Amanda Knox tuis na vier lange jare
2011-10-05 11:56
Seattle – ‘n Tranerige Amanda Knox (24), wat Dinsdag in die VSA aangekom het, het haar ondersteuners bedank vir hulle bystand gedurende haar tyd in Italië.
Knox het ‘n dag nadat sy vrygespreek is van moord en aanranding op ‘n mediakonferensie ondersteuners by die Seattle-lughawe toegespreek.
'n Aangedane Knox het gesê alles is nog onwerklik.
“Al wat nou belangrik is, is om almal te bedank – diegene wat in my geglo het, mense wat my verdedig het, diegene wat my familie ondersteun het”, het Knox gesê voordat sy haar trane weggevee het.
Haar ouers, Kurt Knox en Etta Mellas, het ook almal vir hul ondersteuning bedank.
Theodore Simon, regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt is deur ‘n moeilike tyd wat geen ouer of kind moet deurmaak nie.
Knox is vinnig uit Rome nadat ‘n Italiaanse hof haar van moord en seksuele aanranding vrygespreek het.
Sy is vroeër saam met twee ander tot 26 jaar tronkstraf gevonnis vir haar aandeel in die moord en seksuele aanranding van haar huismaat, Meredith Kercher.
Kercher is in ‘n plas bloed in haar slaapkamer in ‘n kothuis wat sy en Knox gedeel het, gekry.
Knox en Raffaele Sollecito, wat ook sy skuldigbeving geappelleer het, is ook vrygespreek.
Die enigste persoon wat nou aan Kercher se moord skuldig is, is die swerwer Rudy Guede.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP