Saterdag 28 Desember 2013
 

Tukkies se generaal wil deel in VS-flair



Jóhann Thormählen
Dinsdag 13 Augustus 2013

BLOEMFONTEIN. – Hy is dalk gebore en getoë in Pretoria, maar dit is die Vrystaat se manier van rugby speel waarvan Willie du Plessis hou.

Die Cheetahs se losskakel-aanwins se balverspreiding is hoeka een van sy sterkpunte – iets wat hy én Hawies Fourie, die Vrystaat se agterlyn-afrigter, meen hom maklik hier sal laat inskakel.

Die voormalige Tukkies-generaal sluit hom in November vir twee jaar by die Leeus aan, maar hoop om voor dan sy Curriebeker-buiging as Vrystater te maak. Dit sal die kroon op ’n suksesvolle jaar vir die lid van 2012 én 2013 se Varsitybeker-kampioen span.

Die 23-jarige Du Plessis was nog onlangs in die Blou Bulle se Curriebeker-groep.

Tog behoort hy met Johan Goosen (knie) beseer dalk ook nie net diepte by die Vrystaat te verskaf nie. Die enigste ander twee losskakels in die Vrystaat-kamp is Elgar Watts en Riaan Smit.

Du Plessis is ’n natuurlike spelskepper en sy goeie spelpeil was een van die redes waarom die Jong Bokkie Handré Pollard in 2013 se Varsitybeker vir Tukkies binnesenter gespeel het.

“Ek hou baie van die manier waarop die Cheetahs speel.

“Hulle gooi bietjie die bal rond en een van my sterkpunte is my verspreiding.

“Ek is baie opwewonde,” het Du Plessis gister gesê.

Ná hy in Pretoria gebore en by Affies matrikuleer het, het die losskakel ’n draai by die Haaie gemaak en vir hulle o.19- en o.21-rugby gespeel.

Daarna is hy terug na die Jakarandastad waar hy vir die Bulle se o.21- en Vodacombeker-spanne uitgedraf het.

“Ek het Woensdag ’n oproep van my agent gekry.

“Daarna het dinge baie vinnig gebeur en kry ek skielik die geleentheid om hiernatoe te kom.”

Hy het reeds vanjaar groot hoogtes bereik deur saam met Tukkies die Varsity- en Carltonbeker te verower en het ook vir die Bulle in die Vodacombeker-reeks gespeel.

“Dit sal die kersie op die koek wees om hier Curriebeker te kan speel,” het hy gesê.

Maar hy weet hy sal sy kans moet afwag.

“Ek gaan net elke dag geniet en alles wat ek leer toepas op my spel.

“Ek moet hard werk en hoop vir my kans.”

Fourie is ook in sy skik met Du Plessis se koms, wat meer diepte op losskakel én heelagter verskaf.

“Willie het ’n baie goeie Varsitybeker gehad en is ’n goeie aanvallende losskakel. Ek glo hy sal goed inpas by hoe ons speel.

“Hy gee ook baie goed aan en maak die regte besluite.”

* Naka Drotské, die Vrystaat se afrigter, het gister goeie nuus ontvang dat die heelagter Hennie Daniller nie nou al ’n operasie sal ondergaan nie.

Daniller ervaar reeds sedert die einde van Super-rugby ongemak in sy polsgewrig, maar sal ná die Curriebeker gesny word.

“Dit is gelukkig goeie nuus.

“Hennie is ’n groot steunpilaar in ons agterlyn,” het Drotské gesê.