Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Elisabeth Eybers:
26 Februarie 1915 1 Desember 2007
Ena Jansen
2007-12-04 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

As daar een ding was wat Elisabeth Eybers se hart bly kon maak, was dit gedigte wat sy mooi gevind het – die afgelope jare in die besonder dié van Wyslava Szymborska. Tot die laaste was bundels van Szymborska op Elisabeth Eybers se bedkassie, selfs saamgeneem na die hospitaalbed, waar sy ’n baie moeilike week in November deurgebring het.

Sy het haar tot voor haar val heel onlangs nog so verkneukel in die mees onlangse versameling van Szymborska in Nederlandse vertaling: Dubbelpunt (2007), veral ook die ontdekking dat daar op die allerlaaste bladsy sowaar ‘n : gedruk staan. Vir my was hierdie dubbelpunt as titel en tipografiese beklemtoning ook so frappant omdat dit op so ’n uncanny manier aangesluit het by die kort toespraak wat ek by Elisabeth Eybers se negentigste verjaardag gehou het, getitel "Die draaideur van die dubbelpunt". Op 26 Februarie 2005 was sy gelukkig ook self aanwesig in die pragtige gebou van die Doopsgesinde Kerk op die Singel in Amsterdam – die laaste van haar baie skaars openbare verskynings, want sy het absoluut geen erg gehad aan literêre byeenkomste nie. Aanwesig op die eerste ry was ook Elisabeth Eybers se dogters Lisbeth Bradley, Marita en Jeanne Wessels, en die weduwee van haar seun Bert. By die geleentheid is ’n dramatiese toonsetting van haar gedig "Uitsig op die kade" gesing. Thomas Lieske, Hans Ester en ek het gepraat.

’n Draaideur is ’n stel van twee of meer deure wat mekaar kruiselings sny en wat draaibaar is om ’n vertikale as. In een beweging kan jy, by wyse van spreke, tegelyk binne en buite, uit en tuis en wéér tuis wees, kan jy die koue in jou gesig voel, die warmte nog in jou rug, en dan wéér die koue. Wat ek die draaideur van die dubbelpunt noem, is vir my ’n metafoor om die proses te beskryf wat Elisabeth Eybers se Amsterdamse gedigte so kenmerk: die gelyktydige aanwesig stel van verlede en hede, van hier en daar, van lewe en dood. My lesing was gebaseer op één dubbelpunt uit die ongeveer 600 gedigte wat sy die afgelope 46 jaar in Amsterdam geskryf het. Die dubbelpunt staan in haar gedig "1 Desember". Sy het dit ook daadwerklik op 1 Desember 1989 geskryf – die dag waarop die Nederlandse digters Thomas Lieske en Willem-Jan Otten ’n onderhoud met haar gevoer het ter geleentheid van haar 75ste verjaardag in 1990. Die gedig is later opgeneem in haar bundel Respyt (1993):

1 DESEMBER

Die grillige son in die mom van ’n vuurrooi ballon
Laat hom versigtig deur stekelige takke afsak,
word weggesuig in één gulsige horisonhap.

Met sy boggel gekeer na ’n fosforesserende ster
Ontpop ’n maanspaander hom plots uit die spaarsame dag,
Lê op die huiwerige afsluiting silwer beslag.

Dan hemelse manna: ’n hoëveldse Julienag.

Eybers beskryf in hierdie gedig ’n natuurverskynsel wat ook op haar sterfdag, Saterdag 1 Desember, 18 jaar nadat sy die gedig geskryf het, sigbaar was as jy toevallig wes gekyk het teen halfses. Iemand wat Eybers se gedig "1 Desember" gelees het, kan so ’n pragtige sonsondergang nooit anders as in haar woorde sien nie. Veral nie as jy deel is van die groep lesers wat óók met ’n soort bifokale of kontrapuntale visie sowel Suid-Afrika as Nederland op hulle netvlies het nie. Vir hulle is die laaste reël van die gedig des te meer aangrypend. Daarom dan ook dat ek aan alle Eybers-lesers wat op haar 90ste verjaardag aanwesig was, gesê het: "Let op die draaideur van die dubbelpunt. In een beweging draai die winterse Nederlandse toneel op sy as en waaier die Lae Lande in drie woorde oop na ’n ander halfrond, na die gebied rondom Johannesburg waar die 'velde oop lê en die hemel wyd daarbo'. Tussen die titel '1 Desember' en die laaste woord, 'Julienag', beskryf Eybers ’n moeilike grensmoment, ’n liminale toestand, ’n silwer beslaglegging, ’n sonsondergang wat byna alchemisties genoem kan word, maar wat tegelyk so lugtig en speels is danksy die woorde 'ballon', 'plots' en 'ontpop'. En dan praat ’n mens nog nie eens oor die rykdom vervat in die beskrywing van ’n sprokiesagtige silwer aand en die Bybelse woord 'manna' nie."

Die proses van transformasie wat in hierdie kort gediggie plaasvind, is maar één voorbeeld van baie soortgelyke verrassings in Elisabeth Eybers se werk. Gelukkig vir haar lesers is die draaideur-posisie haar gunsteling-plek en is sy haar lewe lank geïnspireer tot nuwe gedigte waarin hierdie dubbelperspektief voorkom. So het sy sewe jaar voor "1 Desember" die gedig "Terug" geskryf. Dit begin so:

Transekwatoriale swaartekrag
het my hierheen gebagger. Elke nag
tregter my terug na my geboorteland,
die einder dobberend tussen son en sand.

