‘N KORT HISTORIESE OORSIG OOR DIE ONTSTAAN VAN DIE SKOOL EN DIE EERSTE 35 JAAR VAN SY BESTAAN VOOR DIE BEGIN

Elke skool het ‘n joernaal waarin rekord gehou word van die aktiwiteite van die skool. Vanaf die openingsdatum van Kuswag Skool op 20 Januarie 1970 is so ‘n joernaal dan ook gereeld bygehou. Dit is egter vóór hierdie datum – “voor die begin” – wat daar weinig op rekord geplaas is en waaroor die grootste gedeelte van hierdie oorsig handel.

Voor 1970 was daar aan die hele Natalse Suidkus van Durban tot by Port Edward geen skoolfasiliteite aan die Afrikaanssprekende hoërskoolleerder beskikbaar nie. Hierdie leerlinge is dus met een van twee keuses gelaat: skryf vir jou hoërskoolloopbaan in by Port Natal- of Saamwerk-Hoërskool in Durban of bly in Amanzimtoti maar skakel oor na Engelsmedium. Die eerste opsie het groot onkoste en ongerief meegebring, gewoonlik met ‘n gepaardgaande verbeuring van die geleentheid tot deelname aan buitemuurse aktiwiteite, terwyl die tweede opsie die Afrikanerkind sy reg ontneem het om sy hoërskoolopleiding deur medium van sy moedertaal te ontvang. Tot 1965 was Graad 8-klasse (toe nog standerd 6) nog deel van die primêre skool, waar die Afrikaanssprekende leerder gelukkig nog in die Warnerstrandse parallelmediumskool sy onderrig deur medium van Afrikaans kon kry. Vanaf Januarie 1966 sou Graad 8-klasse egter na die hoërskool verskuif met die gevolg dat nog ‘n jaargroep Afrikanerkinders hulle reg tot moedertaalonderrig ontneem is.

Aangesien die Afrikaners van Amanzimtoti en omgewing hierdie rondstotery deur ‘n Engelsgesinde Natalse Onderwysdepartement nie langer kon verduur nie, het Kajuitraad Suidkus op sy vergadering van 15 Junie 1965 besluit om tot aksie oor te gaan en “te werk vir ‘n Afrikaansmedium hoër- en laerskool aan die Natalse Suidkus.” Die Natalse Onderwysdepartement het intussen van die Afrikaanse ouergemeenskap verwag om hulle vertoë vir ‘n Afrikaansmedium hoër- en laerskool te rugsteun met die voorsiening aan die departement van die getalle van leerders wat op daardie stadium deur medium van Afrikaans onderrig ontvang het in die Warnerstrandse Primêre Skool. Hierdie leerders sou dan die kern vorm van ‘n moontlike nuwe Afrikaansmediumskool wat in sy eerste bestaansjaar klasse van Graad 1 tot Graad 8 (toe nog standerd 6) sou aanbied, die volgende jaar tot Graad 9 en uiteindelik na 5 jaar sy eerste volwaardige matriekklas (Graad 12) sou hê.

Toe die ouergemeenskap mnr Hennie Spies, die toenmalige hoof van die Warnerstandse Primêre Skool, vir hierdie getalle nader, het

hy geweier om dit te verstrek aangesien dit “vertroulike inligting” was. Dit was een van die eerste smakies wat die Afrikaanse ouergemeenskap gekry het van die Natalse Onderwysdepartement se halsstarrigheid om ‘n eie skool aan die Afrikanerkind te voorsien. Vir ‘n relatief klein en ongeorganiseerde Afrikanergemeenskap om hierdie getalle-inligting te bekom, was dit ‘n redelik onbegonne taak. Die NG Kerk se destydse leraar, ds Frans Cloete, wat lid van Kajuitraad Suidkus was, het van die kerk se kant af hulp aangebied, maar die inligting wat deur ds Cloete se diakens ingesamel is, was uiteraard onvolledig. Gelukkig het een van die onderwyseresse by die Warnerstandse Primêre Skool tot die Afrikanerkind en -ouer se redding gekom en die nodige inligting voorsien. As gevolg hiervan het sy haar onderwyspos verloor, maar gelukkig kon sy in ‘n ander onderwysdepartement met ‘n pos gehelp word. Sy het later by Kuswag skoolgehou!

