ricaanse kolibrie

Costa Rica het - behalwe vir die gematigde berggebiede - 'n tropiese klimaat met relatief klein temperatuurskommelings, alhoewel daar as gevolg van sy hoogs verskillende landskapsvorme geen homogene klimaatsones bestaan nie. Die gemiddelde jaarlikse temperature beweeg tussen 31,7 °C in die kusvlaktes en 16,7 °C in die bergagtige binneland. Die reënseisoen duur van Mei tot Desember.

Die noordoostelike vlaktes en die berglande langs die Karibiese See kry dwarsdeur die jaar baie reën (omtrent 6 000 millimeter), terwyl daar in die noordwestelike vlaktes, die skiereiland Nicoya, die bekkens van die bergreekse en teen die oostelike hellings van die Cordillera de Talamanca ook droë seisoene voorkom. In die Pasifiese kusstreke word 'n gemiddelde jaarlikse reënval tussen 2 000 en 3 000 millimeter aangeteken. Die hoogste berggebiede word deur mis met hoë vogtigheid, sterk winde en lae temperature gekenmerk.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Vroeë geskiedenis[wysig | wysig bron]

Die nasionale monument Guayabo

Die oudste argeologiese vondse van menslike nedersettings in Costa Rica dateer uit die periode van voor 8 000 v.C., maar dit wil voorkom asof die gebied in die Voor-Kolumbiaanse tydperk as gevolg van sy lae bevolkingsdigtheid slegs 'n ondergeskikte rol in Sentraal-Amerika gespeel het.[11] Daar is ten minste geen oorblyfsels van groter nedersettings of enige indrukwekkende steengeboue soos in die geval van die meer gevorderde beskawings van die noordelike Sentraal-Amerika of die Andes-streek van Suid-Amerika nie.

Die enigste beduidende argeologiese vindplek in Costa Rica is naby Guayabo, sowat 48 kilometer oos van San José, geleë. Die nedersetting, wat hier ontdek is, het omstreeks 1 000 v.C. ontstaan en gedurende sy bloeitydperk 10 000 inwoners gehad. Die argeologiese vondse uit die gebied, waaronder voorwerpe uit goud en jade asook pottebakkersware, word in verskillende musea in San José vertoon.

Die Spaanse koloniale bewind[wysig | wysig bron]

Die bouvalle van die ou basiliek van Cartago. Die stad is in 1563 as die eerste Spaanse nedersetting in Costa Rica gestig

Toe Christophorus Columbus tydens sy derde en laaste reis op 18 September 1502 naby die huidige Limón voet aan wal gesit het, was daar vermoedelik slegs 'n klein inheemse bevolking van sowat 20 000 mense wat uit 'n aantal stamme met verskillende tradisies bestaan het. Vanweë die goud, wat Columbus van die bewoners ontvang het, het hy die gebied Costa Rica of "Ryke Kus" vernoem. Sy verhale oor rykdomme in die gebied het 'n aantal avonturiere na Costa Rica gelok, maar in plaas van goudskatte het die Spanjaarde in 'n vyandelike omgewing met weerbare inboorlinge, uitgestrekte moerasgebiede en tropiese siektes te doen gekry.

Die Spanjaarde het nogtans daarin geslaag om die gebied te verower en in 1520 by die Kapitanaat-Generaal Guatemala in te lyf.[12] Vroeë pogings om die Atlantiese kusstreke te koloniseer het egter misluk. Eers in 1561 is die weerstand van die inheemse bevolking gebreek, en die Spanjaarde het tot by die hartland van Costa Rica deurgedring. Die koloniale owerhede in Guatemala het in 1563 Juan Vazquez de Coronado as goewerneur na Costa Rica gestuur. Die stad Cartago, wat in dieselfde jaar as administratiewe sentrum gestig is, het tot in 1823 as die hoofstad van Costa Rica gefungeer. Nogtans is gedurende die 17de en 18de eeu alle belangrike politieke besluite in Guatemala geneem, en die Spaanse bewindhebbers het min belang in die nuwe kolonie gestel.