In die laaste twee strofes is daar weer so ’n kenmerkende dubbelpunt-perspektief of skarnier-moment.

Verdoof deur duif en merel luister ek na
gedempte reënvoël of skel hadida:
vreemd hoe ek steeds die hede en hier verraai,
sodra ek kans kry gou ’n Kaapse draai

beskryf, onmiddellik ’n landskap vind
waaraan die donkerste gebrek my bind,
hoe agteloos ek draal in dié gebied,
helder oordag selfs, één voet in die niet.

Die moeitevolle proses wat Elisabeth Eybers in 1961 na Amsterdam gebagger het, keer sy in hierdie gedig om en in ’n oogwink draai sy terug, Kaap toe, Suid-Afrika toe. Die frekwensie waarmee sy ontglip het aan die "hier" van haar Nederlandse hede, die lugtigheid, die oënskynlike gemak, was vir my dikwels verstommend. Danksy haar gedigte kan ons haar volg, na daar waar die einder dobber tussen son en sand. Nederland het aan haar die vastrapplek gegee om dit te kan doen. Die verplasingsproses na haar jeug, na Suid-Afrika, vind dikwels in ’n droomtoestand plaas, soms letterlik, ook tydens die baie slaaplose nagte waaroor sy soms geskryf het, maar ook helder oordag wanneer ’n enkele beeld of klank die draaideur van haar herinnering in beweging gebring het. Die dubbelpunt het haar verlei om wispelturig te wees, om skynbaar "agteloos" te wees, verbande te lê, maar toenemend het dit duidelik geword dat hier ’n besondere proses aan die voltrek was; dat sy langsaam en aandagtig deel word van afstand neem: dat die wisselwerking tussen afstand en verbintenis die dwingende krag van haar digterskap is.

Die ultieme gedig waarin hierdie proses beskryf word, is "Uitsig op die kade", waarin woordeloosheid en grensloosheid op ’n verbysterende en ontroerende wyse oorstyg word. In hierdie buitengewoon "wyse" gedig word die skeiding ek/jy, binne/buite, selfs Suid-Afrika/Nederland, afstand/verbintenis, lewe/dood by implikasie opgehef. Die besef dat die dood die laaste sin van die lewe is, dat die mens juis leef om te sterf, word daarin aanwesig gestel. Die dood kan nie in woorde "gemaak" of "gestol" word nie: dit sal gebeur, sonder dat die sin van die lewe noodsaaklikerwys saamgevat kan word in woorde. Dit lê vir altyd aan die ander kant van die dubbelpunt. Nog in die lewe kan die anderkant verken word, maar as jy eenmaal daar is, is die terugkeer onmoontlik. Maar tog: Elisabeth Eybers se gedigte sal ons altyd kan bly herlees, hou haar aanwesig.

In 2005 het ek verwys na een van haar allereerste Amsterdamse gedigte, waarin sy geskryf het:

Voetjie vir voetjie word mens immigrant …
toevallig uit, toevallig tuis, gestrand
op hierdie teennatuurlike terras
sonder om ooit onloënbaar aan te land.

Toe het ek haar toegewens dat sy nog lank en in goeie gesondheid nog lank "gestrand" sal bly in Amsterdam, met een voet op haar leeftyd "in die niet" van sowel Suid-Afrika, soos wat sy in "Terug" skryf, as die hiernamaals waaroor sy haar eie gedagtes gehad het en in een van haar allerlaaste nog ongepubliseerde gedigte verwoord het, maar met die ander steeds in die draaideur van haar waarnemersposisie.

In die allerlaaste gedig, "Waarneming", in haar laaste bundel, Valreep/Stirrup-cup wat op 26 Februarie 2005 in die Amsterdamse Singelkerk aan haar uitgereik is, kom weer ’n dubbelpunt voor. Dit is in een van twee gedigte wat sy vir haar seun Bert geskryf het wat op 2 Desember 2002 oorlede is. Dat ’n dubbelpunt ook ’n voldonge "point of no return" kan wees, was vir haar baie duidelik.

WAARNEMING

"Dit is my seun" het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos ’n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verwoord tot was.

Met groot liefde en dankbaarheid herdenk ek die lewe van Elisabeth Eybers. Sy was ’n dierbare vriendin en ek was my altyd bewus van die uitsonderlike voorreg wat ek gehad het om haar vandat ek 23 jaar oud was en sy byna 60, so goed te ken; sy was vir my ’n bron van groot wysheid en humor. Sy het ‘n gawe gehad om woorde te gee vir soveel wat ons slegs kan vermoed en aanvoel. Sewentig jaar lank het sy gedigte gepubliseer en daarmee ’n absoluut uitsonderlike oeuvre agtergelaat. Presies die helfte van haar lewe het sy in Suid-Afrika gewoon en die ander 46 jaar in Amsterdam: ’n lewe in ’n uitsonderlike balans. Met niks kan ons as lesers haar meer eer nie as om haar gedigte altyd te bly lees, om hulle in ons harte en in ons gedagtes te bewaar.

Ena Jansen
3 Desember 2007



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za

VRYDAG; 07/12/07, TWEEDE UITGAWE
Notas oor Asbesmiddag en ander flieks I
Notas oor Asbesmiddag en ander flieks II

Word 'n Vriend van SNet

Read more about Cornel Judels
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur