Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye: Hier is die Top 50!



Die top 50-liedjies in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog is pas bekendgemaak!


Die top 50 liedjies in die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog is soos volg:

Finaliste in die kategorie vir Tradisionele Musiek (in alfabetiese volgorde):
-Al lê die berge nog so blou
-Die Stem van Suid-Afrika
-Heimwee
-O Boereplaas
-Ou ryperd
-Oukraalliedjie
-Sarie Marais
-Suikerbossie
-Trein na Pretoria
-Zambezi

Finaliste in die kategorie vir Tydlose Treffers (in alfabetiese volgorde):
-Dankie
-Ek verlang na jou
-Karoonag
-Kinders van die wind
-Liefling
-Skipskop
-Sproetjies
-Sprokie vir ‘n stadskind
-Ver in die ou Kalahari
-Waterblommetjies

Finaliste in die kategorie vir Populêre Liedjies (in alfabetiese volgorde):
-Beautiful in Beaufort-Wes
-Blouberg se strand
-De la Rey
-Houtkruis
-Lisa se klavier
-Miljoen
-Pampoen
-Sonvanger
-Stuur groete aan Mannetjies Roux

Finaliste in die kategorie vir raserige musiek (in alfabetiese volgorde):
-Afrikaners is plesierig
-Dans dans dans
-Dis ‘n land
-Ek skyn (heilig)
-Groen trui
-Hemel op die platteland
-Klein tambotieboom
-Mystic boer
-Wat kyk jy
-Sit dit af

Finaliste in die kategorie vir kindermusiek (in alfabetiese volgorde):
-Die ABC
-Die lappop
-Ek’s ‘n dapper muis
-Hansie Slim
-Heidi
-Liewe Heksie
-Siembamba
-Trompie
-Veels geluk liewe maatjie
-Wielie Walie

Tydens die nominasiefase, wat op Sondag, 18 Augustus ten einde geloop het, is meer as 7 800 liedjies ontvang. Die top 50-liedjies is saamgestel uit dié lys nominasies, op grond van die gewildheid van elke liedjie en die hoeveelheid nominasies wat elke liedjie ontvang het.

“Die paneel beoordelaars is van mening dat die top 50-liedjies ʼn goeie verteenwoordiging is van die beste Afrikaanse musiek oor dekades heen,” sê Johan van Rensburg, voorsitter van die paneel. “Daar is sinvolle finaliste in elk van die vyf kategorieë. Hoewel ʼn mens in veral die kategorieë vir populêre en tydlose musiek graag ʼn paar bekende en gewilde liedjies sou wou byvoeg, moes ons volstaan met die tien in elke kategorie, soos bepaal deur ons eie reëls.”

Die kategorie vir raserige musiek het ʼn paar interessante finaliste opgelewer, terwyl daar in die kategorieë vir kinder- en tradisionele musiek ʼn hele paar liedjies opgeduik het wat onder Afrikaanse musiekliefhebbers ou herinneringe sal oproep.

Die paneel beoordelaars, wat toesien dat die proses regverdig verloop, bestaan uit Johan van Rensburg (voorsitter), Anthony Wilson, Anna-Retha Bouwer, Tinus Esterhuizen, Giep van Zyl, Susan Lombaard en Suné van Heerden.

Die eerste stemfase van die veldtog het pas afgeskop, en die publiek kan nou gaan stem vir hul gunstelinge in die top 50.

“Elke deelnemer het 20 stemme in hierdie fase: 15 ja-stemme en 5 nee-stemme,” verduidelik Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media. “Jy kan jou stemme oor al vyf kategorieë versprei, en jy kan enige tyd tydens dié stemfase terugkom om jou stemme te kom verander. As jy dus sien dat jou gunstelingliedjie nie so goed doen soos jy gehoop het nie, kan jy vir dié liedjie meer van jou stemme gee.”

“Hoewel ons doel nie is om ʼn spesifieke liedjie aan ʼn spesifieke kunstenaar te koppel nie, omdat ons uiteindelik ʼn liedjie en sy skrywer wil vereer en nie noodwendig die sanger daarvan nie, is dit noemenswaardig dat daar twee kunstenaars is wat elk al vyf van die top 50-liedjies opgeneem het,” vertel Lombaard. “Dié twee kunstenaars is Laurika Rauch (liedjies in die kategorieë vir populêre en tydlose liedjies) en Carike Keuzenkamp (vyf liedjies in die kinderliedjies-kategorie). ”

Die stemfase duur twee weke, waarna die stemme weer getel sal word om die top 25, vyf per kategorie, te bepaal. Daarna sal die publiek stem vir die vyf kategoriewenners, en uiteindelik vir die één liedjie wat die titel Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye sal ontvang. Die algehele wenner van die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-titel word op Saterdag, 26 Oktober op Jukebox bekendgemaak.

Intussen kan die publiek ook die Ken & Wen-speletjie op die Grootste Afrikaanse Liedjie-webblad speel: Die speletjie gee vir jou ʼn stel van vyf klanksnitte, waarna jy moet luister om dit te pas by die vyf leidrade. Indien jy al vyf antwoorde korrek het, kry jy ʼn inskrywing om vir die prys van die week in aanmerking te kom. Jy kan so veel keer speel soos jy wil. Pryse wat weekliks weggegee word, sluit in ATKV-vakansies, FAK-sangbundels, iPods, wyn, CD’s en boeke.

Een deelnemer aan die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog wen ook aan die einde van die veldtog ʼn vierdag-bootreis vir twee op die MSC Opera, saam met die span van kykNET se Jukebox.

*Kom stem by www.grootsteliedjie.co.za

Sluit ook aan by die veldtog se Facebook-blad: http://www.facebook.com/grootsteliedjie/