Rasgeveg oor ’n lyk

Die enigste ding erger as rassekonflik is rassekonflik in die kerk. In Sendeling deur Saartjie Botha is dit die lyk van ’n ou sendingpredikant wat die byl tussen twee kleurgroepe inslaan.
Ná haar man se dood moet Maria (Lida Botha) reëlings tref dat hy uit hul kerk in die bo-dorp begrawe word. Sy vra ds. Naudé (Stian Bam) dat ’n blok in die kerk oopgehou moet word vir die gemeentelede van die bruin Sendingkerk waar haar man lank leraar was.
Die kerkraad weier egter volstrek en Maria en haar suster Ella (Mary Dreyer) wend hulle tot eerw. Stuurman (Cedwyn Joel) van die Sendingkerk en vra dat haar man uit dié kerk begrawe word. Hy word ook gevra of hy bereid sal wees om ’n blok in sy kerk vir die wit mense van die bo-dorp oop te hou.
Sý gemeentelede het intussen van die bo-dorp se houding teenoor dié van die hul kerk gehoor en sit hul voet neer.
Albei predikante preek ewe hard oor naasteliefde en barmhartigheid, maar dis alles tevergeefs. Die een groep is te trots en die ander te seergemaak.
Die kerk is as’t ware ook ’n karakter in die toneelstuk en die lofgesange deur die bruin kerkkoor maak die gehoor amper deel van die gemeente en die situasie – die hartseer van die weduwee en die hartseer van die gebrek aan versoening.
Dis onmoontlik om nie aangedaan te raak nie as Joel uit volle bors Dit is wel met my siel begin sing. Met Botha en die koor se weergawe van Daar’s bemindes in die hemel was baie gehoorlede in trane. Baie het steeds gehuil toe hulle verby die singende koor in die voorportaal uitstap.
Dié koor, bestaande uit lede van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Promosa en die studentekoor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, en het eers twee weke gelede saam begin oefen.
Dit voeg ’n buitengewone element tot die alreeds baie sterk storie van Elsa Joubert toe en beklemtoon die impak van musiek in ’n emosionele situasie. Dis iets wat almal moet sien.
) Beeld Totiussaal. 55 minute. Vandag 14:00, môre 09:00 en Saterdag 09:00. R90.
Lida Botha vertolk die rol van die weduwee Maria in Saartjie Botha se Sendeling. Foto: Lerato Maduma