Vanweë die gebrek aan ingevoerde slawe was die Spaanse koloniste genoodsaak om hul land self te bewerk. Die meestal klein plase was beperk tot bestaansboerdery, en sodoende was daar aanvanklik geen sprake van enige noemenswaardige ekonomiese ontwikkeling. Eers vanaf die laat 18de eeu is nuwe nedersettings gestig wat met uitvoere soos koring en tabak beter lewensomstandighede vir hul bewoners verseker het. Die handel met Europa, waarheen veral tabak, balsemolie en huide uitgevoer is, is in die periode tussen 1640 en 1820 deur seerowery in die Karibiese See ontwrig sodat die meeste handels- en uitvoeraktiwiteite na die Pasifiese kus verskuif moes word.[13]

Onafhanklikheid in die 19de eeu[wysig | wysig bron]

'n Posseël van 1863 met die staatswapen van Costa Rica

Op 15 September 1821 het Sentraal-Amerika van Spanje onafhanklik geword, alhoewel die eerste berigte oor hierdie gebeurtenis Costa Rica eers een maand later bereik het. Die land was nou verdeeld oor sy politieke toekoms - terwyl leiers in Cartago en Heredia vir die toetreding tot die nuutgestigte staat Mexiko gepleit het, was hul teenstanders in San José ten gunste van 'n nuwe konfederasie van Sentraal-Amerikaanse state. Ná 'n kortstondige burgeroorlog het San José gewen, en Costa Rica het by die Verenigde Provinsies van Sentraal-Amerika aangesluit, 'n konfederasie wat in 1823 deur Guatemala, Honduras, El Salvador, Nicaragua en Costa Rica gestig is.

In 1824 is Juan Mora Fernandez tot die land se eerste staatshoof verkies. Sy progressiewe beleid was gemik op die uitbeiding van die openbare onderwysstelsel en die bevordering van die koffiebedryf deur middel van landskenkings vir planters. Die sogenaamde koffiebaronne het vinnig tot Costa Rica se nuwe elite ontwikkel en hul invloed doelbewus gebruik om die regering van die eerste president José Maria Castro omver te werp. Sy opvolger, Juan Rafael Mora, het met sy oorwinning oor Amerikaanse avonturiers onder leiding van William Walker 'n einde aan Noord-Amerikaanse pogings gemaak om van Sentraal-Amerika 'n slawestaat te maak en dit by die Verenigde State in te lyf.[14]

In 1839 het die Sentraal-Amerikaanse konfederasie verbreek, en Costa Rica het 'n selfstandige nasie geword. Die huidige Republiek van Costa Rica het egter eers in 1848 tot stand gekom, maar dit was in politieke opsig aanvanklik allesbehalwe stabiel. Ná 'n dekade van politieke onluste het generaal Tomás Guardia in 1870 die mag oorgeneem. Sy bewind as militêre diktator het twaalf jaar lank geduur en was deur 'n relatief progressiewe beleid gekenmerk wat vrye en verpligte primêre onderwys, 'n beperking van die weermag se invloed en die heffing van 'n belasting op die inkomste van koffieboere ingesluit waarmee openbare werke gefinansieer is.

Die piesang-maatskappy, wat deur die Amerikaanse sakeman Minor Keith gestig is, het sedert 1899 as United Fruit Company bekend gestaan. Hierdie maatskappy het 'n belangrike rol by die ekonomiese ontwikkeling van die kusvlaktes gespeel en byvoorbeld die piesang-uitvoerhawens Quepos en Golfito laat bou, tog het Costa Rica in toenemende mate afhanklik geword van buitelandse markte en kapitaal.[15] Danksy 'n kontrak met Minor Keith is die Atlantiese spoorweg gebou wat San José met die Karibiese kus verbind het. In die volgende jare het die land weer teruggekeer tot 'n demokratiese regeringstelsel, alhoewel die politieke situasie eers in die vroeë 20ste eeu as stabiel beskryf kon word.

Die 20ste eeu[wysig | wysig bron]

President Óscar Arias Sánchez in Mei 2006

Die verkiesing van Dr. Rafael Angel Calderón Guardia tot president het in 1940 'n nuwe tydperk van vooruitgang ingelui. Sy beleid het 'n landhervorming, minimumlone en progressiewe belasting ingesluit. Calderón se Verenigde Sosiaal-Christelike Party het met sy weiering om sy neerlaag in die verkiesing van 1948 te aanvaar 'n burgeroorlog veroorsaak. Die oorlog, wat 40 dae gewoed en 2 000 menselewens geëis het, is uiteindelik danksy die steun van die Kubaanse en Guatemalaanse regerings deur die anti-Calderón magte onder leiding van José Maria (Don Pepe) Figueres Ferrer, wat in 1942 as balling na Mexiko gevlug het, gewen.