Intussen het daar uit ‘n heel onverwagte oord welkome hulp opgedaag: tydens die tweejaarlikse verkiesing van die Adviesraad (die destydse eweknie van wat deesdae die Beheerliggaam is) van die Warnerstrandse Primêre Skool was vier van die sewe ouers wat tot raadslede verkies is, Afrikaanssprekend gewees. Hulle was Piet Badenhorst, George Smit, Nils Rodseth en Danie van der Spuy. Laasgenoemde is as voorsitter en eersgenoemde as sekretaris van die raad verkies. Aangesien hierdie Adviesraad amptelik deur die Natalse Onderwysdepartement erken is as spreekbuis van die ouergemeenskap, het die Afrikanerouer op dié wyse ‘n voet in die deur gekry. Van die eerste onderhoud wat die voorsitter en sekretaris van die nuutverkose raad op 6 September 1966 met die destydse Natalse Direkteur van Onderwys, mnr LJ Biebuyck, gevoer het om te pleit vir fasiliteite vir die Afrikaanse hoëerskoolleerder, het weinig tereg gekom. Gedurende 1967 is verskeie moontlikhede ondersoek ter oplossing van die probleem. Die mees haalbare plan het geblyk te wees om die Engelsmedium leerders van die Warnerstrandse Bewaarskool in Radbourneweg oor te plaas na die Warnerstrandse Primêre Skool en dan die Afrikaansmedium leerders van Graad 1 – 8 oor te plaas na die klaskamers van die Warnerstrandse Bewaarskool. Die drie Engelssprekende lede van die Adviesraad het hierdie “omruil”-gedagte gesteun met die gevolg dat die Adviesraad ‘n eenparige versoek vir dié “omruiling” aan die Natalse Onderwysdepartement kon rig, ten einde ‘n proses aan die gang te sit om fasiliteite vir die Afrikaanse hoërskoolleerder daar te stel. Dié versoek is aan die Departement gerig in die Adviesraad se skrywe van 1 Oktober 1967. Die meerderheid Engelssprekende ouers was egter glad nie gediend met die gedagte dat een van “hulle” skole aan die Afrikaanssprekende kind afgestaan moes word nie. Mev dr Fairbairn (lank gelede reeds ge-emigreer na Australië) met haar dames-organisasie het kwaai georganiseer en tydens die tweejaarlikse ouervergadering in Februarie 1968 is al die lede van die bestaande Adviesraad van die Warnerstrandse Primêre Skool (ook die drie Engelssprekende “verraaiers”) uitgestem en ‘n Adviesraad van sewe Engels-sprekende lede is vir die parallelmedium skool verkies.

Op 10 Mei 1968 het Piet Badenhorst, George Smit en Danie van der Spuy in hulle persoonlike kapasiteit die volgende skrywe aan die nuwe Adviesraad van die Warnerstrandse Primêre Skool gerig: “Aangesien die Afrikaanssprekende kind op die oomblik glad nie verteenwoordig is op u Komitee nie, word hierdie skrywe aan u gerig deur die drie lede van die vorige Komitee wat kinders in die Afrikaansmedium klasse het. Ons verneem graag of u Komitee ten gunste is van die stigting van ‘n Afrikaansmedium skool in hierdie gebied.”   Die skrywe is afgesluit met ‘n volledige motivering vir die noodsaaklikheid van veral ‘n Afrikaansmedium hoërskool. In antwoord op hierdie skrywe is ‘n brief, gedateer 16 Mei 1968, ontvang, wat woordeliks weergegee word: “Met verwysing na u brief gedateer 10de Mei, 1968 aan die komitee……… wil ek u graag meedeel dat die voorstelling van die aanbrengs van ‘n Afrikaanse Laerskool ten volle bespreek sal word met die volgende byeenkoms van die Komitee, na die Julie vakansie. Hoewel in die tussentyd is die voorsitter van die Komitee van die inhoud van u brief inkennis gestel. Hy het onderneem om persoonlik aan die Natalse Onderwys Departement te skryf in hierdie verband. ‘n Kopie van sy brief sal kortliks aan u verkrygbaar gestel word.”   Daar is nooit weer van dié komitee gehoor nie. ‘n Mens kan maar net raai wat die voorsitter alles aan die “Natalse Onderwys Departement” geskryf het ! Die Afrikaanse ouergemeenskap was hierna derhalwe met geen ander keuse gelaat as om ‘n eie Afrikaanse ouerkomitee te stig ten einde die belange van die Afrikanerkind na behore te behartig nie.

