Puntjie se spook nie Romeins

DATE BEUKES, Rickettstraat 6, Parow, skryf: Daar is 'n geloof dat 'n spook hom nie laat onteer nie. Ten einde Puntjie se Spook te laat rus, is dit noodsaaklik om Maria Stagg se storie in Menings van 9 Mei (''Romeinse soldaat dwaal steeds rond by Puntjie'') reg te stel. Ten eerste is die Puntjie, en die plaashuis waar die spook dwaal, by die mond van die Duiwenhoksrivier sowat 12 km oos van die Breërivier se mond. Ten tweede is dit 'n Engelse, en nie Romeinse spook nie, en die korrekte storie is soos volg: OPGEHANG Die ou opstal is deur 'n boer, sy vrou en beeldskone dogter bewoon. By die boer was 'n gedroste Engelse soldaat in diens as 'n kneg. Op 'n dag is die boer en sy vrou met 'n perdekar na Riversdal, en sy dogter en die soldaat was dié dag alleen op die plaas. By hul terugkeer laat die nag, was daar geen teken van hul dogter of die soldaat nie. 'n Soektog in die donker het niks opgelewer nie. Die volgende môre het die boer die liggaam van die soldaat op die solder van die opstal gevind waar hy homself aan 'n balk opgehang het. Die dogter se klere is later op 'n klip langs die rivier - waar die hek wat toegang tot die plaas verleen, vandag is - gevind, maar sy self is nooit opgespoor nie. GEHUIL Daar word vertel dat daar van daardie dag af vir baie jare die gehuil van 'n vrou langs die rivier gehoor is en dat die soldaat gereeld in en om die huis gemarsjeer het. Die laaste mense wat beweer het dat die spook nog bedrywig is, was 'n familie Van Zyl wat in die vyftigerjare die opstal bewoon het. Volgens lede van dié gesin het die soldaat met gereelde tussenposes sy opwagting gemaak - kompleet met uniform, helm en geweer - en het die gehuil van 'n vrou vanaf die rivier opgeklink. Sover bekend het niemand daarna ooit weer die spook of spoke gesien nie.

briewe spoke