Figueres het die hoof van die sogenaamde Stigtingsjunta van die Tweede Republiek van Costa Rica geword. Die hervormings, wat deur Calderón begin is, is deur die nuwe bewind gekonsolideer en voortgesit. Die Kommunistiese Party is verban, vroue het stemreg en swart inwoners burgerreg gekry, die Costa Ricaanse weermag is ontbind en vir goed afgeskaf, die ampstermyn van presidente is beperk en banke en assuransiemaatskappye genasionaliseer. Figueres het daarnaas die Nasionale Bevrydingsparty (Partido de Liberación Nacional) gestig.

Die 1980's was as gevolg van die tweede oliekrisis 'n tyd van ekonomiese moeilikhede en sosiale spannings. Hiperinflasie en grootskaalse stakings het die ekonomiese lewe teen die begin van die dekade ernstig ontwrig. Die "piesangkrisis" in die jare 1982 en 1983 was gekenmerk deur permanente stakings van landarbeiders en groot oesverliese. Terwyl die Sosiaal-Demokratiese regering die invloed van vakbonde deur restriktiewe wetgewing probeer inperk het, het multinasionale maatskappye die verbouing van piesangs op die groot Pasifiese plantasies gestaak. Begrotingstekorte en die groot buitelandse skuldlas het Costa Rica se regering gedwing om met internasionale finansiële instellings oor 'n verligting van die finansiële verpligtings te onderhandel.

Toe die Nicaraguaanse bugeroorlog uitgebreek het, het Costa Rica teensinnig by die konflik in sy buurland betrokke geraak nadat sy noordelike grensgebied eers deur Sandinista-rebelle en later deur Contra-magte as militêre basis misbruik is. In 1982 en 1983 het president Luis Alberto Monge met die oog op die gewapende konflikte in Costa Rica se buurlande nogtans die neutraliteit van die land bevestig.

Óscar Arias Sánchez, 'n jong advokaat, is in 1986 met sy voorstelle vir 'n vredesooreenkoms tot president verkies. Sy onvermoeide pogings tot vrede in Sentraal-Amerika het tot die Vredesplan gelei wat in 1987 deur vyf Sentraal-Amerikaanse presidente in Guatemala-Stad onderteken is, en met die Nobelprys vir Vrede bekroon.

Toe oud-president Figueres in 1990 oorlede is, is hy as 'n nasionale held gevier wat Costa Rica se maatskaplike en ekonomiese voortuitgang bewerkstellig en van die land 'n eiland van vrede, stabiliteit en demokrasie in een van die wêreld se mees onstabiele streke gemaak het.

Die 21ste eeu[wysig | wysig bron]

Die huidige president Luis Guillermo Solís

Op 6 Junie 2007 het Costa Rica sy diplomatieke bande met die Republiek van Sjina (Taiwan) ná bykans ses dekades verbreek. President Arias het die noodsaaklikheid van beter politieke betrekkinge met die Sjinese Volksrepubliek as rede hiervoor aangevoer.[16]

In die referendum, wat op 7 Oktober 2007 gehou is, het die Costa Ricaanse kiesers die vryehandelsooreenkoms met die Verenigde State, Sentraal-Amerika en die Dominikaanse Republiek (Tratado de Libre Comercio con los Estados Unidos, Centroamérica y República Dominicana, TLC) met 'n meerderheid van 51,6 persent van die uitgebragte stemme goedgekeur. Die referendum was die eerste van sy soort wêreldwyd. Die politieke debat, wat die referendum voorafgegaan het, was onder meer deur vrese van Amerikaanse oorheersing gekenmerk.[17]

Demografie[wysig | wysig bron]

Etniese verdeling[wysig | wysig bron]

San José, die hoofstad van Costa Rica, is ook die ekonomiese en kulturele sentrum van dié land

Volgens amptelike statistieke het Costa Rica se inwonerstal in 2004 4 253 000 mense met 'n digtheid van 83 inwoners per vierkante kilometer beloop.[18] In teenstelling met die ander lande in Sentraal-Amerika is 87 persent van die bevolking Blankes (merendeels nasate van Spaanse immigrante, met kleiner groepe van Italiaanse, Duitse, Joodse en Poolse afkoms), sewe persent is van gemengde Spaans-Indiaanse afkoms (alhoewel Blankes en Spaans-Indiaanse bewoners vir statistieke doeleindes as 'n gemeenskaplike etniese groep geklassifiseer word en syfers aangaande die eerste twee genoemde etniese groepe sodoende eerder beramings is), drie persent Swartes en Kleurlinge, twee persent Asiërs (veral Sjinese) en een persent (of 41 000 mense) Indiane. Costa Rica het sodoende die kleinste persentasie indigene inwoners wat oorwegend tot die Chibcha-taalgroep behoort en afgeleë bosgebiede bewoon.[19] In die noordwestelike provinsie Guanacaste is 'n groter persentasie van die bevolking van gemengde Spaans-Indiaanse afkoms.

Die buitelandse bevolking bestaan uit Amerikaners, Kanadese, Duitsers, Nederlanders, Britte en ander groepe, terwyl ook talle vlugtelinge uit Nicaragua en Kolombië hulle in Costa Rica gevestig het. Die persentasie Nicaraguaners - waaronder talle seisoenwerkers wat net tydelik in die land bly - word op tussen tien en vyftien persent van die totale bevolking beraam.[20] Ander beduidende groepe politieke en oorlogsvlugtelinge het in die 1970's en 1980's uit Latyns-Amerikaanse lande (veral Chili en Argentinië) en die Sentraal-Amerikaanse El Salvador na Costa Rica gekom.[21]

Tale[wysig | wysig bron]

Die oorgrote meerderheid van Costa Ricane, wat na hulself as Ticos (manlik) en Ticas (vroulik) verwys, praat Spaans as moedertaal. Naas die indigene bevolking is daar nog 'n minderheid Kreoolse Engelssprekendes, meestal Swartes in die oostelike kusgebiede. Hulle is afstammelinge van 19de eeuse Jamaikaanse immigrante, wat as plantasie- en spoorwegwerkers na Costa Rica gekom het, en nasate van negerslawe uit Afrika. Die Engelse kreooltaal aan die Pasifiese kus het tot die Metakelyu- of kuskreeoldialek van Limón ontwikkel.

Verspreiding en verstedeliking[wysig | wysig bron]

Sowat twee derdes van die bevolking is in die sentrale hoogplato van die Valle Central gekonsentreer wat slegs vyf persent van die totale oppervlakte beslaan. Hier lê beduidende stede soos San José (met 309 672 inwoners volgens die sensus van 2000), Heredia, Cartago (38 363 inwoners) en Alajuela (42 889 inwoners). Ander demografiese swaartepunte is Puerto Limón aan die Karibiese kus (56 719 inwoners), die Pasifiese hawestad Puntarenas en die skiereiland Nicoya. Altesaam sestig persent van die bevolking is verstedelik.

Religie[wysig | wysig bron]

Die basiliek Los Angeles in Cartago

Met 92 persent is die oorgrote meerderheid van die Costa Ricaanse bevolking aanhangers van die Christelike geloof.[22] Die grondwet van 1949 verleen aan die Rooms-Katolieke Kerk die status van staatsreligie, maar erken tegelykertyd die beginsel van geloofsvryheid. Net soos in ander Latyns-Amerikaanse lande neem ook in Costa Rica die aantal Protestante vinnig toe, veral as gevolg van sendingaktiwiteite. In 2002 was nogtans 88 persent van die bevolking Rooms-Katolieke teenoor 8 persent Protestante.[23] Baie van die Anglikaanse Kerk se sowat 12 000 aanhangers is lede van die plaaslike Swart gemeenskap. Aanhangers van vrykerke en sektes sluit Jehova se Getuies, Adventiste, Metodiste, Baptiste en Heiliges van die Laaste Dae (Mormone) in.

Immigrante uit Asië (waaronder sowat 40 000 Han-Sjinese), die Middel-Ooste en ander gebiede het tot die vestiging van ander religieuse denominasies bygedra, waaronder die Joodse godsdiens, Boeddhisme, Islam, Baha'í en Hindoeisme.

Kerk en godsdiens speel 'n sentrale rol in die kulturele lewe van die land, en die kerkgeboue fungeer dikwels as die middelpunte van die sosiale lewe waar feeste, seremonieë en ander religieuse en kulturele byeenkomste gehou word.[24] Een van die belangrikste religieuse feesdae in Costa Rica is 2 Augustus, wat ter ere van die Virgen de Los Angeles ("Jonkvrou van Los Angeles"), die beskermheilige van die land, gevier word.

Ekonomie[wysig | wysig bron]

Ekonomiese struktuur[wysig | wysig bron]

Die Amerikaanse vervaardiger Intel se mikroverwekerfabriek in San José lewer 20 persent van Costa Rica se uitvoerwaarde en 4,9 persent van die land se bruto binnelandse produk op

Costa Rica het 'n oop, uitvoergerigte markekonomie. Tradisionele uitvoergoedere soos koffie en piesangs het minder belangrik geword, alhoewel die landbousektor naas die toerismebedryf nog steeds die grootse bron van buitelandse valuta vir die land is. Danksy die beleggings van 'n groot aantal buitelandse maatskappye, veral uit die Verenigde State, het Costa Rica daarin geslaag om sy uitvoere te diversifiseer. Daarnaas sal 'n vryehandelsooreenkoms, wat met die VSA, die ander Sentraal-Amerikaanse lande en die Dominikaanse Republiek aangegaan is, toegang tot buitelandse markte vermaklik. Die ooreenkoms het soos op 1 Junie 2008 nog nie in werking getree nie, aangesien die Costa Ricaanse parlement nog nie oor 'n aantal wette ten opsigte van die liberalisering van die telekommunikasie- en assuransiebedryf, wat tans nog deur inheemse monopolies beheer word, besluit het.

Die ekonomie het in 2006 ten psigte van die bruto binnelandse produk met 8,2 persent gegroei, alhoewel die groeikoers in 2007 tot 6,8 persent verstadig het. Uitvoere het in 2006 met 17,1 en in 2007 met 14 persent toegeneem.[25] In 2007 is daar vir die eerste keer in dekades 'n begrotingsoorskot van 0,65 persent aangeteken. Groter belastingsinkomste het die beplande hervorming van die belastingstelsel minder dringend gemaak.

Die land se vermoë om op internasionale markte mee te ding is tot in laat 2006 deur daaglikse marginale devaluasie van die inheemse geldeenheid colón verseker. Die Sentrale Bank van Costa Rica het op 17 Oktober 2006 besluit om die colón se wisselkoers te teiken om die opstelling van die monetêre beleid te vergemaklik en inflasie doelgerig te bestry. Die inflasiekoers het in 2009 tot 4,05 persent gedaal nadat dit in 2008 nog 13,9 persent beloop het. Die Sentrale Bank het vir 2010 'n teiken van vyf persent vasgestel.

Ekonomiese sektore[wysig | wysig bron]

'n Piesangboom met vrugte
Die krater van die vulkaan Poás is een van Costa Rica se toeristetrekpleisters
'n Windkragsentrale in Tilarán

Binne enkele dekades het Costa Rica se ekonomiese struktuur drasties verander, en die land het van 'n agrariese tot 'n moderne dienste- en nywerheidsekonomie ontwikkel. Die landbousektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk het tussen 1965 en 2009 van 23,5 tot 8,8 persent gedaal, terwyl die dienstesektor tans 61,1 en die industriële sektor 26 persent bydra.

Die primêre sektor speel nogtans steeds 'n beduidende rol op die arbeidsmark - 11,5 persent van alle werknemers was in 2009 in die landbou werksaam. Sowat 40 persent van die totale oppervlakte word as landbougrond gebruik. Die oorgrote meerderheid van Costa Ricaanse boere hou klein en middelgroot bestaansboerderye aan die gang, terwyl groot boerderye en plantasies met meer as 1 000 hektaar oor sowat 'n kwart van die totale landbougrond beskik. Piesangs is die vernaamste agrariese produk in die tropiese vlaktes, terwyl koffie veral in die hoogland verbou word. Die grasvlaktes in die noordweste is geskik vir veeteelt. Belangrike agrariese uitvoere naas piesangs en koffie is kakao, suikerriet en pynappels.

Die mynboubedryf speel 'n ondergeskikte rol in die plaaslike ekonomie. In die weste van die land word goud en silwer gemyn, terwyl Costa Rica se ander minerale en hulpbronne soos mangaan, nikkel, kwiksilwer en swawel net soos die ruoliebronne, wat in die suide ontdek is, tans nog nie ontgin word nie. Die land se bauxietvoorrade word egter vir die opbou van 'n plaaslike aluminiumbedryf gebruik.

Die industriële sektor het tradisioneel op die verwerking van agrariese produkte gesteun; koffiebranderye, houtfabrieke, brouerye en stokerye is volop, maar die meeste ondernemings is relatief klein.

Sedert die 1990's het talle multinasionasionale maatskappye, veral uit die hoëtegnologiesektor, in Costa Rica belê. Die Amerikaanse vervaardiger van mikroverwerkers Intel, wat in 1996 'n aanleg in die land geopen het, het in 2009 met twee miljard VSA-$ tot Costa Rica se uitvoere bygedra.[26] Intel het sy plaaslike bedrywighede in September 2009 verder uitgebrei nadat dele van sy vlokkie-vervaardiging in Maleisië en die Filippyne na Costa Rica verskuif is.

Die vryehandelsones in Costa Rica het ook die stigting van filiale van ander multinasionale ondernemings uit die VSA en die Europese Unie bevorder. Die Deutsche Post AG het in 2003 die vrag- en logistiekmaatskappy CORMAR oorgeneem, terwyl die Duitse maatskappy Ristic AG in 'n moderne aanleg vir die uitvoer van garnale in Puntarenas belê het. Die Duitse Continental AG het met die bou van 'n fabriek vir elektroniese motoronderdele in die nywerheidspark van Alajuela begin.

In die volgende vyf tot tien jare sal buitelandse maatskappye na verwagting veral in die toerismebedryf belê om hotelle, jaghawens, gholfbane en vakansieoorde te bou. In 2007 is altesaam 800 miljoen VSA-$ in die toeristiese infrastruktuur belê, en aansoeke vir verdere projekte ter waarde van 600 miljoen VSA-$ is tot vroeg in 2008 deur die Costa Ricaanse Departement van Toerisme ontvang.

Tans is die toerismebedryf nog voor die uitvoer van vlokkies (Intel) en die landbou (piesangs, pynappels, koffie en spanspekke) die hoofbron van buitelandse valuta. Die inkomste uit die toerismebedryf het in 2007 1,92 miljard VSA-$ beloop, terwyl dit in 2009 reeds 7,5 persent van die bruto binnelandse produk opgelewer het. In 2009 het 1,75 miljoen buitelandse besoekers na Costa Rica gekom, waarby die konsep van ekotoerisme 'n steeds belangriker rol gespeel het. Byna dertig persent van die totale oppervlakte is natuurbewaringsgebiede.

Waterkrag is met 90 persent die belangrikste bron van elektrisiteit, terwyl die land ten opsigte van sy ruolieverbruik heeltemal afhanklik is van invoere. Costa Rica kan tans in sowat 30 persent van sy totale energiebehoefte voorsien.

Buitelandse handel[wysig | wysig bron]

Die uitvoer van goedere en dienste lewer 'n baie belangrike bydrae tot Costa Rica se ekonomie, alhoewel die lopende rekening van die betalingsbalans gewoonlik deur 'n tekort gekenmerk word. Die tradisionele agrariese uitvoergoedere soos piesangs en koffie, sedert die laat 20ste eeu ook pynappels en spanspekke, het in 2006 ondanks groeiende uitvoere nog slegs 16,7 persent van die totale uitvoere veteenwoordig. Geïntegreerde stroombane en mikroverwerkes is tans met sowat 20 persent van die totale waarde die belangrikste uitvoergoedere naas mediese uitrusting en geneesmiddels. Ondanks die inkomste uit die toerismebedryf is daar nog steeds 'n tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans wat met sowat 90 persent met regsteekse buitelandse beleggings gedek word. In 2007 het die totale buitelandse beleggings 1,88 miljard VSA-$ beloop.

Die Verenigde State is tans die belangrikste handelsvennot, alhoewel hul aandeel tussen 2000 en 2007 van 52 tot 39 persent gedaal het. Veral die Asiatiese mark word steeds belangriker vir Costa Ricaanse uitvoere. Die aandeel van uitvoere na die Volksrepubliek van Sjina het in 2006 en 2007 respektiewelik 24 en 27 persent beloop.[27]

Energiebeleid[wysig | wysig bron]

Die regering onder president Arias het in die somer van 2007 aangekondig dat Costa Rica tot in 2012 die eerste klimaat-neutrale and ter wêreld ten opsigte van CO2-emissies sal wees. Om hierdie ambisieuse doelwit te bereik, sal bestaande termiese steenkoolkragsentrales buite bedryf gestel, koolstofdioksiedemissiers van nywerhede en die landbousektor aansienlik verminder en die verkoop van hibriede motorvoertuie bevorder word.

Tans word reeds meer as vier vyfdes van Costa Rica se elektrisiteit in waterkragsentrales opgewek, en danksy grootskaalse herbebossingsprojekte is meer as die helfte van die staatsgebied met reënwoud bedek wat groot hoeveelhede koolstofdioksied absorbeer.[28]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) Central Intelligence Agency (2011). “Costa Rica”. The World Factbook. Central Intelligence Agency. URL besoek op 7 Desember 2013.
  2. (en) El Financiero (20 Maart 2013). “Costa Rica tiene 4,6 millones de habitantes, según corrección del Censo 2011”. El Financiero, Costa Rica. URL besoek op 7 Desember 2013.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 (en) Costa Rica”. Internasionale Monetêre Fonds. URL besoek op 8 Mei 2014.
  4. (en) UNDP Human Development Report 2012. “Costa Rica - Country Profile: Human Development Indicators”. UNDP. URL besoek op 2013-03-15.
  5. (en) Gini Index”. Wêreldbank. URL besoek op 7 Desember 2013.
  6. Lexikon-Institut Bertelsmann (reds.): Das moderne Länderlexikon in zehn Bänden. Gütersloh: Bertelsmann 1979, bl. 255
  7. Lexikon-Institut Bertelsmann (1979), bl. 255
  8. Die UNPD se Menslike Ontwikkelingsverslag 2007/2008
  9. John Burnett (National Public Radio, VSA): Costa Rica Aims to Be a "Carbon Neutral" Nation
  10. Stonehouse, Dr. Bernard (red.): Philips' Illustrated Atlas of the World. Londen: Guild Publishing 1985, bl. 138
  11. Central America.com/Green Arrow Guide: A Brief History of Costa Rica
  12. Lexikon-Institut Bertelsmann (1979), bl. 257
  13. Duitse Departement van Buitelandse Sake - Costa Rica: Geskiedenis
  14. Central America.com/Green Arrow Guide: A Brief History of Costa Rica
  15. www.amerika-live.de: Costa Rica
  16. Der Fischer Weltalmanach 2008. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2007, bl. 115
  17. Der Fischer Weltalmanach 2008, bl. 115
  18. Der Fischer Weltalmanach 2007. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2006, bl. 113
  19. Lexikon-Institut Bertelsmann (1979), bl. 256
  20. www.state.gov
  21. Biesanz, Karen Zubris; Biesanz, Mavis Hiltunen; en Biesanz, Richard (reds.): The Ticos: Culture and Social Change in Costa Rica. Boulder, CO, en Londen: Lynne Rienner Publishers 1998. ISBN 1-55587-737-0
  22. CIA World Factbook
  23. Der Fischer Weltalmanach 2007, bl. 113
  24. Duits-Costaricaanse Handelskamer: Costa Rica - Kultuur
  25. Duitse Departement van Buitelandse Sake - Costa Rica: Ekonomie
  26. Duitse Departement van Buitelandse Sake: Costa Rica - Ekonomie
  27. Duitse Departement van Buitelandse Sake: Costa Rica - Ekonomie
  28. Der Fischer Weltalmanach 2009, bl. 110

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]

Commons-logo.svg
Wikimedia Commons het meer media verwant aan:


 
Lande in Noord-Amerika
Antigua en Barbuda | Bahamas | Barbados | Belize | Costa Rica | Dominica | Dominikaanse Republiek | El Salvador | Grenada | Guatemala | Haïti | Honduras | Jamaika | Kanada | Kuba | Meksiko | Nicaragua | Panama | St. Kitts en Nevis | St. Lucia | St. Vincent en die Grenadines | Trinidad en Tobago | Verenigde State van Amerika
Afhanklike gebiede: Koninkryk van Denemarke: Groenland | Frankryk: Guadeloupe - Martinique - Saint-Barthélemy - Saint-Martin - Saint-Pierre en Miquelon - Clipperton | Koninkryk van die Nederlande: Aruba - Curaçao - Sint Maarten | Nederland: Bonaire - Saba - Sint Eustatius | Verenigde Koninkryk: Anguilla - Bermuda - Britse Maagde-eilande - Kaaimanseilande - Montserrat - Turks- en Caicos-eilande | Verenigde State: Amerikaanse Maagde-eilande - Navassa - Puerto Rico

Lande van: Afrika Asië Europa Oseanië Suid-Amerika