Onder leiding van Kajuitraad Suidkus is die Suidkus Afrikaanse Ouerkomitee op 11 Junie 1968 gestig, met Danie van der Spuy as voorsitter, ds Fonnie du Toit as ondervoorsitter en Boela Naude as sekretaris. Op 8 Augustus 1968 spreek die voorsitter en sekretaris van die nuutgestigte komitee mnr PRT Nel, wat intussen oorgeneem het as Direkteur van die Natalse Onderwysdeparte-ment. Gelukkig was mnr Nel die saak van die Afrikanerkind goedgesind. Hy het die afvaardiging oorreed om af te sien van die gedagte van ‘n “omruiling” van die Warnerstrandse skole. As alternatief het hy namens sy departement die volgende aanbiedinge aan die Afrikaanssprekende ouergemeenskap van Amanzimtoti en omgewing gemaak:

Tydelike klaskamers sal opgerig word op die 5,7 akker grond op die hoek van Bernadotte- en Froststrate.
Hierdie klaskamers sal gereed wees om in Januarie 1970 betrek te word.
‘n Stuk grond van ongeveer 25 akker tussen Pahla-stasie en die snelweg sal deur die Natalse Onderwysdepartement van die Amanzimtoti Munisipaliteit aangekoop word vir die oprigting van latere permanente skoolgeboue.

Op sy vergadering van 21 Augustus 1968 neem die Suidkus Afrikaanse Ouerkomitee die Natalse Onderwysdepartement se aanbiedinge met dank aan. Bogenoemde aanbiedinge is bevestig deur die volgende uittreksel uit ‘n skrywe, gedateer 10 Desember 1968, wat die Ouerkomitee van die Natalse Onderwysdepartement ontvang het (tipies NOD is die brief in Engels gerig): “………. the Director of Building Services………….. has been asked to make preparations for this new prefabricated school which should be ready for occupation at the beginning of 1970.” Hierdie skrywe is opgevolg met die volgende NOD-skrywe (natuurlik ook in Engels), gedateer 6 Februarie 1969: “I have to inform you that the Administrator-in-Executive Committee has agreed

that a prefabricated high school is to be provided on Lot 1071 of Amanzimtoti as from the beginning of 1970;
that the question as to whether this school will be a single medium (Afrikaans) school, be determined by the initial enrolment of the school.”

Interessant om te let op die Natalse Onderwysdepartement se beleid dat die medium van onderrig van ‘n skool bepaal word deur die inskrywing op die eerste skooldag. In die praktyk was hierdie beleid egter net van toepassing op (moontlike) Afrikaansmedium skole. Engelsmedium skole, byvoorbeeld Athlone Park Primêre Skool, is gebou “in expectation of demand” en is lank voor sy openingsdag reeds deur die NOD as ‘n Engelsmedium skool ge-oormerk. Net maar nog ‘n voorbeeld van hoe die totstandkoming van ‘n Afrikaansmedium skool opsetlik deur die Natalse Onderwysdepartement bemoeilik is. Die huidige regering se antipatie teen Afrikaansmedium skole is dus in werklikheid nie ‘n nuwigheid nie. Die Afrikaner in Natal ken hierdie houding reeds vir dekades lank!

DIE BEGIN

Dit was ‘n groot dag vir die Afrikaners van Amanzimtoti en omgewing toe die “Afrikaansmediumskool van Amanzimtoti”, soos wat Kuswag aanvanklik bekend gestaan het, op Dinsdag, 20 Januarie 1970, geopen is met mnr Cas Bornman as skoolhoof, mnr Danie Bezuidenhout as onderhoof, twaalf personeellede en ‘n leerdertal van net oor die 300. Gedurende 1969 het die Suidkus Afrikaanse Ouerkomitee hard daaraan gewerk om te verseker dat die medium van onderrig in die skool waarvoor hulle so hard moes baklei, Afrikaans sou wees. Onder die 300+ leerders wat op die eerste dag ingeskryf is, was daar nie ‘n enkele Engelsmantjie nie! Inskrywing nr 1 in die skool se toelatingsregister was Pieter van der Spuy, tans ‘n onderwyser by Kuswag Skool. Aan die begin het dinge maar moeilik gegaan: dit was warm in die opslaanklaskamers, (wat die Engelse gemeenskap sommer vroeg-vroeg die “Cardboard College” gedoop het), stoele en lessenaars is nie betyds afgelewer nie, met die gevolg dat die leerders aanvanklik op die vloere moes sit, en sport moes op Hutchisonpark beoefen word aangesien die skool se sportterrein nog nie ontwikkel was nie. Maar mnr Bornman en sy Gideonsbende het vasgebyt en deurgedruk.

Op 7 Augustus 1970 is die skool amptelik deur die Direkteur van Onderwys, mnr PRT Nel geopen. Die Adviserende Skoolkomitee (ASK), die nuwe naam vir die Adviesraad, het kompetisies uitgeskryf om ‘n naam, ‘n leuse, ‘n wapen en ‘n skoollied vir die skool te bekom. Die naam “Hoërskool Kuswag” is in Mei 1972 deur die Natalse Onderwys-departement goedgekeur. (Die ASK se oorspronklike voorlegging van “Hoërskool Suidkus” was nie vir die NOD aanvaarbaar nie en daarbenewens was hulle ook nie baie haastig met hulle goedkeuring nie), terwyl die leuse, wapen en skoollied moes wag vir die goedkeuring van die naam). Die leuse “Net ons beste” is later dieselfde maand deur die ASK goedgekeur en die skoolwapen in Augustus 1973. Aangesien ‘n geskikte skoollied nie so maklik gevind kon word nie, het die ASK naderhand die Vrystaatse Inspekteur vir Musiek, mnr Dirkie de Villiers (seun van ds ML de Villiers, komponis van “Die Stem”) in hierdie verband genader. Op 19 Oktober 1977 het “Oom Dirkie” self die skoollied, waarvan sy eggenote, Dol, die woorde en hy die musiek geskryf het, by Kuswag kom “aflewer”. Hy het sommer gou-gou ‘n klompie leerders rondom die vleuelklavier saamgetrek en een-twe-drie het hulle onder sy leiding en begeleiding die skoollied uit volle bors gesing.

Die groei van die skool was bemoedigend vinnig. Aan die begin van 1971 was die inskrywing 446, in 1972 624 en in 1973 717, wat meegebring het dat die skool opgegradeer is tot HI. In 1974 het Hoërskool Kuswag sy eerste matriekklas gehad met Eben Cruywagen (tans verbonde aan Radio-Sonder-Grense in Kaapstad) as eerste hoofseun en Makkie van Blommenstein as eerste hoofdogter. Op 25 Januarie 1974 word begin met die gelykstoot van die terrein van die huidige skool en in 1976 kon daar alreeds rugby gespeel word op die nuwe velde, terwyl die bou van die klaskamers vinnig voltooiing genader het.

Op 6 Desember 1976 vind die “groot trek” plaas toe beide die laer- en hoërskool na die nuwe geboue toe oortrek. Die nuwe skoolgeboue word op 3 November 1978 amptelik geopen deur die Administrateur van Natal, Sy Edele W W B Haveman. Die eerste tennisbane word gedurende 1979 gebou en aan die einde van die jaar afgelewer. Natuurlik moes daar ‘n nuwe pad na die hoofingang van die skool gebou word – en dié pad moes ‘n straatnaam hê. Mnr Dirk de Swardt, destydse adjunkstadsklerk van Amanzimtoti, was ‘n lid van die ASK en het aan die skool die geleentheid gebied om ‘n naam te kies: vandaar KUSWAGLAAN.

Om ‘n swembad vir die skool uit die departement te kry, was ‘n ander storie. Voordat die departement die bou van ‘n swembad goedgekeur het, moes die skool ‘n waarborg verskaf dat hy helfte van die koste (op daardie stadium ongeveer R10 000) sou dra. Die hoof was huiwerig maar is deur die ASK-voorsitter oorreed om wel hierdie waarborg te gee. So gesê so gedoen. Terwyl die swembad in aanbou was, het die departement sy beleid verander en besluit om die volle boukoste van swembaddens te dra!

NA DIE BEGIN

In Junie 1981 tree die eerste hoof van Hoërskool Kuswag, mnr Cas Bornman, met pensioen af. Vir die volgende ses maande neem die adjunkhoof, mnr Chris van Rensburg waar, en word hy vanaf Januarie 1982 amptelik aangestel as die skool se tweede hoof – steeds van ‘n skool waarin laer- en hoërskoolleerders in een kompleks gehuisves word. Die werk aan die bou van permanente klaskamers op die terrein van die ou “Cardboard College” vorder egter fluks en aan die einde van 1985 word die pragtige nuwe laerskool voltooi en op 15 Januarie 1986 betrek, met mnr Max Röscher as die eerste skoolhoof van Kuswag Primêre Skool. Teen die middel van 1987 staan die gesamentlike roltal van die moeder- en dogterskool op 1 026: 552 Primêre Skool-leerders met 24 onderwysers en 474 Hoërskool-leerders met 31 onderwysers. Onder die bekwame leiding van mnr Van Rensburg het Hoërskool Kuswag ontwikkel tot ‘n baie suksesvolle en bekende skool. Met die hulp van ‘n klompie vrywillige helpers het hy eiehandig die bestaande pawiljoen by die hoof-rugbyveld gebou en het Kuswag se musiekskool ook tot stand gekom. Mnr Van Rensburg is in Desember 1992 bevorder tot hoof van Voortrekker Hoërskool in Pietermaritzburg en is in Januarie 1993 deur sy adjunkhoof, mnr Pierre van Wyk, opgevolg as hoof van Hoërskool Kuswag.

Tydens mnr Van Wyk se hoofskap is R37 000 bewillig vir die opknapping van die destydse “Spankamer” in ‘n lokaal wat herdoop is tot “Klubhuis Niemandsland”. In gesamentlike pogings van die Kuswag Ondersteunersklub en die Kuswag Klubhuis-komitee is daar gedurende die afgelope tien jaar ‘n verdere sowat R70 000 ge-in en bestee om van hierdie klubhuis die trots van Kuswag te maak. Ongelukkig was Hoërskool Kuswag en Kuswag Primêre Skool as gevolg van dalende leerder-getalle genoodsaak om aan die begin van 1994 weer eens saam te smelt ten einde klaskamerruimte volgens departementele vereistes te vul. Dit het die naam “Kuswag Skool” tot gevolg gehad, asook die uitdienstreding van mnr Max Röscher. Mnr Pierre van Wyk was toe die hoof van die “gesamentlike” skool totdat hy aan die einde van 1997 die tuig neergelê het en die adjunkhoof, mnr Jan Niemand, vir die daaropvolgende nege maande as hoof waargeneem het. Op 28 September 1998 het mnr Petrus Pettit diens aanvaar as hoof van Kuswag Skool. Mnr Chris Lindeque neem waar as skoolhoof vanaf Oktober 2005. Mev Linda Scholtz aanvaar die hoofskap in Februarie 2007.