gevorderde soekvorm opsomming uitgebreide opsomming / inhoudsopgawe aflaai rol terug bokant vorige blad volgende blad onderkant rol vorentoe gekoppelde hulp
Nommer: 278975
Illustrasie: foto
Kleur: volkleur

Johannesburg Finaal Bladsy 1


Plaas-aanval eis twee Man brand koelbloedig los op ma en haar dogters

– Danie Toerien –

Mnr. Jooste
eerste trefwoord
`Ek is dood binne. Die skok sal seker eers agterna kom.''

Só het mnr. Fred Joostevolgende trefwoord van Kromdraai, naby Krugersdorp, gisteraand gesê nadat sy vrou, vorige trefwoordLynette, en dogter Ilse (14) gistermiddag koelbloedig in hul plaashuis doodgeskiet is. Sy ander dogter, Yolande (16), is ernstig gewond en per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem.

``Ek was by die werk (in Booysens, Johannesburg) toe ek die nuus kry,'' het Jooste gesê.

``Die hele pad huis toe het ek gehoop daar is 'n eenvoudige verduideliking en dat dit nie waar is nie. Toe ek hier stop en ek sien alles het dit my soos 'n bom getref.''

Volgens die polisie lyk dit asof 'n enkele aanvaller die drie vroue in die huis ingewag en oorval het nadat hulle van die skool af gekom en na verskillende vertrekke in die huis gegaan het.

``Toe Ilse by haar kamer uitgekom het, het sy gesien haar ma word as gyselaar gehou,'' het kapt. Paula Nothnagel, polisiewoordvoerder, gister gesê. ``Sy het na die kluis gehardloop aangesien sy vuurwapens kon gebruik.

``Die aanvaller het haar agternagesit en oorrompel en toe vermoedelik self die kluis oopgesluit en twee .38-rewolwers en 'n .22-pistool gebuit.''

Volgens Nothnagel lyk dit of die aanvaller die drie vroue na een vertrek geneem het en koelbloedig op hulle losgebrand het.

Lynette is in die bors en sy geskiet en Ilse in die maag en ken. Yolande is in 'n bedenklike toestand in die Milpark-hospitaal opgeneem met koeëlwonde aan haar bors, sy en been. Die aanvaller het ook een van die gesin se honde doodgeskiet. ``Dit lyk of die aanvaller hulle wou beroof, want hy het verskeie van die toebehore in die huis by die deur gepak,'' het Nothnagel gesê.

Mnr. Trevor Roberts, 'n bekende in die toerismebedryf in die omgewing, was een van die eerste mense wat by die gesin se huis aangekom het.

``Ek het die huis ingegaan om die huis te beveilig en om te kyk of ek hulle kon help,'' het Roberts gesê. ``Ek het mond-tot-mond-asemhaling op Lynette toegepas, maar dit was te laat.''

Die areakommissaris van die polisie aan die Wes-Rand, asst.komm. Abraham Pietersen, was een van die eerste polisiebeamptes op die toneel.

``Ek het dadelik 'n span saamgestel om die voorval te ondersoek en al die leidrade op te volg,'' het hy gesê.

Albei kinders is in Monument Hoërskool in Krugersdorp.

Yolande sou vanaand toekennings ontvang tydens die prysuitdeling. Ilse se prysuitdeling was gisteraand.

Nothnagel het gesê die moontlikheid word ondersoek dat dieselfde aanvaller vroeër gister 'n vrou op 'n plaas sowat 3 km verder aangeval het. In dié voorval is die vrou geskop en is 'n bos hare uit haar kop geruk waarna die aanvaller probeer het om haar te verkrag.

Die vrou, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, het daarin geslaag om die veld in te vlug. ``Ek is kwaad vir alles en almal,'' het Jooste gisteraand gesê. ``Vir myself ook. Dit gebeur mos altyd met iemand anders.

``Ek verkwalik die regering dat hulle nog niks gedoen het om plaasaanvalle te stop nie.

``Hulle weet dit is 'n probleem, maar hulle doen niks.''

dtoerien@mweb.co.za

gevorderde soekvorm opsomming uitgebreide opsomming / inhoudsopgawe aflaai rol terug bokant vorige blad volgende blad onderkant rol vorentoe gekoppelde hulp