Noord-Vrystaat wen met puik spanwerk

BLOEMFONTEIN. - Die rugbyspan van die Noord-Vrystaat het Saterdag hier met 'n pragsege van 40-14 oor die Vrystaat in 'n promosie-relegasie-wedstryd 'n stap nader aan afdeling A van Santambank se Curriebeker-reeks gevorder. Pieter Sonnekus se span was met rustyd 21-7 voor teen die Vrystaat. Noord-Vrystaat het vier doele, 'n drie, twee strafdoele en twee skepdoele teenoor die twee drieë en twee strafdoele van die tuisspan behaal. Dit was van die afskop duidelik dat Noord-Vrystaat met mening die Vrystaat wou opdreun, toe Hendrik Daffue, die Vrystaatse slot, platgeloop is en die besoekers 'n strafskop afgestaan het. Die Noord-Vrystaat het gou sy stempel op die spel afgedruk en die Vrystaat met goeie vyftienman-rugby uitoorlê. Pieter Sonnekus, die sterk skrumskakel van Noord-Vrystaat, was 'n ware generaal, wat goed met sy voor- en agterspelers gekombineer het. Hy het sy agttal voortdurend vorentoe laat speel. Sy akkurate taktiese skoppe en skoppe na die grenslyn het die Vrystaat die grootste gedeelte van die wedstryd op die verdediging geplaas. Noord-Vrystaat het die botoon in alle afdeling gevoer. Hy het die lynstane met 17-10 gewen (rustyd 6-6) en die losskrums met 15-8. Halfpad deur die tweede helfte is die Vrystaat ontwrig toe sy losskakel, Goggie van Heerden, die veld met 'n beenbesering moes verlaat. Frans Wessels het as plaasvervanger op die veld gekom om in die plek van Helgard Muller te speel wat Van Heerden as losskakel vervang het. Die Vrystaat het probeer om met die bal te hardloop, maar daar is te veel hanteerfoute gemaak en die Noord-Vrystaat se dekverdediging het nooit skiet gegee nie. Die wedstryd was 'n persoonlike triomf vir Eric Herbert, losskakel van Noord-Vrystaat. Hy het twintig punte behaal (vier doelskoppe, twee skepdoele en twee strafdoele). Dit lyk na 'n onbegonne taak vir die Vrystaat om op 8 Oktober in Welkom 'n agterstand van 26 punte in die tweede been van die promosie-relegasie-wedstryd uit te wis. Benewens Herbert se bydrae, het Jan Breedt (flank), Pieter Sonnekus, Thys Badenhorst (flank), Jacques Nell (heelagter) en Koos Oosthuizen (vaskopstut) drieë vir Noord-Vrystaat gedruk. Vir die Vrystaat het Chris Badenhorst (regtervleuel) twee drieë behaal. André Joubert (heelagter) het met twee strafskoppe geslaag. - (Sapa)

Rugby