Boland wen net-net op nat Wellington

Hannes van Niekerk WELLINGTON. - Die rugbyspan vna die Boland het gisteraand hier in 'n sopnat Boland-stadion in haglike omstandighede 'n oorwinning met 6-4 oor Vaaldriehoek behaal in 'n Bankfin-wedstryd vir Sentrale B- unies. Die rustydtelling was 6-0. Hoewel Vaaldriehoek die enigste drie van die wedstryd gedruk het, het die Boland teen einde sterk teruggekom en was dit nie vir onnodige foute nie, kon hy selfs twee keer gedruk het. Van die begin was dit duidelik dat die Bolanders meer tuis was in die nat toestande. Daar was geen kans vir konstruktiewe spel op die glibberige veld, waarlangs die water enkelhoogte gestaan het nie. Die Boland se agttal het soos verwag stewig geskrum en James Lawrence (haker) het sy gebruiklike vaskoppe gehaak. Die wedstryd is grotendeels onder die twee agttalle uitbaklei en die balle wat agtertoe gegaan het, het nooit verder as die twee losskakels gegaan nie. Die eerste helfte is meestal deur 'n geskoppery gekenmerk. Aan die Boland-kant moet die naam van Martin van der Merwe (agtsteman) genoem word. Van der Merwe het oral opgeduik en met slim spel sy teenstanders uitoorlê. Die Boland se ses punte voor rustyd het gekom van die skopvoet van Bertie Schreuder. In die tweede helfte het albei agttalle met goeie dryfwerk beïndruk. In die 30ste minuut het die Vaaldriehoekers binne die Boland- kwartgebied steelkant gespeel en Bartho du Plessis (flank) het gedruk. Die modderige oppervlakte het skopwerk pale toe baie bemoeilik en sy heelagter, Greame Bouwer, kon nie met die doelskop slaag nie. Hierna moes die Bolanders vir die vale keer, maar weer was dit hul agttal met Chris Snyman aan die voorpunt wat met 'n dryfbeweging teruggeslaan het. In die laaste vyf minute was die Wynboere twee keer oor die doellyn van hul teenstanders, maar is albei kere deur die skeidsregter teruggeroep. Schreuder (linkervleuel) het die Boland se punte met twee strafkoppe aangeteken. Vir Vaaldriehoek het Du Plessis 'n drie gedruk.

rugby