Saktyd se Christiaan glo aanhouer wen

603193_10151079899075222_135936936_n

“As dit vir jou reg voel en jy weet jy gaan, ten spyte van min geld en lang ure, op jou gelukkigste in die joernalistiek wees, moet jy nooit ooit ooit ophou glo in elke aansoek wat jy indien nie.”

Dít is Christiaan Boonzaaier (26) se raad aan aspirant joernaliste nadat hy ná vier jaar se werksoek in die joernalistiekbedryf aangewys is as die eerste wenner van Saktyd. Christiaan het ’n jaarlange kontrak as joernalis by Huisgenoot losgeslaan.

“Ek kan nie glo ons is die eerste plek wat vir hom ’n onderhoud toegestaan het nie,” het Haidee Muller, ’n joernalis by Huisgenoot en een van die Saktyd-beoordeelaars, oor Christiaan gesê. Volgens Muller het Christiaan haar van die begin af beïndruk, maar hy moes soos al die ander deelnemers homself eers bewys. “In sy geval was eerste indrukke wel blywend.”

“Ek dink hy het die regte temprament, ’n baie goeie houding, hy is ‘n spanspeler, maar ‘n sterk individu en hy is slim,” het Izelle Venter, hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum en Saktyd-beoordeelaar, gesê. “Hy wíl ’n joernalis wees, hy het nie aan die kompetisie deelgeneem vir glans en roem nie.”

Hoe sou Christiaan die Saktyd-ervaring in een woord opsom? “Skouspelagtig.”