BOEKE

Boekmissionaris

Elsa Joubert in haar studeerkamer.

AMANDA BOTHA

Die skrywer Elsa Joubert het gister haar tagtigste verjaardag gevier met 'n splinternuwe boek op die rak en boonop het oudpres. Nelson Mandela gebel om geluk te sê!

Ná dekades se swerfjare in Afrika het Elsa Joubert uiteindelik in haar tagtigste jaar die gevoel dat sy tuisgekom het.

Eers was daar die aankondiging dat haar boek Die Swerfjare van Poppie Nongena (1978) as een van die honderd beste Afrika-boeke van die eeu gereken word - en toe bel oudpres. Nelson Mandela vandeesweek met verjaardagwense en om te vertel hoeveel haar boeke vir hom in die tronk op Robbeneiland beteken het.

Sedert haar eerste reis in Afrika in 1948 sy het tydens 'n bootreis op die Nyl van die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning verneem het sy haar van die Afrikanerpolitiek vervreemd gevind. Nou, 38 jaar ná die verskyning van 'n reisboek genaamd Die Staf van die Monomotapa, verneem sy van Mandela dat die boek vir hom 'n baken van hoop was. Dit was die eerste keer dat hy kennis geneem het van 'n Afrikaner ``wat die moontlikheid in die oë staar van 'n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika''.

Vir Elsa was die erkenning van haar werk binne die Afrika-milieu die afgelope jaar `` 'n stuk bevryding'' en 'n bevestiging dat sy ``tuisgekom het onder die skrywers van ons kontinent''.

Sy was sedert die sewentigerjare op 'n sending om veral Afrikaners in kontak te bring met die werk van Afrika-skrywers en beskou haarself as `` 'n missionaris'' vir die Afrika-boek. ``Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hulle hulself sien, dís belangrik.''

Sy wou die Afrika-vasteland oopmaak en haar eie mense se belangstelling prikkel in ``die wêreld anderkant die Limpopo''. Só het sy dit ook vir haarself oopgemaak. In Joubert se reisverhale was ook die kiem van haar romans. ``Dit gaan nie net om die onbekende as 'n ander kontinent of 'n ander persoon nie, maar ook om die onbekende wat jy in jouself herken. Ek het altyd gepoog dat my reisverhale 'n tweede reis impliseer. Dit is die reis in jouself na nuwe bestemmings.''

Haar jongste boek, Twee Vroue, is regstreeks gešnspireer deur vroeëre reise. Die eerste verhaal speel hom af in Patagonië, wat sy in 1985 in Argentinië besoek het. Die tweede is gegrond op 'n ervaring in die St. Katherina-klooster in die Sinai-woestyn. ``Ek vind dat ek wanneer ek reis oper is vir 'n situasie en sodoende 'n probleem of iets anders om te ontgin makliker raaksien.''

Miskien juis dáárom het haar romans die een ná die ander 'n reiservaring as prikkel gehad. So wou sy graag haar roman Bonga (1971) in Suid-Afrika plaas, maar dit wou nie werk nie.

Daarna was sy vasbeslote om meer oor haar ervarings in Suid-Afrika te skryf en sy beskou selfs Poppie as die resultaat van 'n reisverhaal 'n reis na die townships slegs 10 km buite Kaapstad, maar wêrelde daarvan verwyderd. ``Iets in my wou en wil steeds die onsiende versperrings afbreek.''

Sy beskou haar sendingroman Missionaris (1988), waarvan 'n Engelse vertalings eersdaags verskyn, as die boek waarin dié behoefte die sterkste tot uiting gekom het. ``Dit kom die naaste aan wat ek wil sê.'' Haar gunsteling-karakter kom uit Die reise van Isobelle (1995), die roman waarvoor sy die Hertzogprys gekry het en wat binnekort in Engels as Isobelle's Journey en ook in Duits verskyn.

``Die karakter wat my die naaste aan die hart lê, is miskien Belle, wat deur apartheid ondergaan. Die punt hier is nie dat sy 'n man in 'n kortstondige liefdesverhouding verloor het nie, maar dat sy haar plek in haar volk verloor het. Sy is van haar inlewing in haar volk beroof net soos sy van haar kêrel beroof was.

``Toe sien sy alles duidelik die enormiteit van wat aangaan in haar land.''

Is dit dalk waar dat sy wat Elsa is haar die heel meeste met Belle kon identifiseer?

Sy is huiwerig as sy ja sê, maar verdedig dat sy in Suid-Afrika in haar taal leef en dat skrywerskringe, veral die destydse Afrikaanse Skrywersgilde, haar anker was. ``Dit het vir my baie beteken dat ons as 'n groep eenders gedink het oor dinge.''

Nou is dit anders. Haar tuiste is nie in 'n groep nie. Haar swerfjare is verby. Sy is finaal tuis onder eie mense.

In 1960, in haar tweede reisboek, Die Verste Reis, het sy dit immers al gestel: ``En ek het geweet dat die verste reis wat 'n mens kan maak, is van mens tot mens, deur die hart.''


BOEKE